Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Boek wat deur elke (wit) Afrikaner gelees moet word

In my vel: ’n Reis

Azille Coetzee

TAFELBERG, R255

Azille Coetzee se In my vel: ’n Reis lyk dalk na ’n onopvallende boekie van skaars 200 bladsye wat boonop sonder ’n groot trompetgeskal sy opwagting gemaak het, maar dit is straks een van die belangrikste boeke wat vanjaar in Afrikaans sal verskyn.

Dit klink dalk na ’n oordrewe stelling, maar In my vel is ’n boek wat eenvoudig deur elkeen wat haar- of homself as ’n (wit) Afrikaner beskou en in Suid-Afrika wil bly, gelees móét word.

Die aktualiteit daarvan sal nie sommer vervaag nie; inteendeel, die onnodige bohaai gegrond op ’n ongesonde nostalgie oor die ou vlag het vir my net weer die waarde van In my vel onderstreep.

Coetzee, filosoof en feminis, se boek is al beskryf as ’n liefdesverhaal sowel as ’n reisverhaal, maar dit is bowenal ’n baie eerlike en deurtastende soeke na die siel van die moderne (wit) Afrikaner: “Waar kom ek vandaan? Wie is ek?”

Vrae soos dié het Coetzee dikwels gekonfronteer in die veilige ruimte van Amsterdam waar sy ’n PhD aan die Vrije Universiteit gedoen het.

Soos vir menige Suid-Afrikaner wat al oorsee gereis het, voel Coetzee aanvanklik lig en vry omdat sy onder meer in die stiptelike, ordelike en voorspelbare (haar woorde) Nederlandse samelewing nie gedurig op die loer hoef te wees vir ’n misdadiger wat haar leed wil aandoen nie. Tog is dit ’n wêreld, kom sy algaande agter, waarop haar lewe aan die suidpunt van Afrika haar nie voorberei het nie, “al is my vel spierwit en al klink my taal amper soos Nederlands”.

Dinge word ook nie makliker gemaak deur haar “Suid-Afrikaansheid” wat aan haar kleef nie, skryf Coetzee: “ . . . ’n mens dra swaar aan Suid-Afrika. Dit sit aan jou.”

Dit is straks een van die belangrikste boeke wat vanjaar in Afrikaans sal verskyn.

Sy vind uiteindelik weer haar pad na Suid-Afrika waar die “sukkelspel” van haar identiteit voortduur en sy gekonfronteer word deur haar witheid en haar Afrikanerskap met sy bagasie van die verlede en haar bevoorregte posisie in die mees ongelyke samelewing op aarde.

Coetzee se ontleding van witheid en Afrikanerskap met sy verskriklike erflating van die verlede is veral verfrissend omdat sy nie ’n “born-free” is nie en ook nie iemand wat aandadig aan apartheid was nie.

Sy was nog ’n kind tydens die reënboognasiedae van oudpres. Nelson Mandela toe dit reeds duidelik was dat apartheid nie tot ’n einde gekom het nie.

Sy draai nie doekies om nie en haar vrae en ontledings van wit Suid-Afrika is eerlik en reguit.

Sy wys onder meer op die middelklaslewe in Suid-Afrika se weelderigheid en oorvloedigheid as dit met dié in Europa vergelyk word en die plaaslike onwilligheid om sulke bevoorregting, en veral die oorsprong daarvan, te konfronteer.

Haar vrae is só aktueel en dringend dat ’n mens kort-kort ophou met lees om lang aanhalings neer te skryf. Soos: “So baie van die wit Suid-Afrikaners wat ek ken, wil niks weet van enigiemand anders se pyn nie, wil nie hoor van apartheid nie en wil veral nie vir ’n oomblik dink aan hul eie aandadigheid of verantwoordelikheid teenoor ander nie.”

Sy kom ook gou in Suid-Afrika agter dat menings soos dié van wit Suid-Afrikaners nie baie gewild is in ’n toenemend onverdraagsame omgewing waar regse boelies die openbare (Afrikaanse) narratief bepaal nie.

Hier het ek die geleentheid om ’n nuwe soort wit mens te word.

Sy vrees aanvanklik ook dié aanvalle van “luide konserwatiewe Afrikaners” en word weer ’n “doodstil wit Afrikaner wat nie hardop deelneem aan die belangrike gesprekke wat ons almal in hierdie land behoort te hê nie. En sodoende bydra tot die instandhouding van die aanname dat die paar Steve Hofmeyrs van die lewe namens alle wit Afrikaners praat.”

Gelukkig het Coetzee haar nie vir lank laat afskrik nie en In my vel is haar antwoord op onder meer sulke onverdraagsaamheid.

’n Mens kan maar net hoop dat die “luide konserwatiewes” na wie sy verwys ook haar boek sal lees en dat dit nie beperk sal bly tot eendersdenkendes nie.

Want dit het tyd geword, soos Coetzee tereg opmerk, dat die stryd om rasse- en ekonomiese gelykheid in Suid-Afrika nie langer net gemik word op dinge wat jou persoonlike welstand beïnvloed nie.

Vergun my een laaste aanhaling.

“Ek moet, saam met die res van die mense van Suid-Afrika, baklei teen armoede, teen swak dienslewering, teen xenofobie, en vir ekonomiese hervorming, vir gelyke menswaardigheid en vir radikale demokratiese gelykheid. Hier het ek die geleentheid om ’n nuwe soort wit mens te word.”

Dit is ’n geleentheid wat alle wit Suid-Afrikaners met albei hande behoort aan te gryp. En hier laat Coetzee ons met ’n laaste vraag: Hoeveel van ons is bereid om dit te doen?

Gert van der Westhuizen is ’n vryskutresensent van Johannesburg en Netwerk24 se Stemme-redakteur.

Meer oor:  Azille Coetzee  |  Boeke  |  Resensies  |  In My Vel: ’N Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.