Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Boertige boggher se soeke na sin

Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G. du Plessis. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R300.

As wafferse voyeur tuur die leser oor Daniël Jacobus van der Walt – Daantjie, Klei’baas en nou in China Da Ni Eu – se neergevalle skouers terwyl hy, soos deur ’n spieël in ’n raaisel, die wit beendere van sy byna afgeloopte lewe in beskouing neem.

Soos hy sy kop van sy wankelrige skryftafeltjie hys, volg ’n mens sy blik by die deur van die Tempel van Ewige Vrede in tot waar dit op ’n goue Boeddhabeeld tot ruste kom.

’n Halwe wêreld ver is sy afgelegde voortyd as volstruisteler en boerbokboer op die plaas Ystervarkfontein in die haai Kalahari. So ook die susterskerke, Totius en Dominee-en-Mevrou.

By die monnikeplek bo-op ’n berg in Longshan waaraan sy seun Jan-Willem hom, ylend, toevertrou het, poog hy om die ratte en hefpenne van tai ji onder die knie te kry – sodat hý die goue haan kan word wat op een been staan.

Al wentel sy seun, wat nog in lewe is, skimagtig in die rondte, is Daan se oorlede vrou, Magrieta, en sy ewe dooie brak Kaspaas – wat slegs Engels magtig is – alom- en onmiddellik teenwoordig.

Daar is klugtige tonele wat sterk op Georges Feydeau slaan.

Trouens, as Daan die pen opneem om sy eie historia te skryf, is die stomme Kaspaas die aangesprokene. En soos hy dit greepsgewys voltooi, rig hy tussendeur briewe aan sy ontslape vrou waarin hy selfbewus en dikwels verskonend kommentaar oor die neergesette lewe bied.

Dis nie slegs sy dade – veral sy seksuele ontrafeling – wat hom beskaam nie, maar ewe veel sy literêre lapsusse soos hy hulle oorvertel. Magrieta was immers ’n gedoktoreerde letterkundige wat haar deur “skrifgeleerde Sadduseërs” omring en geglo het by die aanpak van ’n storie moet jy “vasklou aan die hedelyn, soos klitsgras aan ’n Afrikanerskaap se stert” (bl. 10).

Maar uit die staanspoor het Daan se gedurige vingerwys na Magrieta se boekgeleerdheid ’n sterk ironiese klank, soos so baie van die ander bakstene en teëls waaruit die vertelling aanmekaargesit en die swaaiende stelte waarop dit staangemaak word.

Self is hy immers ’n wandelende ensiklopedie wat ewe maklik Latynse pêrels van groot waarde voor die swyne werp as om skalks sy kop na Elisabeth Eybers te nyg. Dalk is daar geen sterker tema in die boek nie as die skryfproses self.

Die literêre genre van die historia, waarvan Herodotus (wat vreemd een keer korrek en etlike kere as “Herodotos” geskryf word) die grondlegger was, was wel ’n poging om iets meer getuienisgefundeerds oor die verlede te sê as in die mitiese vertellings van vroeër. Tog kan dit allermins aan moderne geskiedskrywing gelykgestel word. Steeds het die verteller oor heelwat retoriese vryhede beskik. Hy kon allermins op sy woord geneem word.

Naas die grootse, heroiëse opset van Herodotus en die gewyde toon van Augustinus se Confessiones, die ander teks wat Daan se lewensvertelling inspireer, het ons hiér ’n verhaal oor ’n plattelandse wedu-oom met ’n meesterlike greep op die Bybel en die wêreldletterkunde wat in sy latenstyd ’n lus ontdek om aan die ander kant van die draad, soos dit vantevore gespan is, te wei.

Die neerslag van Daan se nagtelike gegriffel is ’n ryklik geskakeerde doek met karakters wat Breugheliaans die derde dimensie binnebars, verwysings na die mees gewyde letterkunde onverwags ingebed tussen skalkse grepies uit die lirieke van Bles Bridges, en ’n woordvernuftigheid wat ’n sweefstokarties na haar buustelyfie sal laat gryp.

Daar is klugtige tonele wat sterk op

Georges Feydeau slaan en soms ’n verrassende boertigheid so byna Chauceriaans in aanslag. Skielik word die leser dan deur ’n strak realisme teen die slaap getref – waarop daar volslae stilte is. Daan kan immers nie vir ooroptimisme oor die toekoms van die land verwyt word nie.

Al word hy soms heel bewustelik die hedelyn kwyt – sy eerste poging tot hoofstuk 3 word vinnig herrangeer tot hoofstuk 3(a) – vou die storie op ’n aanskoulike wyse oop. Fyntjies word die terugflitse laag op laag gepak soos die skilferkors in die melkterte waarna Daan so dikwels smag. Is “vleeslike gemeenskap” (bl. 7) dan nie soos melktert op die stoep op ’n Sondagmiddag nie?

Die verhaal kaats dus terug na Daan se universiteitsdae aan die PUK, na die tyd toe Magrieta nog daar was, na die tyd ná haar dood, en, later nog, ná Jan-Willem se verdwyning.

Daan trek sy tentpenne uit om metterwoon Kaap toe uit te wyk na ’n Engelstalige ouetehuis wat die inwoners verbied word om só te noem en waar dienende Ragel ’n skouspel moet opvoer omdat bediendes nie mag inslaap nie.

En dán, in ’n op die kop gekeerde weergawe van die Bybelverhaal, mymer Daan dat hy sal opstaan en na sy seun gaan – al die pad China toe. Waar hy verbete – in ’n gewaande tweegesprek met dán Kaspaas, dán Magrieta – sy lewensverhaal vir watter nageslag hy ook al mag hê, boekstaaf.

Maar gaandeweg word ’n mens se aanvanklike suspisies bevestig: Daan is ’n koivis van ’n verteller.

Een slag merk hy krities teenoor Magrieta op hoe “breedsprakig” hy ’n ete in die vorige stuk van die historia beskryf het (bl. 89) en teenoor Kaspaas sê hy peinsend: “ ’n Skrywer wat al bekwaam is, sal nou ophou skryf aan hierdie hoofstuk,” voordat hy gewoon voortvertel (bl. 96).

Nadat Jan-Willem laat in die verhaal ’n kerndeel van sy pa se relaas oor hoe hy verdwyn het, weerspreek, sê Daan: “Hy is reg” (bl. 347).

Derhalwe moet lesers nie alleen daardie deel van die vertelling in heroënskou neem nie; eweneens moet hulle terugskouend hul fundamentele vertroue in ’n verteller bevraagteken wat sy onbetroubaarheid erken het. Hulle moet besluit watter dele, indien enige, van Daan se historia wel geglo kan word.

Kan Daan se einste stelling dat Jan-Willem oor daardie besonderheid reg is, ooit geglo word? Wat bly immers oor van soene – of van leuens?

Dis juis die leuens en die dogma wat Daan sy lewe lank gevoer is, wat hom ontredderd die see oor gestuur het na ’n plek waar hy geen snars van sy geliefde Afrikaans te hore kry nie – om sy heroïese lewensverhaal aan ’n Engelse hond op te dis.

In die breër opset van die roman word die soeke na die dao – die weg, die ware lewenspad – van die titel, wat Daan in China enigsins op koers hou, sodoende eweneens ironiseer. (Dalk is dit geen toeval nie dat die woord dao ook swaard beteken – en skunnig op Daan se beheptheid met sy eie swaard en hulpgewende bulpille sinspeel, eerder as op iets meer spiritueel verhewe.)

Dat Daan se stem aanvanklik effe pompeus en rococo aandoen, is so. Dit verg gewoond raak. Maar op die ou end is dit ’n kerndeel van die onvergeetlike sjarme van die ou boggher. Hy hou dit tot die heel laaste sin vol, wat waarskynlik een van die tegelyk snaaksste en treurigste in ’n Afrikaanse roman is.

En asof die boek nie deur genoeg verraad en geheimhouding omgeef is nie, lees ’n mens in die nabetragting Lodewyk G. du Plessis is die skrywer se skuilnaam en die boek is “fiksie”.

Maklik te glo? Noem my maar ’n ongelowige Thomas.

Wat wel geglo kan word – dit belowe ék – is dat Die dao van Daan van der Walt met sy bietjies Groen soos die hemel daarbo, flitsies Spertyd, en stukkies Charlie Oeng ’n raserige optog van ’n boek is wat elke dan en wan skokkend tot stilte hort, voor dit weer met dolle genietlike vaart voortskal.

  • Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.