Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
My plig om dié stemme eg te verstorie

Die kykNET-Rapport-niefiksie- prys ter waarde van R250 000 is toegeken aan Jeremy Vearey vir sy biografie, ‘Jeremy vannie Elsies’, wat deur Tafelberg uitgegee is.

Hoe sien jy skrywerskap – die vakmanskap van skryf – en hoe en hoekom wou jy hierdie “talent” spesifiek in Afrikaans slyp? Met Jeremy vannie Elsies wou ek erkenning gee aan die vormende invloed wat Elsiesrivier, Tiervlei en die mense van hierdie buurte op my lewe gehad het – en ook die ongekende werkersklasleefruimtes oopskryf waarin Afrikaans op die Kaapse Vlaktes ánders gebesig word.

As oudstudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) toe prof. Jakes Gerwel rektor was, ag ek dit noodsaaklik om die taal as aktivis aan te wend om ongeregtigheid te ondersoek, in ’n sin soos prof. Gerwel dit so profeties belig het in ’n artikel wat hy in 1978 in die tydskrif Educatio geskryf het: “Maar so lank as wat daar Afrikaanssprekers is wat hul stemme vreesloos teen ons samelewingsongeregtigheid lug – en daar is sulkes – het ek die sekerheid dat ons met reg onder ’n nuwe bestel kan verklaar: Een rassisme- en outoritêre regime kon ons toe nie stilkry nie en ’n nuwe een gaan ons nou ook nie onderkry nie.”

So lank as wat die bevoorregtes die verontregdes en gemarginaliseerdes hul stem ontsê, is dit my plig as skrywer om daardie stemme so eg moontlik te verwoord en verbeeld soos hulle die taal in hul leefruimtes besig. As woordtuig van daai komvandaan is ek dit aan my voorsate en nasate verskuldig.

Afrikaans en die variëteite daarvan soos ek dit in my komvandaan besig, is en was nooit vir my ’n onderdrukkerstaal nie. Dit is dieselfde taal waarin ek as aktivis die mensonterende uitwerking van apartheid op my komvandaan kon uitbeeld, as gelowige kon dien, en met my medemens kon saamleef.

In my boek weef ek verskillende taalregisters, variëteite en sosiolekte in die vertelling – van Afrikaaps, Inglikaans en UWKaans tot sogenaamde skolastiese Afrikaans. Ek moes sorgvuldig werk om ’n balans te handhaaf tussen konteksgetroue oorspronklikheid en om die storie vir ’n diverse, breër leserskorps te vertel. Dit moes ook so getrou moontlik bly aan die ontwikkelingsgang in my gebruik van dié registers, variëteite en sosiolekte. Bowenal wou ek dit met trots in die taal van my komvandaan uitbasuin dat ’n werkersklasklong van Elsiesrivier en ander van daardie komvandaan hul leefruimtes op hul eiesoortige manier kan verstorie.

Wat was jou vroegste kreatiewe invloede en hoe manifesteer dit steeds in jou skryfwerk? Ek is as tiener aan jeuglektuur van die tyd, soos Leon Rousseau se Fritz Deelman en die swart eiland en Topsy Smith se Trompie die held, blootgestel, maar tussen my ma se sensuur en die feit dat dit nie tot my leefwêreld gespreek het nie, het my belangstelling vroeg gekwyn. As gevolg van my geloof, het ek meer kerklektuur in Afrikaans as jeuglektuur gelees. Ook Afrika-lektuur, soos Alex la Guma se A Walk in the Night en Ngugi wa Thiong’o se Petals of Blood en wat ook al deur Heineman-uitgewers beskikbaar was, was verkose leesstof, deels begeester deur my swartbewussyns- politieke denke.

Later het romans soos Andrey Platonov se The Foundation Pit en Maxim Gorky se Mother my leesgier vir die Sowjetskrywers aangevuur. Europese romans soos Raymond Williams se Border Country, Robert Tressell se The Ragged Trousered Philanthropists en Louis-Ferdinand Céline se Death on the Installment Plan het weer my belangstelling in die lees en skryf van werkersklasfiksie en -niefiksie aangewakker.

Eers in die 1980’s aan die UWK het Afrikaans weer sy draai geloop. Nou het skrywers soos André Brink, Breyten Breytenbach, Vernie February, Peter Snyders en Patrick Petersen tot my leefwêreld en linkse politieke denke gespreek.

Ook N.P. van Wyk Louw, polities verdraai en wanaangewend, om stryd-Afrikaans te verwoord en bevorder.

Wat is jou volgende skryfprojek? Ek werk aan memoires in bildungsromanstyl wat my polisieloopbaan tussen 1995 en 2018 dek.

Uit die commendatio

Met Jeremy vannie Elsies verruim Vearey die geskrewe Afrikaanstalige kultuur- en kennisveld én lesersgehoor met belewenisse, lewensbeskouings, geskiedenisse en ervarings wat tot nou toe nog nie met soveel elegansie in populêre Afrikaanse niefiksie geboekstaaf is nie . . .

Die boek getuig van uitstaande vakmanskap en uitstekende vormgewing – spesifiek die kreatiewe gebruik van taal, wat soms in die digterlike oorloop, asook die feit dat die vertelling biografie so suksesvol met historiografie verbind.

Dit is inhoudelik oorspronklik in taal en tema – met verwysing na die hoek waaruit persoonlike transformasie aangepak word, asook die vervlegging van identiteitsvorming met idees, asook “ras”, plaaslike kulture, klas en manlikhede.

Dit het die beoordelaars – as lesers – tot dieper en soms nuwe insigte gebring.

Jeremy vannie Elsies is ’n waardige wenner van die kykNET-Rapportprys vir niefiksie wat kan kers vashou by die beste fiksie, plaaslik sowel as internasionaal. Andries Bezuidenhout

Meer oor:  Jeremy Vearey
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.