Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Afrikaanse boek teen beurtkrag

Dit was ’n groot jaar vir die Afrikaanse boek. Jo Prins maak ’n lysie van die boeke wat jy eenvoudig moet lees.

Harry Kalmer se ‘In ’n land sonder voëls’.

In hierdie dae van beurte, of dit nou krag, water, liefde of geduld is, is daar ’n wonderskone ding wat net met die kop ingeprop moet word.

Ja, ek praat natuurlik van die boek, die leesboek: geen WiFi nodig nie; word nie sommer op die strand gesteel nie (hang natuurlik af van die dief se smaak . . .); en dit het die manier om ’n mens weg te voer via die sinapse van jou eie brein.

En as ’n mens gedink het 2018 was ’n besige jaar op die Afrikaanse boekfront, was 2019 nét soveel van ’n uitdaging om by te bly.

Vra ’n mens die skrywer Lien Botha wat sy dié vakansie nog wil lees, is haar reaksie ’n enkele sin: “Hierdie Krismis slaan ek my oë op na slegs een boek: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden.”

Marita van der Vyver se ‘Grensgeval’.

Interessant genoeg is Botha nie die enigste skrywer en leesgierige wat Van Heerden se jongste magnum opus wil pak nie. Met 600+ bladsye is Die biblioteek nie ligte musiek nie . . . en hou ook dalk Van Heerden se vorige boek, Die wêreld van Charlie Oeng, in gedagte.

Benewens Die biblioteek meen die Stellenbosse literator Louise Viljoen dat Ronelda Kamfer se digbundel Chinatown een van die Afrikaanse boeke is wat vanjaar gelees moet word, so ook Klara du Plessis se eksperimentele Afrikaans-Engels-Franse digbundel Ekke wat in Kanada gepubliseer is.

En hier aan die stertkant van die jaar (waarskynlik juis so beplan vir die Kerskous) is daar Marita van der Vyver se Grensgeval, Anderman se vrou deur Chris Karsten en Irma Venter se Sewe-en-veertig om mee rekening te hou.

Maar in hierdie tyd van aanbidding en in die nasleep van die Springbokke se derde Wêreldbeker-oorwinning, sal jy jouself indoen as jy nie Kerneels Breytenbach se aweregse Hond se gedagte lees nie.

Soos Willie Burger sê: “Hond se gedagte is ’n heerlike draakstekery met die heilige erns waarmee sommige mense sport bejeën . . . en ’n gespot met die fanatiese wyse waarop sommige mense godsdiens beoefen.”

En van een Breytenbach na ’n ander: Breyten Breytenbach se jongste digbundel Op weg na kû is beslis iets om te oorweeg – en nie net vir die fynproewer oor sy glasie verkoelde Pinot Noir nie.

Ook spannings- en misdaadfiksie het gedy, so asof skrywers die kans waargeneem het in ’n jaar waarin Deon Meyer nie ’n nuwe Bennie Griessel op die rakke het nie.

Daardie gentleman van die genre, Rudie van Rensburg, bring met Vloek ’n vorige karakter, Carl Bester, terug om voort te bou op sy tot dusver indrukwekkende oeuvre.

Die navorsing wat Van Rensburg vir sy vorige boek, Medusa, moes doen, het redelik sigbaar sy skouers laat hang (die boek handel onder meer oor mensehandel), daarom is ek bly Rudie is terug!

Rudie van Rensburg se ‘Vloek’.

Dan is daar Die man van Quatro deur Calvyn van Niekerk wat die resensent Jonathan Amid meen nie net iets vir fynproewers bied nie, maar ook vir “die man op die straat”. Van Niekerk se roman is die jongste in ’n vlaag van vergeldingsliteratuur.

Bettina Wyngaard se Jagter is natuurlik ook iets om in gedagte te hou ... soos Amid sê: “Jagter bied ’n korrektief vir geweld teen vroue met ’n eksotiese heldin wat die skuim van die aarde op hul baadjie gee.”

Vir lesers met yster in hul are en wat nie terugdeins vir grafiese geweld nie, is daar debutant Johan Jack Smith se Zola.

Smith se rooi taxi neem jou op ’n grieselrige rit die Goudstad se derms in, maal jou eers fyn en spoeg jou bloederig aan die ander kant uit – ’n wilde rit, maar beslis ’n boek om te oorweeg.

Van debute gepraat, Carina Diedericks-Hugo se debuut-misdaadroman, Karaktermoord, is dalk nét die ding om vanjaar met die tone in die sand te lê.

’n Heel klein boekie, wat sommerso lekker in ’n dagsak pas, is André Krüger se ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid. ’n Boekie wat hoegenaamd nie gering geskat moet word nie.

Krüger, natuurlik die skrywer van die bekroonde debuut Die twee lewens van Dieter Ondracek, bied met ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid ’n heerlike historiese blik op die konkelary van ’n jong Suid-Afrika.

Maar stof eers jou Humphrey Bogart-rolprente af ...

Réney Warrington se ‘Smit Motors’.

Uit dieselfde stal as Krüger se Moeilikheid, is Réney Warrington se Smit Motors ’n uitstekende keuse vir die vakansiemandjie – as jy dit nog nie het nie.

In die mooi én lelik van hemel op die platteland, skep Warrington ’n fyn balans tussen onderliggende spanning en humor – met blikke van menslikheid en feilbaarheid. ’n Mens hoop Warrington is reeds aan’t skryf aan ’n volgende roman.

Een van vanjaar se hoogtepunte vir my was beslis die nou reeds ontslape Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls.

Hoewel toekomsfiksie natuurlik nie elke ou se beker moerkoffie is nie, is Kalmer se Voëls werklik ’n teks om aan te peusel – met genoeg ruimte op die bladsy vir die leser om behoorlik asem te haal.

Ek glo Harry glimlag daar waar hy is ... want hierdie, sy laaste teks in die pylvak, is werklik iets besonders.

Amper hier aan die begin van die jaar, moet ’n mens nie vergeet nie, het Jan van Tonder se Die verevrou verskyn. Van Tonder, veral bekend vir sy roman Roepman, is ’n vakman wat met woorde wonderlike emosies en beelde kan skep.

Ook vroeg-vroeg vanjaar het ’n baie lekker boek met die titel Bos uit die pen van debutant Jaco Wolmarans verskyn. Grensliteratuur, of boeke met ’n sterk skakel met Suid-Afrika se Grensoorlog, het die laaste jaar of wat nogal heelwat die lig gesien.

Wolmarans se werking van hoe die inligtingstrukture hier ter plaatse inmekaarsteek, het ek nog nie voorheen só in Afrikaans gelees nie.

Dan het ek nog nie eers behoorlik uitgekom by die gerf digbundels (behalwe nou Kamfer se Chinatown) wat vanjaar verskyn het wat meer as die moeite werd is om te lees nie.

Ek dink hier aan Loftus Marais se Jan, Piet, Koos en Jakob, Hennie Nortjé se Kryt, Pieter Fourie se Stof en ster en Cas Vos se Vlug van die gees – om werklik maar net ’n paar te noem.

Ja-nee kyk, Afrikaans ís in die moeilikheid ... want hy’s gewoon besig om uit sy nate te bars.

Meer oor:  Lees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.