Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Boek vol humor om kleintjies se seer draaglik te maak
‘Hoephoepieland’ se buiteblad.

“Ek het altyd vir jong sielkundiges gesê julle kan by skole beland wat nie goed toegerus is nie, maar jy het ’n mond waarmee jy stories kan vertel en dié manier van terapie kan jy selfs onder ’n boom doen.”

Met ’n PhD in kindersielkunde en 35 jaar se praktykervaring weet Ronél van der Watt hoe om kinders te benader en wat hulle nodig het.

“Kinders vereenselwig hulle met karakters in stories, en situasies wat in storievorm uitgebeeld word, weerspieël ’n kind se emosies en gee hulle woorde vir dit wat hulle ervaar”.

Dit is waarom Hoephoepieland ontstaan het, om “empatie by kinders te ontwikkel en hul kennis van verskillende lewensomstandighede te verbreed”.

Van der Watt sê die tien omgee-stories in die boek het lank in haar gebroei en eers ná haar aftrede kon dit in boekvorm neerslag vind.

Die sielkundige en skrywer Ronél van der Watt.

Sy het die stories so geskryf dat dit vir kinders van vyf tot nege jaar voorgelees kan word, en dat van dié kinders dit ook self sal kan lees. Terapeute, onderwysers, ouers en enigeen wat met jong kinders werk, sal ook hierby baat vind, sê Van der Watt.

Die eerste deel van die boek bestaan uit fiktiewe stories gegrond op ’n vervlegting van verskeie werklike gebeure. Daarna volg inligting vir volwassenes oor die tema van elke storie asook voorbeelde van vrae wat volwassenes in soortgelyke situasies kan gebruik.

Die tien stories in toeganklike lekkerlees-taal speel af in juffrou Ansie se klas in ’n multikulturele skool.

Elke storie handel oor een van die kinders se ervaring van een van drie situasies: Trauma weens ’n padongeluk, ’n huis wat afgebrand het of ouers wat baklei; ’n mediese toestand soos ’n hartdefek, ’n longsiekte of serebrale verlamming; en verskillende gesinsamestellings.

In ’n storie oor ’n ongewone gesin vertel Samuel hy het drie mammas. Rachel se klein snip van ’n sussie sê hy jok, niemand kan drie mammas hê nie.

Daardie aand toe Samuel vir mamma Lee en mamma Sara vertel wat Rachel se sussie sê, haal hulle sy aanneemboek uit. Hulle kyk na die foto’s van die dag toe hulle hom gekry het, toe hy van sy fiets geval het, toe hy die pampoen uitgespoeg het “dat dit dáár trek”.

Dan lees mamma Lee: “Ons het belowe dat ons jou teen seerkry sal beskerm, ons sal jou troos en jou trane afvee as jy hartseer is. Ons sal jou vashou as jy bang is. En ons sal jou help om weer te glimlag as jy kwaad is.”

Liefde, beskerming en versorging is wat ’n kind nodig het, ongeag wie die ouers is.

En wat sê Samuel? Hy sê Rachel se sussie kan nie tel nie. Hy hét drie mammas – mamma Lee, mamma Sara en ’n geboortemamma.

’n Storie oor Nina wat geboelie word omdat sy nie so vinnig soos die ander kinders kan hardloop nie, gee insig wanneer juffrou Ansie vertel haar hartjie is siek en as sy te hard oefen, voel sy baie sleg en moet dokter toe gaan, soos die vorige dag toe Fatima haar broodjie gegryp het en gesê het “skilpad kan my nie vang nie!”

Tumelo se mamma en pappa baklei vreeslik en een aand is dit so erg dat die polisie en die ambulans by hul huis aankom. Tumelo is vreesbevange en gaan kruip diep onder sy bed weg. Eers ná ’n lang gesoek kry die vriendelike tannie Miriam hom daar. Sy help Tumelo om veilig en rustiger te voel en Tumelo se ouers om nie meer te baklei nie.

Tumelo se mamma en pappa baklei vreeslik en een aand is dit so erg dat die polisie en die ambulans by hul huis aankom. Tumelo is vreesbevange en gaan kruip diep onder sy bed weg. Eers ná ’n lang gesoek kry die vriendelike tannie Miriam hom daar. Sy help Tumelo om veilig en rustiger te voel en Tumelo se ouers om nie meer te baklei nie.

Daar is ook ’n storie oor Rachel-hulle se huis wat afbrand, Tom wat graag ’n pappa wil hê en meer.

Die boodskap wat Van der Watt onder volwassenes se aandag wil bring, is dat hulle deur die oë van ’n kind na ’n kind se belewenis moet kyk en met hul hart moet luister.

Die hoep-hoep, wat in elke storie op ’n strategiese oomblik verskyn, word in party kulture as ’n simbool van vriendskap beskou en dit is ook sy doel in die boek, sê Van der Watt. Iemand wat jou dag en nag bystaan, is ’n bewys van vriendskap. En in juffrou Ansie se klas is almal maatjies wat mekaar moet ondersteun.

Van der Watt, ’n Bloemfonteiner wat haar PhD aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het, sê “hoewel die boek in ’n Suid-Afrikaanse konteks afspeel, is die trauma en probleme universeel”. Aangesien daar nie veel literatuur in dié trant oor die hantering van kinders en die bepaalde omstandighede is nie, glo sy die boek sal ’n leemte vul.

Om die swaar temas meer toeganklik te maak, het sy humor ingebring en het die kunstenaar Mandé du Plessis versagting bewerkstellig deur waterverf vir die illustrasies te gebruik.

Die sielkundige aspek in Hoephoepieland is ter wille van korrektheid deur ’n geregistreerde sielkundige en psigiater nagegaan.

Hoephoepieland word uitgegee deur Naledi en kos R140.

Meer oor:  Kinders  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.