Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘My werk is nie ’n stuk vel nie’

Die Kaapse digter Jolyn Phillips laat die taaltonge klap. ’n Kortverhaalbundel het verlede jaar verskyn en so pas die digbundel Radbraak. Dié boorling van Gansbaai het met Marchelle van Zyl gesels kort voor Phillips se optrede by die Tuin van Digters.

Jolyn PhillipsFoto:

Jolyn Phillips gee ’n stem aan ’n Afrikaanse gemeenskap wat deur haar karakters ontsluit word. Daar word soms na haar verwys as ’n opwindende nuwe bruin of swart stem. Haar werk is egter nie ’n stuk vel nie, sê sy.

“In my skryfwêreld en my taalwêreld is ras so simpel. Dit kan nie lewe nie, dit het nie asem nie, dit het nie bene nie, dit het nie denke nie. Dit is iets wat geplaas is op ’n mens. So dis interessant dat mense sê my werk is ’n stuk vel. Ek voel my werk is aanmekaargesit en lewe ingeblaas en praat met ’n taal wat aan hulle (die karakters) behoort, wat net hulle s’n is. Vel is te oppervlakkig. Die sprekers en die karakters kom wys vir jou hul mens, hier binne.”

Phillips is onpretensieus. As jy verby haar sou stap in die straat, sou jy dalk net ’n student sien – sy is besig met ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Wes-Kaapland en werk ook daar as lektor.

“Dit is so moeilik om net méns te wees. En dis so moeilik vir my sprekers om te doen wat hulle moet doen om by hul bestemmings uit te kom. Maar fiksie gee vir jou daai vryheid om die situasie, jou destiny te verander. Al is dit net vir ’n oomblik, al is dit net vir twee minute.”

Phillips se eie reis klink na ’n storie uit haar bundel. Sy het ’n beurs gekry om ná skool te gaan studeer – die eerste in haar familie. En dis hier in die Kaap waar sy uit verlange na haar mense begin skryf het.

“Ek kom van Gansbaai af. Ek het klaar matriek gemaak en my ouers was baie bang, want niemand van ons het nog universiteit toe gegaan nie, en ek het ’n tweede kans gekry en ek het net nog nooit weer teruggekyk nie. My taal was vir my belangrik toe ek in die Kaap kom bly het. Ek kon nie relate tot die mense, die plekke nie. Ek het die stories geskryf vanuit ’n plek van onthou, die huis mis. Die taal . . . het my laat opstaan in die oggend om aan te gaan. Dit is daardie plek wat ek vir myself geskep het om te vertoef met my taal. Dit was die kombers van my landskap,” vertel sy.

Foto:

Radbraak het kort op haar kortverhaalbundel Tjieng Tjang Tjerries, wat sy as deel van haar meestersgraad geskryf het, gevolg. Taal is ’n sterk tema in Radbraak. Sommige mense noem haar werk Kaaps of Afrikaaps. Maar wat noem sy dit?

“Dis Afrikaans! Ek is ’n simbiose van verskillende Afrikaanse. Dis ’n tricky ding, want ek wil myself baie graag ’n Afrikaner noem, maar die woord het soveel historiese . . . dit dra so swaar. Ek kan nie myself Afrikaner noem in Afrikaans nie, maar ek kan myself African noem. So ek kan sê: I am from Africa, I’m an African, maar ek kan nie in Afrikaans sê ek is ’n Afrikaner nie. Ek moet sê ek is ’n Afrikaanssprekende.”

Waar kom die naam Radbraak vandaan?

“Ek het al die Dertigers en Sestigers platgelees. Dis soos om in ’n tuin te stap en al die lewens so te sien. Dis ’n moeilike blomtuin,” lag sy.

“Op die oomblik is my gunsteling definitief Wilma Stockenström. Ek is so excited dat haar werk by die Tuin van Digters gehuldig word. Ek dink nadat ek Die kremetartekspedisie gelees het, het ek gesê ek gaan nooit weer skryf nie,” spot sy.

“En dit is by haar waar ek die woord ‘radbraak’ opgetel het. Mense is in ’n wiel gesit en hul bene is gebreek. Torture was always inflicted to get information. En ek dink toe by myself, dís waar ek moet begin. Dit is wat ek in my taal doen. Daar is letterlik tye waar ek die taal so knars, breek. Om iets uit dit uit te kry wat ek wou gehad het.”

So wat wag daar nou vir haar?

“Om nuut te begin. Nuut te breek, af te breek, op te breek. Soos wat ek in Radbraak gedoen het. Ek weet nie hoe dit volgende keer gaan wees nie. Elke keer as jy klaar geskryf het, maak dit iets oop. Maak dit ’n deur oop. Bring dit jou nader aan die ware bestemming waar jy moet wees.”

* Phillips en Corné Coetzee gesels Saterdag om 15:30 in die Breytenbachsentrum by die Tuin van Digters op Wellington met Charl-Pierre Naudé oor hul besonderse debuutdigbundels. Philips tree ook om 20:30 saam met Riku Lätti en die Wasgoedlyn op, waar sy van haar eie toonsettings sal sing.

* Vir meer besonderhede, besoek www.breytenbachsentrum.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.