Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Monument van ’n boek
Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Foto: Christo la Grange

Nie-fiksie

Ons gaan ’n taal maak

J.C. Steyn

KRAAL UITGEWERS, R395

Jaap Steyn doen die meeste dinge wat hy aanpak net soveel beter as ander mense. Dit geld in die besonder vir sy skrywersbiografieë (Van Wyk Louw, M.E.R.) en geskrifte oor die taal. Hy het in 1980 op die terrein van die taalsosiologie en taalpolitiek baanbrekerswerk verrig met sy boek Tuiste in eie taal. En nou het hy die standaardwerk oor die latere geskiedenis van Afrikaans geskryf.

Steyn se inleidende woorde vat die doelstelling van dié enorme stuk navorsing mooi saam: “Baie mense het gehelp om van Afrikaans ’n kultuurtaal te maak – honderde, nee duisende, eintlik ’n ‘ongetelde skare’, soos ’n ou Gesangvers dit stel. Een van die wonders van Afrikaans is dat die taal deur dekades heen soveel onselfsugtige stryders, liefhebbers en skeppers gehad het. Oor sommige van hulle gaan hierdie werk.”

Daardie “wonder van Afrikaans” word natuurlik deur die titel van die boek in die korrekte, ontmitologiserende lig gestel: Afrikaans is ’n wonderwerk wat deur talle se harde werk tot stand gebring is. En die honderde bekende taalwerkers (medewerkers én teenwerkers) wat hier hul verskyning maak, staan in ’n dubbelkolomregister van 28 bladsye agterin die boek – van dr. Abdullah Abdurahman tot pres. Jacob Zuma.

Ons gaan ’n taal maak is ’n monument van ’n boek wat 622 meesleurende, ryklik geïllustreerde bladsye beslaan. Dit is vol bekende, minder bekende en verstommende, onbekende inligting.

Steyn is nie net ’n deeglike akademikus nie, maar ook ’n gesoute joernalis. Hy weet hoe om harde feite te balanseer met boeiende anekdotes. Hy kan in enkele sinne ’n gebeurtenis en ’n persoonlikheid tot lewe wek.

Die bepalings van sy opdrag (deur Kraal-uitgewers) was sodanig dat hy nie die besonder omstrede ontstaansgeskiedenis van Afrikaans kon betrek nie, maar sy vertelling by die stigting van die GRA in 1875 moes begin. Die voordeel van dié beperking is dat hy hom kon verlaat op ’n byna onuitputlike bron van geskrewe dokumente. En slegs iemand met Steyn se verbluffende vermoë om soveel materiaal deur te werk, te sif en saam te vat, kan so ’n oorrompelende verhaal vertel.

’n Bruin joernalis het onlangs in die sosiale media bedenkinge uitgespreek oor Steyn se vermeende ideologiese vooroordele, nog voordat die boek in die handel beskikbaar was. Steyn gee, soos verwag kon word, egter volle erkenning aan gekleurde sprekers en skrywers se aandeel aan die ontwikkeling en behoud van Afrikaans. Naas ds. S.J. du Toit van die GRA in die Paarl bespreek hy die rol van sjeg Abu Bakr van die Maleise skool in die Bo-Kaap, naas N.P. van Wyk Louw ook Adam Small, naas prof. D.F. Malherbe ook prof. Jakes Gerwel¸ naas dr. Wannie Carstens ook dr. Mi­chael le Cordeur, en-so-volledig-verder. Wie Steyn as ’n apartheidsapologeet bestempel, is doodgewoon kwaadwillig.

Steyn se objektiewe weergawe van Afrikaans se veelbewoë geskiedenis blyk onder meer uit sy sintuig vir ironie. So vertel hy dat Alfred Milner, Lord of St James and of Cape Town, daardie genadelose imperialis en aartsvyand van Afrikaans, self die nut van Afrikaans ingesien het en kort ná sy aankoms in Suid-Afrika (1897) in ’n brief gemeld het dat hy besig is om “The Taal” te leer. Dié ironie word byna ondraaglik skrynend wanneer Steyn in die volgende paragraaf daarop wys dat die leerlinge in Milner se konsentrasiekampskole tydens die Anglo-Boereoorlog Engels bo Hollands of Afrikaans verkies het.

Talle van die vignette waarmee Steyn die geskiedenis verlewendig, het my óf laat glimlag óf ontroer. Toe ds. Adriaan Moorrees, professor in die teologie en voorstander van Nederlands as kultuurtaal vir Afrikaanssprekendes, in 1901 in Amsterdam ’n preek in sy deftigste Hooghollands gelewer het, was een van die toehoorders se reaksie: “Ik versta er geen steek van.”

Besonder ontroerend is die volgende paragraaf oor die terugkeer in 1904 van Paul Kruger se stoflike oorskot na Suid-Afrika. ’n Routrein het dit vanaf Kaapstad na Pretoria gebring. Die masjinis het opdrag gehad om te stop op elke stasie waar daar mense was: “Om middernag die eerste nag het die trein stilgehou op ’n halte net suid van Laingsburg, waar ’n lanternliggie langs die spoor geflikker het. Ná ’n paar sekondes klink in die stille Karoonag vers 5 van Psalm 42: ‘Maar de Heer zal uitkomst geven.’ Eers was dit onseker en sag, maar weldra klink dit uit volle bors: bo twee swaar manstemme die stem van ’n vrou, helder en skoon, totdat die laaste woorde in die donker wegsterf. Enkele oomblikke is dit doodstil, en dan vertrek die trein.”

Wie so sensitief kan skryf, behoort gelees te word – veral as dit boonop ’n geskiedenisboek van hierdie formaat is.

Met Hermann Giliomee se Die Afrikaners – ’n Biografie (2004) en J.C. Steyn se Ons gaan ’n taal maak het die Afrikaanse geskiedskrywing pieke bereik wat ander skrywers hulle moeilik, indien ooit, sal kan nadoen. 

 Daniel Hugo is ’n digter en ­vertaler van Prins Albert.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.