Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
My woorde is my ‘life after death’

Chase Rhys is die ontvanger van die kykNET-Rapport-filmprys vir sy Kaapse Vlakte-karakterstudie ‘Kinnes’, wat deur Kwela uitgegee is.

Chase Rhys

Hoe sien jy skrywerskap – die vakmanskap van skryf – en hoe en hoekom wou jy hierdie “talent” spesifiek in Afrikaans slyp? Vi my is skryf tydreis. Ek skryf mettie kennis dat my woorde, my stem, oor tyd strek. Skryf isse kunsvorm waarmee ek allien en direk met mense kan praat. Wanne jy my woorde lees, hoor jy my stem in jou kop. My woorde gaan langer lewe as ek, soe ek’s bewus daavan dat my werk my “life after death” is.

Ek skryf sjarme oppie blaai – dit klink ’n bietjie witchy, maa my impuls om te skryf is instinktief en voorvaderlik. Die magic is dat ek met net swart woorde oppe wit blaai heel en kleurvolle wêrelde kan skep.

Ek skryf om te bevry. Ek skryf sodat ek myself kan herken. Ek skryf sodat jy kan wiet wie jy is. Die way ek dit sien, het ek net twie stories om te vertel: Een isse storie van wie en wat jy eintlik is (dis amper onmoontlik om hierdie een te skryf); die anne een issie storie van dít wat in jou pad staan, die dinge wat jou block van die kennis van wie jy is. In die twiede verhaal is daar veel mee plek vi konflik en metafoor, soe dis die storie wat ek gereeld vertel. Maar innie einde vat al twie tipe stories vi die leser (en my karakters) na dieselfde plek toe: ’n herkenning van self.

Ek skryf in Afrikaans, want ek skryf oor Afrikaanse mense, my mense oppie Kaapse Vlakte. En ’n man moet mos Kaapse stories in Kaaps vertel.

Daas vi my baie vryheid in Kaaps; die taal verander en groei gereeld, dis lewendig.

Wat was jou vroegste kreatiewe invloede en hoe manifesteer dit steeds in jou skryfwerk? A Clockwork Orange deur Anthony Burgess en Train­spotting deur Irvine Welsh was my gunstelingboeke in my tienerjare. Albei skrywers gebruik die Engelse taal inne unieke manier en ek was aangetrokke na hoe hulle woorde oppie blaai gelyk het. Dit was amper soes hulle Engels en al die taalreëls wou breek – dit het anargisties gevoel. Hierdie twie boeke se taalgebruik het vi my die audacity gegie om my stories en boeke heeltemal in Kaaps te skryf.

Waaraan werk jy tans, of wat is jou volgende skryfprojek? Ek werk nou op twee nuwe boeke, albei fiksie, en het onlangs my eeste TV-reeks geskryf wat in 2020 sal verskyn. Ek kannie wag vi mense om my nuwe stories te leesie – “Andy” in Die nuwe Afrikaanse prosaboek, saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk, wat in November by Human & Rousseau verskyn; en “Blue Tea and The Beast” in They Called Me Queer (Kwela), wat Kim Windvogel en Kelly-Eve Koopman saamgestel het en nou in die winkels is.

Uit die commendatio

Die wenroman van vanjaar se filmprys het die beoordelaars opgewonde gemaak met sy vars aanslag, literêre meriete, ’n relevante eietydse storie en opwindende visuele moontlikhede wat vir enige vaardige filmmaker ’n heerlike en uitdagende speelveld bied. Daarby speel dit af in ’n interessante milieu vol verskillende strukture en teksture wat tot nou toe afgeskeep is deur die Afrikaanse filmbedryf.

Die vier hoofkarakters van Kinnes is fyn geteken en met groot deernis gestalte gegee. Hulle staan op die rand van volwassenheid. Elkeen het sy eie individuele aksent wat die verskillende vorms van Afrikaaps, soos Rhys sy taal noem, op ’n interessante manier illustreer en grootliks help met karakterisering. Hulle word met soveel sterk visuele en emosionele verwysings uitgebeeld dat enige draaiboekskrywer sy hoed sal agterna gooi om dié draaiboek met sy inspirerende rolverdeling op papier te kry.

Met ’n Afrikaanse hip-hop-klankbaan hoor ek reeds die Overbergse sanger Frazer Barry se rapliedjie: “Hy was op pad na die skool, hy wou ’n dokter word, maar die koeël van ’n gangster het sy lewe verkort. Hoor die stemme van ons mense wat huil, oor die onnodige grafte oppi Vlakte.”

Kinnes is ’n onversuikerde, universele verhaal en ’n waardige, opwindende wenner van die kyk­NET-Rapport-filmprys vir 2019. Herman Binge

Meer oor:  Chase Rhys  |  Kyknet-Rapport-Filmprys  |  Kinnes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.