Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
n Bietjie tiemie by jou derms?
Die skurke praat suiwer Afrikaans, maar Karsten se jongste is pure naelbyt, skryf Deborah Steinmair.

Die respektabele Meneer Hartslief deur Chris Karsten. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R220.

Chris Karsten is op volle vaart. Sy jongste spanningsroman vleg soos ’n rubberboot tussen stroomversnellings deur. Dit is pure adrenalien, witwater en oopkeelvreugde. Dit is tong in die kies en dodelik spannend.

Die Hartslief- en Lerm-kinders, neefs en niggies, is deur hul ouers versaak, of wees gelaat, en word deur hul Antie Engel grootgemaak. Sy het ’n ruim hart, ’n groot skof en ’n sopkombuis in Brixton. Hulle is ’n kleurvolle spulletjie.

Die meneer Hartslief van die titel, Eli, is die hoof van die troppie: honger, ambisieus, syfervaardig, jonk en presentabel.

Hy woon intussen in Sandton waar hy vir ’n beleggingsmaatskappy werk. Hy het sy jeugliefde, Dot, versaak vir die baas se spandabelrige dogter, die streng Wanda. Sy klee hom in Italiaanse handelsmerke, koop vir hom peperduur naskeermiddel en sorg vir sonstrepe in sy hare.

Sy broer, Basie, se koplose lyk word in ’n sloot langs die pad aangetref nadat hy dwaaslik met Stella, die gunstelingminnares van die Roemeense nagklubeienaar Bogdan Petrescu, kaperjol. Nou moet die familie laer span. Eli en Basie het ook ’n suster, Poppie (16). Sy is mooi van gestalte en ’n voortreflike gimnas. Die Lerm-kinders is Boela die blokman, Moks die kok (maer en gay met ’n purper Mohikaanse haredos en daggakoekies). Dan is daar Sampie, die klein mens – hy wil g’n ’n dwerg wees nie – en die beeldskone ­Lottie.

Die polisie en veral die geleerde luitenant Kosile, wat hoog en laag uit Sherlock Holmes aanhaal, is blasé oor Basie se onthoofding en die dossier word vinnig koud.

Eli en sy kontakte moet self leidrade opvolg. Hulle volg leidrade soos selfoonrekords en die paar lang swart hare wat op Basie se liggaam gevind is op en dit lei hulle na Stella, minnares van die sogenaamde King of Sleaze. Moks, die sjef, moet Stella se luukse restaurant infiltreer om inligting te bekom.

Hierdie roman spog met ’n booswig waarin ’n mens jou tande kan slaan – ’n man van substansie. Lood, die loodgieter wat Petrescu se vuilwerk doen, is ’n komplekse karakter met sy fedora, sy pynlike kloppende knie en sy liefde vir jazz. Hy speel snags op die stoep saxofoon vir sy honde en daarom is sy lippe chronies droog en is daar ’n trekking om sy mondhoeke. Hy voel g’n duit vir sy slagoffers nie en geniet hom gate uit.

Meer kan ek nie verklap nie. Ontknopings stel my dikwels teleur, maar hier het die einde my stoutste verwagtings oortref. Dit was tot op die laaste bladsy onvoorspelbaar en uiteindelik reusagtig bevredigend.

Ek het enkele bedenkings: van die Brixton-clan sou ’n mens ’n soort chaotiese Jeanne Goosen/PG du Plessis-dialoog verwag het. Maar nee: hulle praat taamlik suiwer Afrikaans en daar is niks kommin aan hulle nie. Eli se jeugliefde, Dot, wie se pa, Sparky, ’n elektrisiën is (wie se ma in die sopkombuis uithelp en vir wie daar nie geld was om te gaan studeer nie) merk byvoorbeeld in die kweekhuis op: “Die manjifieke sewe, dis wat my ma hulle noem. Pietersielie, basiliekruid, grasuie, kruisement, oreganum, roosmaryn en tiemie.”

Selfs die polisie (almal anderstaliges) praat voortreflike Afrikaans. Bloed en derms is goed en wel, maar miskien is daar ’n hekkie wat Karsten nie kan oorsteek nie: geradbraakte, slordige taal. Maar dit is onbelangrik. ’n Mens verloor jou in Karsten se wêreld waar skobbejakke onnoembare wreedhede pleeg, maar hul innerlike dialoog in uitnemende Afrikaans voer. ’n Mens verlekker jou in sy geil verbeelding en verstommende taalvaardigheid.

 Deborah Steinmair is ’n skrywer, digter en vryskutresensent. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.