Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Ander kant van politieke stryd . . .

Wit terroriste’ is ’n tydige erkenning dat Suid-Afrika meer as een geskiedenis van ’n 20ste-eeuse ondergrondse politieke stryd het, waarin die grens tussen radikale politieke weerstand en gewone misdadige gedrag vervaag, skryf Bill Nasson.

Wit terroriste: Afrikaner-saboteurs in die Ossewabrandwagjare deur Albert Blake. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R285.

Albert Blake se boeke het kort titels wat die verbeelding prikkel. Maar lesers wat hulle nie gewoonlik in geskiedkundige werke verdiep nie, kan altemit kopkrap oor die onderwerp van Blake se boek Boereverraaier (2010), en moet vergewe word indien hulle dalk dink dis ’n onthulling oor die verraderlike boere wat in die apartheidsjare die geheime van die Aartappelbeheerraad aan die Sowjetunie uitgelap het. (Die subtitel sou hulle wel inlig dit handel in werklikheid oor teregstellings gedurende die Anglo-Boereoorlog.)

Blake se jongste, Wit terroriste, het weer ’n kompakte titel wat jou so op sy eie onder die wanindruk kan bring dat dit gaan oor die Boeremaglede wat in die vroeë 2000’s bomme geplant het in Soweto, of die berugte Wit Wolf, Barend Strydom, wat in 1988 sewe mense in Pretoria afgemaai het. Nogmaals verhelder die subtitel sake: Dit is ’n beskrywing van radikale regsgesinde Afrikaner-ekstremisme in die koorsige oorlogsdekade, die 1940’s, toe heethoofdige militante deur hul kragdadige drome aangevuur is (waarskynlik nie op dieselfde manier as Freud nie).

Om ’n vinnige voorsmakie te kry van die atmosfeer wat in die stomend obsessiewe wêreld van die Ossewabrandwag (OB) geheers het, kan jy gerus die boek iewers in die middel en reg aan die einde oopslaan. Hier is twee fotoseksies met trotse, uitdagende OB-lede – óf op parade óf aan’t poseer óf merkbaar ontspanne agter tralies.

Blake verstaan duidelik die krag van die paradoks.

Enkele foto’s van vroue weerspieël ’n fantasie waarin pastorale tradisies en industriële moderniteit twee romantiese kante van dieselfde munt vorm.

Jy sien die stilweg uitdagende skoolmeisie Elsa Nel wat as geheime koerier gewerk het, en wat in haar onberispelike Voortrekkerdrag wys hoe vasbyt lyk.

Op die vorige dubbelblad pryk weer ’n onderwyseres wat deel was van ’n terroriste-selgroep, duidelik ’n volledig bevryde vrou in ’n langbroek en kortmouhemp wat effe verleidelik teen ’n kragtige Amerikaanse Graham Supercharger leun – dié vuurwa het sy in gewaagde operasies as ontsnapmotor bestuur. Hierdie vry, subversiewe en minagtende houding van die Pretoriase saboteur Greta Wolf herinner nogal aan die glansryke meisies van bendelede in die Hollywood-misdaadflieks van die Depressie-era.

Net so laat ’n vinnige kykie na die indeks ’n paar dinge uitstaan wat lesers nie net insiggewend sal vind nie, maar ook onverwags of verrassend. Jy tref hier nie net voorspelbare kalante soos Robey Leibbrandt en die innemende Vorster-broers B.J. en Koot aan nie, maar ook Steve Biko, leier van die Swartbewussynsbeweging. Hoekom? Omdat Biko aangehou is in dieselfde polisieselle in Port Elizabeth waar John Vorster 35 jaar tevore as OB- politieke gevangene agter tralies was.

Albert Blake verstaan duidelik die krag van die paradoks, waaraan Wit terroriste nie tekort skiet nie.

Onder die plekke in die indeks word die poskantore van Alberton, Boksburg en Benoni gelys omdat hulle in 1942 deur ’n bende Stormjaer-bomplanters aangeval is. Dit is goed om op dié manier herinner te word aan die gesegde dat alle geskiedenis hedendaagse geskiedenis is. Wie het immers deesdae nog dinamiet nodig – ons poskantore word sommer deur die Suid-Afrikaanse Poskantoor self gesaboteer.

Teen hierdie tyd is dit hopelik duidelik dat Blake se jongste boek nie net nóg ’n standaardgeskiedenis van Afrikaner- nasionalistiese, semimilitêre ekstremisme gedurende die Tweede Wêreldoorlog is nie.

Ja, hy skryf oor al die basiese dinge – die ontstaan van die OB in die 1930’s-Depressiejare en sy kulturele wortels, die beheptheid met die kommandostelsel, die flirtasie met Nasionaal-Sosialisme, die ophemeling van enigiets Teutoons en die haat vir alles Engels – maar eintlik fokus die boek op die OB se netwerk van impulsiewe oproermakers.

Wat die lesers op hierdie blaaie aantref, is ’n intens selfbewuste groep OB-mans en -vroue wat brande gestig het en bereid was om ’n kans te waag, al kon hulle hul vingers lelik verbrand.

Die heethoofdiges was in wese gewelddadige militante wat ontpop het in geheimsinnige saboteurs, bomplanters en sluipmoordenaars wat die Unie van Suid-Afrika onder aanvoering van Jan Smuts tot ’n val wou bring.

Wit terroriste ondersoek kwessies soos wat hulle gemotiveer het om direk teen die staat in opstand te kom, wat die doel was van hul stryd en hoe hulle vandag beoordeel moet word.

In hierdie verband is dit ’n besonder tydige erkenning dat hierdie land meer as een geskiedenis van ’n 20ste-eeuse ondergrondse politieke stryd het, waarin die grens tussen radikale politieke weerstand en gewone misdadige gedrag vervaag het of heeltemal opgehef is.

Hierdie is ’n atmosferiese politieke geskiedenis met ’n rolverdeling van uiteenlopende karakters wat wissel van ouer nasionalistiese fanatici soos die Stormjaer G.L. Brits tot die jeugdige OB-generaal en Boerenasieleier Ray Rudman, wat altyd ’n swastika op die bors gedra het om enige twyfel oor sy standpunte uit die weg te ruim.

Die verhale is wild en waansinnig, bitter en hartseer, selfs verwronge, maar dié aanslag werk. Die skrywer beklemtoon immers hoe belangrik dit vir hom was om “in die mense se koppe te klim om te verstaan wat hulle ontvanklik gemaak het vir hul radikale optrede”.

Blake se poging om lesers tot in die hart en verstand van hierdie rebelle, ook militante vroue, te trek, dek boonop nuwe terrein. Met die uitsondering van een of twee van die meer prominente pro-Nazi-ekshibisioniste soos Leibbrandt, is die stories van die meeste van hierdie deurtrapte ekstremiste, baie van hulle brandarm en wrokkig oor hul minderwaardige status, tot dusver afgeskeep of heeltemal geïgnoreer.

As skrywer is Blake helder en af en toe vermaaklik. Hy vertel die storie van Afrikaner-saboteurs met ’n ligte hand en sonder om ooit die menslike element – of die detail van hul haat vir kleiner teikens soos The South African Jewish Times en The Bantu World – buite rekening te laat.

Hierdie benadering werk grotendeels vir die skrywer. Sy argument is heel aanvaarbaar dat die dominante post-apartheid-geskiedenis van “die swart vryheidsvegters se pogings om wit heerskappy omver te werp” veroorsaak het dat die politieke geweld van die Afrikaner in die 1940’s vandag byna vergete is.

Maar terselfdertyd twyfel ek of almal die oorkoepelende argument van Wit terroriste sal aanvaar. Die skrywer is krities oor die mindere standpunt van ander skrywers wat suggereer dat die OB se ondergrawery en sabotasie maklik deur geregsdienaars in die kiem gesmoor is.

Blake verkies ’n maksimale blik op die impak: Suid-Afrika word in “ ’n oorlog in ’n oorlog” gedompel en is gedestabiliseer en byna steierend ná die OB se gewelddadige aanvalle op spoorlyne, kragstasies en ander strategiese infrastruktuur. Die Smuts-regering was “bitter naby aan anargie”, selfs “op die rand van ’n moontlike bloedbad”. Dit was so hittete of die noodlot “kon maklik anders verloop het”.

Tog kan ’n mens ewe maklik redeneer dat die grootliks amateuragtige en dikwels chaotiese aard van die OB-rebellie nooit die land tot op die rand van ’n soort staatsgreep sou kon dwing nie. Namate die gordyn in 1943 oor Nazi-Duitsland begin sak het, het die OB-aktivisme ook ’n lelike knou gekry.

Maar selfs al laat ’n mens ’n oomblik Wit terroriste se aanvegbare groot stelling buite rekening, is dit nie sensasiewekkende leesstof nie. Hierdie weergawe van die Ossewabrandwagjare laat inderdaad reg geskied aan die volledige titel van die boek.

Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.