Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Avant-garde-skrywer wat sy tyd vooruit was

P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie pagter hier – ’n hul­diging

Heilna du Plooy

LITERA, R385

Niefiksie

Is dit wat die letterkunde betref ’n geval van “dom resensente en slim lesers” soos P.G. du Plessis dit genoem het?

Resensente is natuurlik nie altyd reg nie en die gemiddelde leser moet nie onderskat word nie. Heilna du Plooy se huldiging van P.G. du Plessis is nie ’n lewenskets van die bekende skrywer as sodanig nie, die enkele biografiese feite ten spyt.

Dit is ’n diepgaande waardering van Du Plessis se uitgebreide oeuvre en ’n korrektief wat betref aanvegbare waardeoordele wat vroeër oor sy werk gemaak is.

Twee van die inleidende hoofstukke deur Du Plooy verskaf interessante biografiese feite. Met N.P. van Wyk Louw se terugkeer uit Nederland om by Wits te doseer, neem P.G. “die grootste korrekte besluit” van sy lewe om onder Louw te gaan studeer (bl. 24).

Louw word ’n lewenslange vriend en mentor vir Du Plessis.

Sy vriend Hans du Plessis sluit die inleidende gedeelte mooi af met “ ’n Vriend anderkant die woord”.

P.G., soos hy in die volksmond bekend gestaan het, se veelsydigheid is legendaries. ’n Avant-garde-skrywer wat sy tyd vooruit was. Iemand wat op vernuftige wyse aktuele sake só kon aanbied dat gehore dit geniet het.

Daarby was sy werk nie dienstig aan die volksideaal soos voorgeskryf deur die elite nie.

P.G. se eerlike uitbeelding van die Afrikaner met al sy foute en vratte en om die karakters te laat praat soos rêrige mense praat, is ongelukkig nie altyd goed deur sogenaamde puur Afrikaanse kritici ontvang nie.

Omdat P.G. se oeuvre so veelvlakkig en omvattend is, volg Du Plooy as samesteller van die bundel ’n praktiese werkswyse. Sy dramas, verhale en TV- en rolprentwerk word in verskeie diepte-artikels onder die loep geneem deur kenners in die onderskeie genres.

Die beoordeling van kreatiewe werk en kuns in die algemeen bevat altyd ’n element van subjektiwiteit.

Was P.G. se verhoogdramas onnodig eksegeties soos kritici beweer het? Wat dramatiese elemente betref, word P.G. se besondere aanvoeling vir dialoog, wat die belangrikste element van dié genre is, genoem. Aanvullend egter word daarop gewys hoe funksioneel die didascalia in veral Siener van die suburbs aangewend is om die boodskap oor te dra.

Iets gebeur egter veral ná ’n Seder val in Waterkloof toe dit volgens P.G. nie die nodige erkenning by die kritici ontvang nie. Daar kom ’n verwydering tussen hom en die establishment.

P.G. laat hom só uit oor sogenaamde “dom resensente”:

“. . . die verwagting van resensente, die skrywers oor boeke, hulle deur wie se hol koppe die heersende modewinde warrel van wat goed en kwaad is . . .” (bl. 121).

Ironies egter is die vele pryse wat P.G. wel ontvang het – wat twee Hertzogpryse insluit.

Ter wille van ’n objektiewer benadering van P.G. se drama-oeuvre spesifiek word die kwessie van literêre ontvangs teenoor die produksiegeskiedenis van sy dramas bekyk. Dit is niks minder as fassinerend nie.

Die speelvakke van byna al sy dramas getuig van fenomenale sukses. Neem ’n Seder val in Waterkloof wat Send for Dolly word as voorbeeld en die gewildheid van dié stuk in die Baxter (bl. 160).

Wat sy verhale betref, is die artikel deur Hein Viljoen oor Fees van die ongenooides (dié roman is met die Helgaard Steyn-prys bekroon – ’n prys wat literêre gehalte en verkoopsyfers in ag neem) by uitstek onderhoudend. Dit bevestig P.G. as virtuose romansier.

P.G. se televisiewerk en sy bydrae as baanbreker op hierdie gebied word ook onder die loep geneem. Dit is ’n medium waarvoor hy aanvanklik sy neus opgetrek het.

Weer eens is dit sy talent vir dialoog wat vir uiters geslaagde draaiboeke sorg. Ikoniese produksies sluit in Koöperasiestories en Mattewis en Meraai wat hy vir TV verwerk het.

Soos prof. Elize Botha dit in ’n brief aan P.G. stel: “Elkeen kies sy eie P.G.” (bl. 172).

Vir hierdie resensent is dit P.G. die causeur. Kan daar ooit weer iets soos ’n Spies en Plessie wees?

Onder die wonderlike stel foto’s wat ingesluit is, is daar die foto van ’n beeld uit hout gebeitel – van ’n man wat lees, wat paslik heet Bysiende. Ja, P.G. was ook beeldhouer!

As bonus word ’n uittreksel uit P.G se onvoltooide roman, Die bitter van olyf, ingesluit.

Hy was ’n rukkie pagter hier met sy akademiese inslag wat steun op literêre teorie, sal hopelik belangstelling onder ’n wye leserspubliek geniet.

Benewens dat studente en dosente dit akademies stimulerend sal vind, is die bundel bestem om ook nuwe waardering vir sy oeuvre onder gewone, oftewel P.G. se “slim lesers”, te verseker.

Hierdie huldeblyk deur Heilna du Plooy is nie net ’n verrykende leeservaring nie, dit maak ook ’n belangrike stelling. Die beoordeling van kreatiewe werk en kuns in die algemeen bevat altyd ’n element van subjektiwiteit.

Hy was ’n rukkie pagter hier bevestig die ereplek wat P.G. du Plessis in die Afrikaanse literêre kanon verdien.

  • Francois Bekker is ’n vryskut­resensent van Pretoria.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.