Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
My 3 bestes

‘Weekliks’  het skrywers gevra watter drie boeke het die grootste indruk op hulle gelaat.

Marita van der Vyver

Getrou aan Marita van der Vyver se veeltalige lewe is haar drie boeke ook in drie verskillende tale. Dié produktiewe, bekroonde en veelsydige skrywer bly in Frankryk. Haar jongste roman is Misverstand.

Die volledige sprokies van die broers Grimm. Dis moeilik om te dink aan ’n boek wat my lewe meer beïnvloed het. Ek het grootgeword met baie van hierdie sprokies, en as jong volwassene het ek hulle almal in die oorspronklike Duits gelees om in Afrikaans te vertaal. Daarna het ek heerlik met die sprokies gespeel in my eerste volwasse roman, Griet skryf ’n sprokie. En hulle verskaf my steeds eindelose vreugde.

The Second Sex deur Simone de Beauvoir. Ek het dié Franse hoeksteen van feminisme in Engels gelees terwyl ek ’n student was. Daarna kon ek nooit weer op dieselfde manier na “gender” kyk nie. Ek het geleer dis nie ’n skande om feministies te wees nie, dis eerder ’n skande vir ’n denkende vrou om dit nie te wees nie.

The Complete Works of William Shakespeare. Dit voel soos kroek omdat dit ’n klomp dramas en sonnette is, maar dis onmoontlik om ’n enkele gunsteling te kies! Op skool het Romeo and Juliet my betower, as student was ek gek na Hamlet, deesdae is dit veral King Lear wat met my praat. Ek het nog altyd iets vir elke seisoen van my lewe in Shakespeare se wonderwerke gevind.

Daniel Hugo is ’n veelbekroonde digter en vertaler.

Henno Martin: Vlug in die Namib. Ek het in die 1960’s en 1970’s in Windhoek grootgeword – ’n stad in die veld. Ons drie broers het gereeld naweke uitgery om in ’n droë rivierloop te gaan kampeer – wat ’n nuwe dimensie gekry het toe ons die Duitse wetenskaplike Henno Martin se oorlewingsboek Vlug in die Namib gelees het. Daarin vertel Martin hoe hy en ’n vriend gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die loop van die Kuisebrivier gaan wegkruip het om te voorkom dat hulle geïnterneer word. As twee Windhoekers sulke opwindende dinge ’n skrale 20 jaar tevore kon beleef, hoekom nie ook ons nie? Maar die grootste drama wat ons ooit meegemaak het, is dat ’n rooikat een nag ons braaiwors opgevreet het.

Breyten Breytenbach: Voetskrif. Toe dié bundel van Breytenbach in 1976 verskyn het, was ek ’n vierdejaarstudent op Stellenbosch. Dit is geskryf terwyl hy voorafwagtend was op aanklagte van terrorisme, en is die laaste boek van hom wat gepubliseer is voordat hy sewe jaar lank in die gevangenisduister verdwyn het. Die besonder toeganklike gedigte is in klokhelder, beeldryke en kraakvars Afrikaans geskryf. Van Breytenbach se mooiste liefdesverse staan daarin, maar ook van sy mees onthutsende gedigte. Oor die terdoodveroordeeldes in Pretoria se Sentrale Gevangenis skryf hy byvoorbeeld dat hulle sing asof hul lewens daarvan afhang: “en julle weet dat julle lewens gaan hang”. Voetskrif bly vir my ’n ondoofbare lig in die Afrikaanse digkuns.

Dante Alighieri: Die goddelike komedie. Dante se driedelige La Divina Commedia uit die 13de eeu is deur die ginekoloog Delamaine du Toit in Afrikaans vertaal as Die Hel (1990), Purgatorium (1998) en Die Paradys (2002). Vir elkeen van hierdie vertalings, met uitgebreide aantekeninge en kommentaar, is Du Toit deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon. Dante se magnum opus is die belangrikste digwerk in die Christelike wêreld en ’n groot literêre konstruksie. Hy bou ’n kosmos op met ’n matematiese presisie wat jou asem wegslaan. Die beroemde openingsreëls van Dante se “Inferno” klink só in Afrikaans: “Halfpad deur die reis van ons lewe / het ek my in ’n donker woud bevind / daar ek die reguit pad byster geraak het.” Dit is woorde dié wat al ’n paar keer pynlik op my eie lewe van toepassing was!

Valda Jansen, skrywer van Hy kom met die skoenlappers.

“Terwyl ek hieroor peins, besef ek dis eerder skrywers wat vir my uitstaan. In ander tye en omstandighede sal ek seker ander skrywers kies:”

’n Boek wat altyd saam met my is, maak nie saak waar ek woon nie, is Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie. Dié boek karwei ek van een huis na ’n ander, dit reis saam met my van een dekade tot die volgende. Elke keer as sy ’n nuwe boek bekend stel, is dit asof ’n mens wil hê dit moet weer ’n Griet skryf ’n sprokie wees. Jy soek dieselfde krag waarmee die storie jou destyds getref het. Ek herlees dit gereeld en dan staan al jou herinneringe en drome van destyds weer voor jou en jy onthou weer wie jy was.

Wanneer mens lank siek is, het jy behoefte aan die warmte en nabyheid van ’n ma of vriendin. Elena Ferrante se Napolitaanse romans oor die twee beste vriendinne Elena Greco en Lila Cerullo het vanjaar vir my dié rol vervul. Die twee word groot in Napels, Italië, en die vier boeke in die reeks is groot stories van hul lewens, die lief en leed in die vertakkings van families, verhoudings tussen mans en vroue, en veral dié tussen moeders en dogters. My Brilliant Friend en opvolgers was een ná die ander op my skoot tydens maande lange chemoterapie-sessies. Die dik boeke het my vriende geword, my ondersteuners en onderskragers; ’n teenmiddel vir vriendskappe wat hul deesdae op Facebook te pletter loop. Ek kon selfs by die titels aanklank vind. The Story of a New Name is die tweede en Those Who Leave and Those Who Stay die derde. Die Pinelands-biblioteek het amper nie The Story of the Lost Child, die laaste een in die reeks, teruggekry nie, so moeilik was dit om afskeid te neem van die karakters. Wanneer ek lees, wonder ek ook oor hóé skrywers skryf. Waar Ferrante haar karakters vandaan haal. En ek beny haar haar anonimiteit en besluit om onder ’n skuilnaam te skryf.

Maar soms wil mens van geweet wees. Ek het oor die jare ook groot respek ontwikkel vir Rayda Jacobs se boeke. Van The Slave Book en Sachs Street tot Confessions of a Gambler waarin sy uit haar eie lewe en agtergrond put om die stories te vertel van vroue wat nie altyd gehoor word nie.

Meer oor:  Daniel Hugo  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.