Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Boek vir Boetatjie

‘Breyten Breytenbach: Woordenaar, woordnar’ is ’n veelfasettige huldeblyk aan dié 80-jarige towenaar van die taal, skryf Ronel de Goede Foster.

Breyten Breytenbach in 1989 in Parys. Foto: Getty Images

Breyten Breytenbach: Woordenaar, woordnar – ’n Huldiging, saamgestel deur Francis Galloway. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R230.

In die gedig “H. Vitus” in Breyten Breytenbach se gevangenisbundel (‘YK’) uit 1983 wil die spreker sy brein leer om ’n verskeidenheid rolle in “Gev. Breytenbach se soeper sirkus sjou” te vertolk: as gimnas, sweefstokakrobaat, perderuiter en aap wat die kieliebak krap en op die “tone van één voet [...] balie-balanseer”.

’n Mens sou kon byvoeg: kulkunstenaar, towenaar, nar. Hierdie soepelheid van brein, denke en kreatiwiteit kenmerk die digkuns van Breytenbach oor ’n tydperk van 55 jaar – van sy debuut in 1964 met Die ysterkoei moet sweet tot sy mees onlangse bundel, Op weg na kû (2019).

Hy is die “woordenaar” en “woordnar” wat aan ons bekend maak “wat ons liewer nie wil weet of onthou nie”; hy en ander woordkunstenaars “openbaar ons aan onsself”.

Francis Galloway en medewerkers se huldigingsbundel Woordenaar, woordnar, die vierde in die reeks van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ter ere van woordkunstenaars wat die Hertzogprys ontvang het, is ’n veelfasettige huldeblyk aan Breyten Breytenbach – die 80-jarige towenaar van die taal.

‘Burger voer aan sy denke het deurgaans konstant gebly.’

Die eerste sin van dié erebundel stel dit duidelik dat dit gekonseptualiseer is as ’n “akademiese boek”. Soos wat die geval is met die ander publikasies in die reeks (tot dusver oor Adam Small, P.G. du Plessis en Pieter Fourie), sal dit egter ’n breë spektrum lesers interesseer, juis omdat dit oor ’n ikoniese figuur handel en ’n verskeidenheid onderwerpe bestryk.

Die boekejoernalis Willem de Vries se skriftelike onderhoud met Breytenbach lei die goed gestruktureerde bundel in. Die vrae is weldeurdag; die antwoorde uitvoerig en insigryk. Kernaspekte van Breytenbach se filosofie en skryfwerk kom aan bod, onder meer die verstrengeldheid van etiek en estetiek; die belang van ’n etiese verbeelding; die konsep van die Middelwêreld (“tusseninwêreld”); kritiek teen enige vorm van magspolitiek; kreolisering en hibriditeit; die “bestaanskrisis” van Suid-Afrikaanse universiteite; literêre tradisies en kanonisering; musiek; uitgewers en pryse; invloede en gespreksgenote; vertaling; Oosterse filosofieë; en – les bes – Yolande.

Breytenbach se deelname aan openbare debatte oor dekades heen en sy skynbare manteldraaiery het al aanleiding gegee tot groot omstredenheid. Sommige mense was (en is) die josie in oor sy uitsprake, terwyl ander aan sy lippe hang.

In Willie Burger se stimulerende essay oor die belang van ’n morele verbeelding in Breytenbach se opstelle, lesings en briewe voer hy aan dat Breytenbach se denke deurgaans konstant gebly het. Hy is in verset teen alle vorme van magsuitoefening, stagnering, kleinburgerlikheid, benepenheid, eenogigheid en die onderdrukking van kreatiwiteit. Sy gemoeidheid met taal blyk enersyds uit sy afkeer van taal wat inperk en dogmaties word, en andersyds uit sy voorkeur vir taal wat geestesverruiming en kreatiwiteit bevorder – onderskeidelik “woorde wat vaspen” en “woorde wat oopmaak”.

Die beroemde (en berugte) uitspraak van Breytenbach in 1973 by die Somerskool van die Universiteit van Kaapstad dat die Afrikaners 'n “bastervolk” is wat ’n “bastertaal” praat, is die vertrekpunt van Hein Viljoen se interessante essay oor kreolisering of hibridisering in Breytenbach se latere bundels. Kreolisering gaan nie net oor die taal nie, maar oor grensoorskryding op verskillende vlakke: tussen ek en die ander; woord en beeld; eendersdenkendheid en andersdenkendheid. Kreolisering behels die “anders-maak” van die verstarde denke; die blootstelling aan ander opvattinge. Breytenbach bestempel dit by geleentheid as “die werklike gawe van mededeelsaamheid”. Hoewel woorde soos baster en verbastering nie meer in Breytenbach se onlangse bundels voorkom nie, geskied sy skryfwerk steeds deur kreolisering, begripsvermenging, grensoorskryding, metamorfose en transformasie.

Naas essays deur bekende Breytenbach-kenners bevat die bundel ook ’n opstel deur die jong akademikus Alwyn Roux. Die titel is “Landskap en Dasein in ‘New York, 12 September 2001’ en ‘die eiland van verbranding’ ”. Eersgenoemde gedig verskyn in Die windvanger (2007) en bied ’n beskrywing van die verwoeste landskap ná die skrikwekkende gebeure van 9/11, terwyl laasgenoemde gedig in Katalekte (2012) verskyn, met ’n uitbeelding van ’n sterwende vriend voor ’n vensterruit. Met behulp van Heidegger se landskapsfenomenologiese benadering bespreek Roux die digter se bemoeienis met die vraag na wat dit beteken “om te wees” en daaruit voortvloeiend sy voorstelling van die manier waarop sterflikes die aarde bewoon.

In haar gedeë opstel ondersoek Louise Viljoen die verskyningsvorme van die hond in Breytenbach se latere poësie, en wel vanuit ’n dierestudies-perspektief. In kombinasie hiermee lê sy ’n verband met die filosofie van Diogenes van Sinope, een van die grondleggers van die Sinisme. Dié eksentrieke boemelaarsfiguur het in ’n groot kleipot op die markplein gebly: ’n basterbrak as “blaffende wysgeer”. Viljoen pas Diogenes se filosofie op die kenmerke van die digter en sy werk toe: anar­gisties, polemies, teenhegemonies, vryblywend, kosmopolities, hibridies. Hoewel die hond meestal as metafoor of troop in Breytenbach se werk funksioneer – byvoorbeeld die skryfhand as hond in die derde “lappesait”-gedig in Die windvanger (2007) – skemer daar ook soms bewyse van ’n werklike dier deur, soos in die makabere gedig “(Koop ’n hond)” uit Die beginsel van stof (2012).

Die “kompulsiewe vertaler” Catherine du Toit noem haar provokerende essay “Vertaling as transgressiewe potensiaal. Lojale verset 2.0”. Hierin bevraagteken sy die afdwing van vertaalteorieë op enige benadering tot of bespreking van vertalings. Konvensies en reëls soos byvoorbeeld dat vertalers in hul moedertaal moet vertaal of dat slegs digters poësie kan vertaal, is vir haar aanvegbaar. Haar vertaling in Engels van tekste uit Breytenbach se Katastrofes en Die miernes swel op het gelei tot ’n sinergistiese samewerking met Breytenbach wat beslag gekry het in hul e-poskorrespondensie. Die konsep tussen-woordigheid(ontleen aan Camille de Toledo, alias Alexis Mital) word ’n belangrike begrip vir hulle: Breytenbach stel voor dat hulle na “veeltaligheid” verwys as “‘tussen-woordigheid’, aanwesig tussen die woorde soos 'n skrynwerker tussen sy werktuie”.

Johann Rossouw se fassinerende bydrae is getitel “Uit die stilte: Breyten Breytenbach, Karel Schoeman, Arvo Pärt”. Dit bied ’n verkenning van die verhouding tussen enersyds die bewuste beoefening van stilte, soos byvoorbeeld die Zen-Boeddhistiese meditasietegniek (zazen) en die Christelik-Ortodokse stilgebed (hesigia), en andersyds die skeppingsproses. Breytenbach se bundel Met ander woorde: Vrugte van die droom van stilte (1973) dien as uitgangspunt.

Die opstel word gekenmerk deur gedagtespronge – ook na Rossouw se eie ervaring: eers as Zen-monnik en later as Ortodokse priester. Die spronge word voortgesit in die uitgebreide voetnote, wat inligting oor stiltebeoefening en selfledigingspraktyke verskaf – miskien ’n vergestalting van Breytenbach se beweeglike denke. (Op p. 179 beslaan die voetnote selfs meer bladruimte as die hoofteks!)

Die laaste twee hoofstukke is uit die pen van Galloway en spruit voort uit haar belangwekkende doktorale proefskrif, in 1990 gepubliseer as “Breyten Breytenbach as openbare figuur” (beskikbaar op die webblad dbnl.org). Die omvangryke oorsig oor die skrywer (en kunstenaar) se loopbaan en openbare optrede is boeiende leesstof (ook om die gedagtes te verfris).

Breytenbach se uitgebreide skrywersproduksie omvat 50 boeke wat in 55 jaar in Suid-Afrika gepubliseer is; ook menige uitgawes in ander tale.

Bekronings en pryse is legio. Hy is ’n Nobelprys waardig.

Die slothoofstuk handel oor Breytenbach en die verwikkeldhede (en onverkwiklikhede) van die Hertzogprys vir poësie. Galloway beskryf in fyn besonderhede die literêre en maatskaplik-politieke klimaat van die 1960’s en ’70’s: die woelinge om die prys en die weerhouding daarvan aan Breytenbach. Toe die prys uiteindelik in 1984 aan hom toegeken word vir sy tweede tronkbundel, (‘YK’), wys die digter dit van die hand omdat die aanvaarding daarvan nie sou bydra tot maatskaplike verandering nie.

In 1999 aanvaar hy wel die prys vir Oorblyfsels en Papierblom, en in 2008 vir Die windvanger.

Benewens die bronnelyste onderaan die individuele artikels bevat die huldigingsbundel ook 'n “Uitgesoekte bibliografie”, opgestel deur Galloway en Roux. Dit beslaan 64 bladsye en omvat sowel primêre as sekondêre bronne. Dit is ’n besonder nuttige, informatiewe dokument – hopelik sal dit eendag aanlyn beskikbaar wees. Leemtes in die navorsing tot op hede is oor Breytenbach se betrokkenheid by die Gorée-instituut en sy optrede as podiumdigter.

Die erebundel is keurig uitgegee deur Protea Boekhuis. Vyftien foto’s weerspieël belangrike fases en momente in Breytenbach se lewe – van ’n gesinskiekie uit 1948 tot ’n foto wat in 2019 voor die Breytenbach-sentrum geneem is. Die treffende omslagfoto is deur Cloete Breytenbach, wat ’n paar maande voor sy broer se 80ste verjaardag oorlede is.

Op die omslag van Op weg na kû verskyn ’n skildery van Breytenbach met die titel Boetatjie van die Kaap: ’n selfportret as mediterende Boeddha-figuur.

Galloway en haar medewerkers se boek is ’n besondere huldeblyk aan dié Boetatjie van die “bastertaal” Afrikaans.

  • Ronel de Goede Foster is ’n emeritus-medeprofessor van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.