Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Tannie wie se boek kóók
Daar’s ’n woord wat lesers van China tot Swede maar sal moet begin oefen. En dis die Afrikaanse “tannie”. Want ’n debuutskrywer van Ladismith het ’n Karoo-tannie geskep wie se bak-, kook- en amateurspeurvernuf buitelandse uitgewers behoorlik laat bakhand staan. Elmari Rautenbach het gesels met Sally Andrew, die vrou agter Recipes for Love and Murder: A Tannie Maria Mystery.
Sally Andrew se debuutroman het die ondenkbare reggekry: om deur te breek na die Britse en Amerikaanse markte, Kanada en Australië en boonop vertaalregte aan 11 lande te verkoop. Tog, sê sy, kan sy glad nie kook nie!

Jy volg ’n kameelperd se spoor, sê jou eerste SMS, en die sein is nie watwonders nie. Dis nou in die natuurreservaat buite Ladi­smith in die Klein-Karoo, waar jy saam met die wildlewekunstenaar Bowen Boshier woon. Jy was ook tot nou bekend vir niefiksie, baie daarvan met omgewingsbewustheid as tema. Hoekom nou ’n roman? Ek het begin voel ek brand uit; dat ek ’n rustyd nodig het van die ernstige werk waarmee ek besig was. Fiksie is vir my louter plesier. Ek voel of ek met woorde en temas speel, of ek só skoonheid en gevoelens oproep; ’n stukkie lewe skep.

Jou boek word op sy voorblad ’n “Tannie Maria Mystery” genoem. Dit laat dit soos ’n reeks klink. Is dit? En het jy van die begin af een beplan? Aanvanklik was ’n reeks meer van ’n moontlikheid as ’n plan. (Ek self is mal oor die lees van reekse.) Maar toe ek Tannie Maria beter leer ken het, het ek besef sy gaan vir nog ’n rukkie met my wees . . .

Wat was die inspirasie vir Tannie Maria, jou onvergeetlike hoofkarakter? Sy word beskryf as 50-plus, kort, sag en rond, met deurmekaar bruin krulhare en ’n Engels wat mildelik gepeper is deur die Afrikaans van die Klein-Karoo. Ek ken ’n baie liewe Afrikaanse tannie met die naam Maria, wat ingestem het dat ek haar naam mag leen (en my op die koop toe ’n paar lieflike vloekwoorde geleer het), maar andersins is my Tannie Maria suiwer fiksie. Ek het haar geskep om my te anker, te laat lag – en miskien net te leer kook.

Die agtergrond is die snikhete somer van 2013 toe Madiba dood is. Hoekom toe? Dis toe ek die boek begin skryf het.

Tannie Maria pendel dorp toe en terug in haar ligblou bakkie. Sy woon op haar eie op ’n vredige kleinhoewe, waar haar brood op die sementstoep kan rys, haar hoenders vryelik rondskrop en sy koningin kan wees van haar eie kombuis. Hoe het jou eie ervaring van die “lekker warm” Klein-Karoo dié van die boek help vorm? Die boek se agtergrond is in ’n groot mate deur my eie geïnspireer. Ek het ’n paar jaar gelede van die Kaap Klein-Karoo toe getrek en dié wêreld het hom sedertdien in my gebeente ingewerk; in my siel. Dis die één plek waar ek ná ’n reis – selfs al was ek Kaap toe – regtig tuis voel. Die boek is ook deur baie ander aspekte van my lewe gevorm. Dis daar, tussen die lyne, op elke bladsy: my ondervindings, my waardes, my drome. Maar die reuk en voorkoms en wese van die Klein-Karoo is die voor die hand liggende waar my werklike en storiewêreld oorvleuel.

Kos is sekerlik een van die grootste bronne van troos en geluk vir Tannie Maria, maar haar ander groot liefde is ongetwyfeld haar troosrubriek in die plaaslike Klein Karoo Gazette. Waar kom “Tannie Maria's Love Advice and Recipe Column” vandaan? Ek was op soek na ’n manier om die liefdestema te ondersoek, in al sy verskillende vorms. Ek het gereken ’n troosrubriek is ’n prettige manier om dit te doen. Plus dit het die moontlikheid geskep vir humor.

Haar rubriek bring haar in kontak met ’n aantal kleurryke dorpskarakters, soos die jong ondersoekende joernalis Jessie, oftewel “the girl with the gecko tattoo”, en die “pish posh” Engelse redakteur, Hattie. Is hulle tipiese Karoo-persoonlikhede? Jy kry alle soorte hier, en Jessie en Hattie sou heel goed ingepas het. Maar nee, ek sou nie sê hulle is tipies nie. Hulle is my eie skeppings. Heel waarskynlik weerspieël hulle verskillende dele van my eie persoonlikheid.

Omslag van Recipes for Love and Murder: A Tannie Maria Mystery

Daar’s ook die lang polisieman met die kastaiingbruin snor, Tannie Kuruman van die beroemde hoenderpasteie . . . Jy kan nie help om te wonder of enige van dié karakters op regte mense gegrond is nie . . .  Mmm, ek sal wel sê ek het ’n paar name en vanne van regte mense in die omgewing geleen. (Ek moet dalk bysê my eie man is lank met ’n bietjie rooibruin in sy baard.)

Die voorblad en karakters lyk aanvanklik bedrieglik onskuldig. Maar die grimmige werklikheid maak gou sy opwagting met verwysings na Tannie Maria se verlede (mishandeling deur haar man, terwyl die dominee en haar skoonma anderpad kyk) en die inhoud van die briewe wat vir die rubriek opdaag (nog huishoudelike geweld, minderjarige seks en eensaamheid, onder meer). Wou jy iets daarmee oor die lewe op die platteland sê? Slegte goed gebeur oral, waarskynlik minder op die platteland as in die groot stad. Maar op ’n dorp is dit moeiliker om iets weg te steek. En in sekere opsigte makliker om mekaar te help.

Dis wêreldwyd nogal mode om kosmaak en speurders in misdaadfiksie te kombineer. Maar jou “speurder” is soos geeneen daarbuite nie. Is daar enige misdaadstories wat ’n vonk was wat juis dié twee elemente bymekaar gebring het? Ek is gek oor ou-styl, cosy misdaadfiksie, soos dié van Agatha Christie, Dick Francis, Erle Stanley Gardner. Dit het ongetwyfeld ’n rol gespeel. Kos is ook vir my ’n baie kragtige manier om ’n leser weg te voer. Boeke deur veral Janet Evanovich en Andrea Camilleri was hier die inspirasie. En toe Tannie Maria haar stem begin dik maak, was kos duidelik ’n belangrike aspek van haar lewe. (En wie was ek om met my hoofkarakter te stry!)

Die humor in die boek is soms heerlik aweregs. Toe Tannie Maria hoor van ’n 13-jarige tiener wat glo sy’s swanger ná orale seks, en skoon ophou eet het uit kommer, is haar eerste gedagte watter vreeslike ding dit is dat ’n jong meisie haar aptyt verloor! Ja, ek dink om te lag is wat pyn draaglik en die lewe die moeite werd maak. Maar die belangrikste is dat ons vir onsself kan lag. Ek benader daarom dikwels die moeilikste onderwerpe in die storie met ’n ligter aanslag.

Ek hoor wel jy kan glo g’n kook nie; dat jy kos moes navors vir jou boek en kers opgesteek het by heelparty ervare kokke. Hoekom dan die kos-hoek? (En dis ook nie of Tannie Maria glo in Banting nie . . .)  Ek's nie ’n vrot kok nie. Ek's lief vir kos en kan darem ’n paar gawe geregte aanmekaar slaan. Dis net dat ek nog nooit ’n resepteboek gebruik het nie en ek's regtig nie in Tannie Maria se liga nie. Ek waardeer hoe belangrik kos in ons lewe is; die ritueel van ’n feesmaal, die emosionele funksie van eet. Maar ek dink ook dis belangrik dat ’n skrywer en sy hoofkarakter noemenswaardige verskille het, anders vervaag die grense van die storie. En nee, my kos-eksperimente was gewoon oneetbaar, terwyl my “kosvaardiger” vriende se bydraes tot my gereelde proepartytjies in ’n ommesientjie verslind is.

(Kyk ook na die kosfoto’s en video’s by ​sallyandrew.com.)

Ek dink om te lag is wat pyn draaglik en die lewe die moeite werd maak.

En is daar resepte met ’n storie-agter-die-storie? Heelparty! Die smeltlekker melktertresep kom van Martin Mössmer se groot- oumagrootjie, Ali Visser. (Ladies’ Mile in Constantia, Kaapstad, is na haar vernoem na aanleiding van ’n grondeis wat sy gewen het.) Vir die storie van die botterige karringmelkbeskuit met geroosterde sonneblomsade van Tannie Maria se ma is daar ’n​ spesiale video op YouTube.

Tannie Maria is ’n unieke troostannie wat telkens vir haar briefskrywers raad plus ’n resep stuur. Só gee sy ’n skaam tiener met ’n ogie op ’n outjie ’n resep vir ­fudge, en ’n eensame omie een vir spaghetti bolognaise. (Die resepte is boonop almal agterin die boek versamel.) Het jy hier instinktief te werk gegaan, of was daar ’n bietjie wetenskap daaragter? Dit was instink, en ’n sin vir humor. Maar die resepte is deur regte sjefs opgestel en nagegaan.

Die taal in die boek is een groot vreugde. Kom jy, soos Tannie Maria, van ’n tweetalige agtergrond? Ek is Engels, maar het Afrikaans nog altyd ontsettend geniet. Miskien omdat my eerste kêrel Afrikaans was. En dan was daar ’n wonderlike Afrikaansjuffrou op hoërskool, Ronel Gouws, wat ons ’n blywende waardering vir die letterkunde gegee het. Afrikaans is ook die voertaal in die Klein-Karoo en ek het gou besef ’n geloofwaardige tannie moet minstens half-Afrikaans wees.

Ek het wel aan die begin gespeel met die idee om haar heeltemal Afrikaans te maak, maar nie gedink ek het die agtergrond om dit reg te kry nie. Daarom het ek haar ’n Engelse pa gegee as ’n rede vir enige nie-Afrikaanse hebbelikhede.

Watter Afrikaanse woorde was jou gunstelinge uit Tannie Maria se mond? Blikemmer, jou sissie se vissie, skat, bokkie.

Jou boek was skoon die Aspoestertjie by verlede jaar se Frankfurt-boekebeurs. Uitgewersregte is in die bestek van ’n week of wat aan Kanadese en Australiese, Britse en Amerikaanse uitgewers vir twee boeke verkoop. Dink jy woorde soos “beskuit”, “vetplantjie”, “dondering” en “moederliefie” was deel van dié aantrekkingskrag? Ek dink dit het beslis bygedra tot die unieke plaaslike geur, maar ek was tog versigtig om nie die Afrikaans te oordoen nie. Ek het dit só geskryf dat die leser telkens die betekenis sal verstaan.

Het die oorsese belangstelling jou verras? Ja!!

Kan jy al iets van die volgende Tannie Maria verklap? Ek het die eerste weergawe van my tweede boek al amper klaar, maar ek’s nog nie seker wat die titel sal wees nie. Wat ek wel kan sê, is dié slag sterf iemand in ’n tent by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees . . .

 Recipes for Love and Murder: A Tannie Maria Mystery verskyn by Umuzi (R220).

Die oudioboek word deur Sandra Prinsloo voorgelees en is van November beskikbaar by booktalk.co.za. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.