Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Betrokke debuut met ’n hart wat sterk klop

In Pieter Odendaal se meesleurende debuut soek ’n jong, wit, manlike Afrikaanse digter na ’n sinvolle bestaan – nie net vir homsélf nie, maar ook vir sy Suid-Afrikaanse medemens, skryf Alfred Schaffer.

Pieter Odendaal Foto: Retha Ferguson

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie deur Pieter Odendaal. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R200.

Kort nadat die Nederlandse digter Remco Campert die gruwels van die Tweede Wêreldoorlog oorleef het en dan deur middel van poësie ’n toekoms vir homself én sy generasiegenote opeis, skryf hy in die gedig “Poëzie is een daad” (1955): “Ik bevestig / dat ik leef, dat ik niet alleen leef”.

Dit is asof Pieter Odendaal se langverwagte debuutbundel Campert se soort betrokkenheid eggo.

Die veelseggende opdrag lui “Vir al my medestryders”. Hoewel die beeld van ’n gefragmenteerde, gepolariseerde Suid-Afrikaanse samelewing sterk deurklink, is Odendaal se gedigte ook bakens van hoop. Uiteraard is die woede en magteloosheid plek-plek voelbaar, maar die stem wat hier praat, is saggeaard.

vir my ouers
as julle sou sterf in die reën

mag die lug sy skoonmaakstof oor julle was

mag die hemele grens en al sy sinkplate flikker

hou so lank as moontlik die mondoë oop

drink stadig aan die laaste lig

moenie oor ons worry nie –

julle het ons grootgemaak

met mieliepap en die kinderbybel –

ons sal fine wees

onthou eerder die weekheid

van julle soepel lywe

die koppies wat julle saam uitgeklim het

die sandstorm-sonsondergange

die inkswaels wat liefdesbriewe

 teen die bladsy van die aand kom skryf

Die bundel is ’n bestekopname van ’n tot dusver nie-geboekstaafde lewe, en gevolglik is daar ’n hele rits aanhalings en skrywers wat as bondgenote optree: By húlle hoort ek, sê die digter wat hier ’n begin maak, dié is my gemeenskap.

Dit is ’n diverse klomp. Daar is ’n aanhaling uit die formidabele Collective Amnesia van Koleka Putuma; ’n gedig vir die oorlede digter Keorapetse Kgositsile; Wopko Jensma word aangehaal, en so ook Gil Scott-Heron, Antjie Krog en Tumi Molekane. Selfs die afro-psigedeliese “future pop”-sekstet Bantu Continua Uhuru Consciousness kom verby, en daar is ’n werklik roerende gedig vir Adam Small, wat eintlik handel oor lojaliteit en vergifnis.

Hierdie gedigte is sowel persoonlik as uiters polities. ’n Jong, wit, manlike Afrikaanse digter soek na ’n sinvolle bestaan, nie net vir homsélf nie, maar vir homself én sy Suid-Afrikaanse medemens. Meertaligheid is geen hindernis nie, maar ’n gegewe: Enkele gedigte is in Engels, en een gedig begin soos volg: “ek skryf hierdie gedig vir jou in afrikaans / omdat ek nie seker is / of ek wil hê jy moet dit lees nie”.

A.G. Visser se “Die swarte osse” word in stukkies gesny en omvorm tot “Occupying ‘Die swarte osse’ van A.G. Visser”. Van Wyk Louw en Opperman kom enkel nog verby in Toast Coetzer se snaakse en opstandige “natuurgedig”, wat Odendaal in sy geheel aanhaal voor die tweede afdeling, “heil die planetêre skeppers”.

Uiteraard is daar gedigte oor familie, vriende, die liefde, al die aspekte wat ’n rol speel in ’n menselewe.

Dit is egter betekenisvol dat die bundel, wat uit vyf afdelings bestaan, open en eindig met ’n afdeling met die titel “re mang”. Want ja, wie is ons? En wie is “hulle”? En is “hulle” nie eerder “ons” nie, en “ons” “hulle”?

In die pryslied “Bra Willie” vir die digter en aktivis Keorapetse Kgositsile posisioneer Odendaal homself uitdruklik: “ons almal huil en skryf vandag vir jou – / neem hierdie inverted-coconut-gedig / hierdie vlammende offer / wat ek versigtig neerlê / hier / in die middel van dié salteño-pad”.

Die politiek en die persoonlike word op ’n vanselfsprekende wyse met mekaar verbind. Voorbeelde hiervan is “ons wou net

peoples wees”, wat ’n liefdesverhouding skets tydens die #FeesMustFall-protesoptogte aan die hand van Whats­App-frag-

mente; “for mzansi”, ’n teks wat bestaan uit ’n opeenstapeling van anonieme kommentare onderaan ’n artikel op News24; en “fragmente”, oor die versteekte uitvloeisels van die koloniale erfenis.

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie

Odendaal is ’n gerekende performance-digter en sy gedigte voel duidelik tuis op die verhoog, voor ’n gehoor. Die digter skram nie weg van ’n mengsel van patos en stewige simboliek in gedigte met ’n sosiopolitieke inslag nie, soos “Hulle – ’n duet”, “in praise of protest”, “gebed”, “Ballade” en “piesangskille en bloed”.

Maar nie net stryd en politieke selfbewustheid is belangrike temas nie. Depressie en seksuele soeke en onsekerheid word delikaat verwoord, soos in “noudat my dae”, “verkenning” en “vir adam”.

Die gedig “some jocks have tutus” is ’n kwetsbare kleinood, waarin die “ek” dig oor sy “fynbesnaardheid” tydens sy hoërskooljare:

maar ek het my oë bly wegsteek

waar ek hulle nie kon kry nie

ek het my met dieselfde asem

geteken en uitgevee

In dié sin is Asof geen berge ooit hier gewoon het nie die openbaring van ’n digterlike stem wat homself nie langer uitvee nie, maar hom uitspreek oor alles wat hy liefhet en verafsku.

Die jeugjare en die familie word beskryf met deernis en eerlikheid, soos in “vir my sussie”, “ou man sonder hemp”, “die see glim soos”, “skielik spring ek 20 jaar terug” en “vir Oupa Piet, dood voor ek gebore is”, waarin die digter besef die verlede is onlosmaaklik deel van wie ons is:

’n collage van al my oorspronge

my voorouers wat ook om my is

sodat hulle wat nie meer hulle is nie

hulself deur my oë

in die wind kan ken

Hierdie gedigte in die derde en middelste afdeling, “voor ons deurskynend word”, is wat my betref die kloppende hart van die digbundel. Ja, uiteindelik is Odendaal ’n liefdesdigter. Lees maar net die eerste reëls van “vir my ouers” hierby.

Strydlus, poëtiese talent en medemenslikheid maak van Asof geen berge ooit hier gewoon het nie ’n ryp en meesleurende debuut.

  • Dr. Alfred Schaffer is verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch. Sy bekroonde digbundel Mens Dier Ding, in Afrikaans vertaal deur Zandra Bezuidenhout, verskyn in November by Human & Rousseau.
  • Lees ook hier.

Meer oor:  Pieter Odendaal  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.