Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Aangrypende roman met twee verhaallyne in gelid

Fiksie

Bloedlelie

Jeanette Ferreira

LAPA, R295

Hoe ver terug strek die grondkwessie in Suid-Afrika?

Sommige sal sê 1913, toe die Wet op Inheemse Grond aanvaar is wat gelei het tot die onteiening van grond in swart besit.

Jeanette Ferreira gaan haal die grondkwessie by Dingaan, in die hart van Umgungundlovu. Daar waar Piet Retief en sy manskappe se bloed gevloei het ná Dingaan en Retief ’n traktaat onderteken het waarin die Zoeloekoning grond aan die trekkers belowe het.

Bloedlelie is ’n aangrypende roman met twee verhaallyne wat in gelid soos spoorlyne langs mekaar loop . . . en soms kruis.

Die eietydse verhaal is dié van Hanna en Adriaan. Sy loop terug op die spoor van Retief se vrou, Margaretha, oor wie daar min inligting in die geskiedenis beskikbaar is. Adriaan, ’n geskiedkundige, vat die spoor van ’n bitter stryd oor grondbesit ter voorbereiding van ’n hofsaak oor ’n grondeis in KwaZulu-Natal.

Die kerntema is grond, nie net die tasbare wat amptelik in kaart en transport omgesit word nie, maar ook waar en hoe jy wortel skiet. En later jou wortels uittrek en verplant. Of ontwortel word.

Die ontheemdes in die verhaal is diegene wat pad vat, soos die Hugenote wat uit Frankryk vlug (al keer die trotse Retief vinnig wanneer iemand na sy voorouers as vlugtelinge verwys, bl. 158) en die trekkers wat padgee uit die kolonie om hulself te regeer.

Daar is ook diegene wat geroepe word, maar altyd inkommers bly, soos die Engelse sendelinge wat deur inwoners én die harde landskap soos indringers behandel word.

Dis uiteindelik ook ’n boek wat jou vervreemd laat, asof die wortels van die Groot Trek-geskiedenis wat van laerskooldae by jou ingedril is, met die lees van dié boek stelselmatig losgewikkel word.

Die titel verwys na ’n besondere plant wat die gemene deler is tussen baie van die karakters in die boek – ’n skaars en ontwykende rooi lelie wat vir verskillende mense verskillende betekenisse en gebruike het, maar een wat almal begeer – net soos grond.

Die ander tema, soos ’n ossewasweep deur die boek vervleg, is geskiedenis. Nie net die geskiedenis van ’n mens of ’n gebied nie – en hier spesifiek die Retief-Dingaan-verhaal nie – maar die konsep van geskiedskrywing.

Aan wie behoort die geskiedenis? Wie kan aanspraak maak daarop? En hoe ánders lyk dieselfde gebeure skielik as ’n ander perspektief op die storie skyn?

Wie is die wenners, wie is die verloorders en wie word bloot weggelaat?

Dit word prakties verbeeld in die beskrywing van die ekstra plaket wat eers dekades later by Retief se sterfplek aangebring is om erkenning te gee aan diegene wat in ’n vorige geskiedskrywing onsigbaar was.

Die inskrywing lui: “Op dieselfde dag is meer as dertig agterryers saam met Piet Retief en sy volgelinge by Dingaan vermoor.” (Bl. 282.)

Adriaan maak byvoorbeeld deur navorsing bewyse bymekaar vir litigasie, net om in die hof gekonfronteer te word met verhale van oorlewering: ’n mondelinge geskiedenis wat sy wortels in die voorvaders het en sy toekoms in die oorvertel daarvan.

Deurlopend is daar verwysings na rooi kraletjies of bloeddruppels en Dingaan se bloeddors loop ’n eietydse plaasmoord vooruit . . .

Deurlopend is daar verwysings na rooi kraletjies of bloeddruppels en Dingaan se bloeddors loop ’n eietydse plaasmoord vooruit . . .

Met die terugloop op Magdalena Retief se spore, sien die leser ook vir Piet Retief uit ’n vars hoek.

Magdalena was in vele opsigte meer prakties as haar man. Retief was ’n ambisieuse, dromerige mens, selfs naïef. Meer skouperd as ploegperd.

Debora, Piet en Magdalena se dogter, is haar pa se kind: op die hoogte van politiek, maar onhandig om ’n groentetuin aan die gang te kry of ’n brood te bak sonder om dit te verbrand.

Ferreira se keurige gebruik van woorde lei die leser naatloos tussen die hede en verlede.

Tussen die trekkers word daar herneuters gedra en breek daar ’n trawal uit. In Hanna se wêreld word nuus op Netwerk24 gelees.

Waar gaan die smagting na grondbesit eindig? Kan die wet dit regtig reguleer?

“Daar moet iets anders as die wet wees, Hanna. Iets wat in ons harte gebeur,” sê Adriaan (bl. 268).

En wat is ons nalatenskap? ’n Verbleikte dagboek? ’n Enkele (swart-en-wit) foto as bewys dat jy was? ’n Bloedbad?

Of kan ons onsself sover kry om soos die argeoloog Jimmy te besef: “Niks kan ooit weer gerestoureer word na wat dit was nie . . . Niks kan ooit weer presies dieselfde wees nie . . . Al wat ons het, is vandag.” (Bl. 277.)

In Bloedlelie verweef Ferreira twee verhale wat maklik los kon staan van mekaar behendig tematies en simbolies tot ’n volronde eenheid wat die lesers deurlopend stimuleer en tot die einde boei.

Johanna van Eeden is ’n vryskutjoernalis en -resensent van Johannesburg.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.