Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Boere-rebel word aan vergetelheid ontruk

Niefiksie

Rebel: Die lewe van kommandant Hans Lötter, 1873-1901

Chris Schoeman

PROTEA, R230

Daar is – wonderlik om te sê – geen gebrek aan werke oor die Anglo-Boereoorlog wat die Afrikaanse publiek aan die lees kan kry nie.

In hierdie kategorie val Chris Schoeman se publikasies, onder meer oor buitelandse vroue en die oorlog, en Vincent van Gogh se jonger broer Cor in die oorlog. En soos sy vorige werke het Schoeman weer ’n verbeeldingryke onderwerp beet.

Hier is sy keuse ’n biografie van Hans Lötter (1873-1901), ’n Kaapse rebel met Vrystaatse bande. In ’n neutedop beskryf Schoeman sy verhaal as dié van ’n spreekwoordelike tolbos wat sy jeugjare op ’n plaas in die distrik Somerset-Oos deurgebring het, en dan as kroegman en winkelassistent in die Kaapkolonie en as plaaswerker in die Vrystaat gewerk het. Daarna was hy aan die suidelike front op kommando saam met die Vrystaters totdat hy die rang van kommandant in die Kaapse Middelland bereik het.

Dáár gryp sy kommando bestaande uit Kaapse rebelle die verbeelding van die plaaslike pro-Boer-Afrikaners aan. Hulle verskaf die Britse garnisoene talle hoofbrekens, totdat hy in September 1901 deur ’n kolonne van kol. Harry Scobell gevange geneem word, deur ’n militêre hof aan rebellie skuldig bevind word, en op 12 Oktober 1901 op Middelburg deur ’n Britse vuurpeloton tereggestel word. Scobell was die offisier wat ook die volgende dag vir Jack Baxter, ’n burger van genl. Jan Smuts se kommando, sou laat teregstel omdat hy ’n Britse uniform gedra het.

Die resultaat? ’n Betowerende verhaal, want Schoeman kán skryf.

Lötter se dood het onder Kaapse Afrikaners wat hulle met die Boeresaak vereenselwig het, en uiteraard onder die Boere self, groot verontwaardiging en woede ontlok. Soos die geval met kmdt. Gideon Scheepers het dit hom as ’n Boeremartelaar in die Afrikanervolksoorleweringe gevestig. Hy het nooit die ikoniese status van Scheepers bereik nie, maar dit is bewonderenswaardig dat Schoeman hom aan die vergetelheid ontruk.

Uitstekende argivale en sekondêre bronne het op Schoeman se lessenaar beland. Die resultaat? ’n Betowerende verhaal, want Schoeman kán skryf. Soos die beskrywing hoe die rebelle trek om nie gevang te word nie, die gevangeneming van Lötter en sy vonnisoplegging en teregstelling.

En tog.

’n Mens sou graag dat die skrywer iets meer gemaak het – ’n besinning – van Lötter se aanspraak dat hy nie ’n Britse onderdaan was nie, maar ’n Vrystaatse burger. En ’n mens mis ’n slotbeskouing oor Lötter se rol in die oorlog.

Enkele kere ontwyk die prentjie die skrywer. ’n Paar voorbeelde: Feitlik deurgaans word daar van Engelse gepraat in plaas van Britte. Vertel nou vir ’n Skot of ’n Ier hy is ’n Engelsman! Daar is op ’n kol ook Tasmaniërs, maar aan die einde van die paragraaf is hulle Engelse.

Dit is foutief dat Chamberlain aan Kruger sy ultimatum gestuur het (in werklikheid het hy hom teruggehou totdat meer Britse troepe op die republikeinse grense aankom, en toe spring Kruger hom met sy regering se ultimatum voor).

Lastig is die foutiewe gebruik om van kolon en meervoud kolonne te praat – dis kolonne (enkelvoud) en kolonnes (meervoud).

Nadat Schoeman aanvanklik tereg van lord Roberts se verskroeideaardebeleid praat, skryf hy later verkeerdelik dat lord Kitchener die verskroeideaardebeleid begin het en burgerlikes na die konsentrasiekampe vervoer het – nee, die stelsel is deur Roberts begin en deur Kitchener kragdadiger toegepas.

En daar word gekonstateer dat Lötter-hulle in Maart 1901 ’n hewige geveg met joiner Piet de Wet se Orange River Colony Volunteers naby Zastron gehad het, maar in werklikheid is die ORCV eers in Maart 1902 gestig.

Maar dit bly aan te bevole lekker leesstof.

Fransjohan Pretorius is emeritusprofessor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.