Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Ander land is nie vir sissies

Deon Maas draai nie doekies om oor wat dit régtig beteken om jou gemaksone te verlaat nie, skryf Koos Kombuis.

Deon Maas Foto: Marina Mare

Witboy in Berlyn: Avonture in die Eerste Wêreld deur Deon Maas. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R260.

Met sy vorige boek, Melk die heilige koeie: Van baarde en Banting tot Zupta en zol (2016), het Deon Maas die Afrikaanse establishment se stereotipering van hom as “hofnar van die Afrikanerdom” verder gevoer én tot sy voordeel gebruik. Sy nuwe boek, wat gelyktydig in Engels verskyn, beloon aanhangers – en hopelik ook nuwe lesers – met iets meer universeels.

Witboy in Berlyn: Avonture in die Eerste Wêreld is ’n opgawe van die dinge en mense wat Maas se pad gekruis het sedert hy en sy vrou in die middel van 2017 sak en pak Berlyn toe getrek het. Só stel hy dit op bl. 31, ontdaan van die satiriese aanslag wat ’n mens teen dié tyd van hom verwag (of die bitterheid wat van soveel Suid-Afrikaners besit neem as hulle die land verlaat): “Ek en Veda is nie in Berlyn om wraak te neem of gesteelde familieskatte terug te eis nie. Ons is ook nie hier om op iemand se nek te lê nie. Ons is hier om te werk, belasting te betaal en ’n opbouende bydrae tot die Duitse ekonomie te lewer. Ons het ook nie uit Suid-Afrika gevlug nie. Ons wou nie spesifiek die land verlaat nie, maar het albei ’n glasplafon in ons loopbaan bereik . . .”

Wat volg, is ’n grootliks feitelike relaas, afgewissel met aanhalings, brokke persoonlike inligting en gewaarwordinge, plus ’n klomp foto’s wat Maas self geneem en opgekikker het met prikkelende, dikwels humoristiese opskrifte of onderskrifte.

’n Mens sou die eindresultaat kon beskryf as ’n persoonlike tapisserie wat die leser met beelde en persoonlike indrukke bombardeer en wat my met die lees én herlees telkens laat voel het of ek op ’n ander planeet rondloop.

Tussendeur die name, kulturele gebeure en aktiwiteite en interessante feite oor Berlyn, Duitsland en die Duitsers, leer ken die leser ook ’n Afrikaanse Suid-Afrikaner wat hom op ’n fantastiese persoonlike ontdekkingsreis bevind – dieselfde persoonlike ontdekkingsreis, weliswaar met ’n totaal ander aanslag en styl, wat Hannah Papp, ’n Amerikaanse skrywer met Oos-Europese wortels, in haar boek The Mystical Back­pack­er: How to Discover Your Destiny in the Modern World (2015) beskryf.

In ’n vreemde geval van sinchronisiteit was ek toevallig besig om Papp se boek te lees toe Maas se biografiese werk op my lessenaar beland. Hoewel Maas hom weerhou van Papp se didaktiese en filosofiese selfhelp-inslag, ervaar jy Witboy in Berlyn tog ook as die beskrywing van ’n monumentale (durf ek die woord “spirituele” gebruik?) stap in sy lewe. Hy doen nie bloot verslag oor ’n lang oorsese vakansie nie, maar dokumenteer hier as iemand wat met baie moeite – en teen ’n geweldige persoonlike prys – homself ontwortel en oorgeplant het in ’n totaal ander kultuur.

Tog is die verhuising na Berlyn vir Maas terselfdertyd ’n terugkeer na sy oerwortels en dus die voltooiing van ’n sirkel – Berlyn is immers die stad wat sy stamouers, George Michiel Maas en Katharina Köhl, in 1860 verlaat het.

Al stem The Mystical Backpacker wat aanslag betref met ’n menigte ander slapband-selfhelpboeke ooreen, het Papp tog ’n ander benadering tot “enlightenment”. Waar sulke boeke gewoonlik lesers aanmoedig om stil te sit en te mediteer of positief te dink, verkondig Papp ’n evangelie van reis – fisiek reis. En soos Maas verwys sy nie na die reis wat ’n toeris onderneem nie, maar die soort waar jy jou geestelike tentpenne uittrek sodat jy vry kan beweeg tussen nuwe en ou ruimtes.

Mense wat soos Papp en Maas bereid is om ver anderkant hul eie bekende wêreldjie te gaan, doen in werklikheid op fisieke vlak dieselfde as wat M. Scott Peck (in ’n aansienlik geestelike metafoor) aanbeveel in sy laaste boek, The Road Less Traveled and Beyond (1998): “These individuals . . . question blind national and tribal loyalties – and the limitations imposed by their culture – in order to grow.”

Witboy in Berlyn beskryf dieselfde proses, maar volg ’n meer dokumentêre benadering. Dit is soos ’n lywige pak poskaarte uit die vreemde – nie die “Sien julle een van die dae”- of “Wish you were here”-soort nie, maar ’n verblindende, duiselingwekkende reeks beelde en indrukke, ’n warrelwind van belewenisse, wat op die ou end net een ding sê: “Ek is nou hier. Ek was eers daar. Fokkit, ouens.”

Die boek bring ook die nugtere feit by die leser tuis dat Suid-Afrikaners wat hulle in ’n ander land wil vestig, voor ’n magdom nuwe uitdagings te staan kom. Dit is nié ’n maklike stap nie, en die eenrigtingkaartjie is veel meer as om bloot op die vlug te slaan. Net soos Suid-Afrikaners wat besluit om te bly, verg die keuse om te gaan heelwat waagmoed.

Maar ten einde laaste bly Deon Maas steeds Afrikaans. Hy het nie een kultuuridentiteit vir ’n ander verruil nie. Ten spyte van sy fisieke ontworteling het hy niks verloor nie, maar baie gevind. In The Mystical Backpacker beskryf Papp dieselfde verruiming van gees wat gepaardgaan met ’n reis die onbekende in. Tog beklemtoon sy hoe sy, deur die belewing van nuwe ervarings, haar eie, byna vergete Oos-Europese kultuur en afkoms op ’n nuwe manier herontdek en bevestig het.

Witboy in Berlyn het my bewus gemaak van wat dit werklik beteken om jou gemaksone te verlaat, om jouself oop te maak vir splinternuwe dinge, om as vreemdeling in ’n vreemde plek teen wil en dank nuwe oorlewingstrategieë aan te leer.

Nie alle lesers sal Maas se boek ewe veel geniet nie. Op die oog af het dit min relevansie met wat tans in Suid-Afrika of die Afrikanerdom aan die gebeur is, en tog is dit verfrissend om soms ’n verslag te lees van iemand wat van buite na dieselfde landskap kyk. Terselfdertyd is hier wonderlike oomblikke van amper toevallige deernis, soos in hoofstuk 8, waarin Maas beskryf hoe hy tydelik moes terugkeer uit Berlyn en op 56 weer by sy ma in Bellville intrek terwyl die probleme met sy dokumente uitgestryk is. Hier verdwyn Maas se narremasker en sien jy hom soos nie in een van sy twee vorige boeke nie.

Soos The Mystical Backpacker daag Witboy in Berlyn ons uit om nuwe horisonne te verken, groter te dink, verder te kyk, en meer volledig mens te word as wat ons ooit gedink het moontlik is.

Vir my was Maas se boek ’n bevryding van die engtevrees wat ek al ervaar het binne my eie landsgrense, my eie volk, my eie vriendekring, en al die bekende dinge, daardie byna Sartreaanse weersin in ’n roetinelewe sonder verrassings.

* Lees ’n uittreksel uit Witboy in Berlyn hier.

* Koos Kombuis is ’n skrywer en afgetrede popster.

Ontmoet die skrywer

  • Stellenbosch: Danie Marais is die gesprekleier by die Woordfees en praat op 7 Maart om 17:00 in die ATKV-Boektent met Deon Maas. Bespreek by Compu­ticket.
  • Kaapstad: Marais en Maas is weer in gesprek op 12 Maart (18:00 vir 18:30) by La Bottega in Sir Lowryweg. RSVP: jmk@jonathanball.co.za
  • Johannesburg: Charles Leonard lei die gesprek met Maas op 14 Maart om 18:00 by die Richmond Studio Café, Mentonweg 14. RSVP: jmk@jonathanball.co.za
  • Pretoria Op 15 Maart (18:00 vir 18:30) gesels Jaco van der Merwe van Bittereinder met Maas by Uppercase Books op die hoek van Aramist- en Corobaylaan in Menlyn. RSVP: john@uppercasebooks.co.za of 012 348 1835.
Meer oor:  Deon Maas  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.