Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Boeiende dieptestudie

Die briewe en onberispelike navorsing en tyd- en konteksgerigte feite in die pragboek ‘Sulke vriende is skaars’ verleen nuwe lewe aan die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis, skryf Paul Boekkooi.

Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949-1981, saamgestel deur Stephanie Vos en Stephanus Muller. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R395.

Soms word die indruk geskep dat die musiekgeskiedenis oorlaai is met biografiese en ’n magdom ander feite. Die bron daarvan en die daaruitvloeiende kennis kom uit die pen van beroemdes wat andersins waarskynlik nooit aan ons geopenbaar sou kon word nie. Verreweg die meerderheid van hierdie akademiese publikasies was bepaald nie op wye openbare verbruik gemik nie. Dit was eerder ’n geheimenisvolle tweespraak tussen vakgenote wat deur hul gesamentlike korrespondensie óf ’n hegter eenheid van begrip óf ’n dieper vriendskap óf albei kon ontwikkel.

Enkeles onder die talle voorbeelde is die intense en soms langdurige korrespondensie tussen Johannes Brahms en Clara Schumann-Wieck, dié tussen Gustav Mahler en Alma Schindler, sy latere eggenoot, plus die eweneens misteriegelaaide briefwisseling van 13 jaar waartydens Piotr Iljitsj Tsjaikowski met ’n beskermvrou wat hy nooit ontmoet het nie, madame Nadia von Meck, uitsluitlik skriftelik in kontak was.

Die briefwisseling oor 32 jaar tussen die komponis Arnold van Wyk en die dirigent Anton Hartman is binne hul leeftyd as parallelle tydgenote nooit aan die spreekwoordelike groot klok gehang nie. Dit was waarskynlik slegs lede van geslote binne- of vriendekringe wat daarvan bewus was. Die geskiedenis het ook oor eeue gewys die noue professionele verhouding, of dan ’n sinergie soos in dié geval tussen ’n komponis en dirigent, vir albei tot groot voordeel kan wees.

Veral in die 20ste eeu, met die aankoms van ’n meer “radikale” moderniteit en verskeie nuwe, meer progressiewe vertakkinge in die ontwikkeling van musiek, het veelvuldige en hegte verbintenisse tussen komponiste en die vertolkers van hul musiek noodsaaklik begin word.

Soveel meer waardevol as blote feite.

Om slegs een voorbeeld te noem: Igor Strawinski (1882-1971) se vennootskap met die man wat sy belangrikste eksponent sou word, die Amerikaanse dirigent Robert Craft (1923-2015), was hoogs bevorderlik vir albei. Al was laasgenoemde 31 jaar jonger, het hy met verloop van tyd begin instaan vir Strawinski toe dié se kragte as dirigent begin taan het. Hul korrespondensie deur middel van uitdagende, karaktervolle briewe, plus ’n tersaaklike verstandhouding waar begrip en artistieke groei prominent begin uitstaan het, was ’n hoofkenmerk by dié tweemanskap, asook ’n voorbeeld van hoe so iets konstruktief en doeltreffend in die praktyk toegepas kan word.

Ek glo nie Van Wyk en Hartman se verbintenis was enigsins op die voorbeeld hierbo geskoei nie. Daarvoor was hulle s’n (ten minste op skrif beoordeel) te vriendskaplik gerig en dalk, retrospektief beskou, net ’n aks té beskaafd, of dalk te voorbehoudend? Hartman was ’n ingesweerde Broeder binne die Afrikaner-kultuur en -politiek van sy dag. Sy wydlopende patriotiese strewes wat bó alles musiek in al sy vorms ingesluit het, was uiteindelik ook doelgerig genoeg om sy eie mag en ambisie tot die bereiking daarvan aan te wend.

’n Enkele voorbeeld: In sy pogings om Afrikaners meer bewus te maak van opera as kunsvorm het hy en verskeie eendersdenkendes sommige operas in Afrikaans begin vertaal. ’n Sterk teenargument het Hartman by monde van Mimi Coertse bereik. Mia Hartman, skrywer van die hoogs insiggewende lewensgeskiedenis van haar oom onder die titel Anton Hartman: Dís sy storie, het ons grootste diva se argument só verwoord: “Sy (Coertse) het geglo dat té veel van die nuanses en kleure van die oorspronklike libretto (met die musiek wat daarvoor geskryf is), in ’n vertaling verlore raak. Die taal waarin die opera oorspronklik geskryf is, het sy geglo, was juis so ’n integrale deel van die werk dat vertalings té veel opoffer ter wille van meer liefhebbers.”

Van Wyk was in velerlei opsigte bykans ’n teenpool van Hartman: Van nature skugter, in homself gekeer, asook met gereelde tussenposes tot op ’n bykans vernietigende vlak té selfkrities. Hy was belas met ’n swaartillende melancholie en ’n steeds terugkerende worsteling oor sy seksuele oriëntasie. Weens sy relatief beperkte vriendekring was hy merendeels ’n eensame mens.

Met slegs 27 voltooide komposisies wat oor ’n leeftyd ontstaan het, kan sy produktiwiteit as synde ver onder die gemiddelde beskou word; tog was hy een van die vroegstes en een van die grootstes onder Afrikaanse komponiste van ernstige musiek. Die musikoloog prof. Jacques Pierre Malan skryf in 1984 in ’n huldeblyk aan Van Wyk onder meer die volgende: “Dit was die werk van een man wat abstrakte kunsmusiek in Suid-Afrika gevestig het: Arnold van Wyk. Hy was ons eerste soewereine klankmeester, die eerste profeet van Suid-Afrikaanse musiek wat oorsee aandag op homself as skeppende kunstenaar gevestig het.” Met sy terugkeer uit Brittanje na sy geboorteland in 1946 het hy sy verbintenis met Afrikaans volledig herstel en dit selfs uitgebrei met die ontstaan van onder meer ’n stilisties wydlopende verskeidenheid van koorwerke.

Prof. Stephanus Muller en dr. Stephanie Vos se navorsing vir Sulke vriende is skaars is onberispelik. Alles ontvou helder en met ’n logiese chronologie waarbinne waardevolle inligting binne die tyd- en konteksgerigte feite ontgin is en wat dan op húlle beurt in die uitgebreide voetnotas weerspieël word. Die musiekgeskiedenis soos ek dit in my jonger jare ervaar het, verkry bepaald ’n nuwe lewe en ’n bykans enorme begripsverbreding wanneer die inhoud van die briewe ingeneem en ontleed word.

Met Hartman en Van Wyk as skrywers binne daardie geskiedenis styg dit volkome en ver bo verslaggewing uit. Die persoonlike waarnemings en die eiesoortige skryfstyl wat daarmee verbind word, maak dit alles soveel méér waardevol as blote feite. Soos in die mees oorspronklik geskrewe romans voel ’n mens intuïtief ook die onderliggende en verborge spanningslyne aan by die mans se uitinge rondom die meer negatiewe en soms selfs beklemmende waarnemings wat by albei van tyd tot tyd na vore kom. Hier dring dan enkele kere ’n paar verrassende maar vernietigende subtekste onverwags na vore.

So, byvoorbeeld, ontplof Van Wyk se aanvanklik stadig opbouende weersin teen Thys van Lille, die SAUK se destydse hoof- finansiële beampte, tot op die vlak van ’n hewige geverbaliseerde kopstampery. Ook hier sou, ironies genoeg, die komponis die éérste wees wat misverstaan word – ’n proses wat waarskynlik reeds met Jubal in die Bybelse Ou Testament ontstaan het . . .

Daar was jare wat sonder skriftelike kommunikasie tussen Hartman en Van Wyk verloop het: 1950, 1951, 1967, 1970, 1972, 1978 en 1980. Slegs in ’n paar gevalle sou die leser kon aflei dat dit iets anders as werkdruk sou kon wees wat dié verwydering veroorsaak het.

Hartman is deurgaans baie eerlik oor die minder as ideale trajek wat sy ambisie om ook ’n dirigent van naam búite die raamwerk van Suid-Afrika te word gefnuik het. Dit sou langer periodes van gereelde studie onder die voorste oorsese maestro’s geverg het om dit te kon bereik. Laat ons eerlik wees: Hartman het ’n leeueaandeel daarin gehad om – te midde van ander tydrowende en opofferende projekte – uiteindelik verskeie orkeste tot stand te bring of te hervestig. Sonder sy belegging in en insette rondom skoolmusiek en die opleiding van jong musici om as latere voedingsare vir ons professionele orkeste te dien, sou die land vandag heelwat armer gewees het.

Protea Boekhuis het geen moeite ontsien om van Sulke vriende is skaars ook visueel ’n pragproduk te maak nie. Benewens foto’s van geskiedkundige belang is daar selfs afdrukke waarop albei briefskrywers se handskrifte verskyn – iets wat handskrifontleders tot ’n dieper kennis van Van Wyk en Hartman se ware persoonlikheidsamestellings kan dryf.

’n Laaste wens: Dieptestudies oor Suid-Afrikaanse komponiste en musiekleiers moet deur ons musikoloë voortgesit word. Dit is veral Stefans Grové (1922-2014) wat nou dringende aandag verdien. Hy was ’n uitgesproke Renaissance-man, verbasend produktief en met ’n blik op Afrika wat ’n simbiotiese dinamiek uitgedra het.

  • Paul Boekkooi is ’n vryskut-kunstejoernalis en -resensent van Johannesburg.
Meer oor:  Briewe  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.