Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Brose skepsel in konteks van die lewe

Fiksie

Skepsel

Willem Anker

QUEILLERIE, R320

Willem Anker het met sy eerste twee romans, die magies-realistiese Siegfried (2007) en die historiese werk Buys (2014), al diep spore in die Afrikaanse letterkunde getrap.

Met Skepsel slaan hy weer ’n nuwe koers in en sluit hy aan by die onlangse opwelling van spekulatiewe fiksie in Afrikaans, waaronder Alettie van den Heever se Stof (2018), Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls (2019) en Isa Konrad se Toekomsmens (2020).

Skepsel bestaan uit drie verhaallyne wat al om die derde hoofstuk aan die beurt kom. Die verhale ontplooi nie chronologies nie, maar deur middel van spronge terug en weer vorentoe in tyd. In elkeen is ’n ander verteller aan die woord.

Die eerste verhaal word vertel in die tweede persoon (“jy”) en wentel om die geslaglose Sulla Capek, ’n kuborg en performance-kunstenaar, wat met ’n olietenkskip trou en dan op ’n wittebroodsreis met dié minnaar teen die kus van Afrika af vertrek. Sulla en die skip se interaksie gedurende die reis word verfilm met die jongste tegnologie. Ons kry tussendeur ’n blik op Sulla se ontluikende seksuele aangetrokkenheid tot objekte en masjiene (objektum-seksualiteit), ontwikkeling as kuns­tenaar en metamorfose tot ’n halfmens-halfmasjien.

Sy huisgenote is onder andere BuddhAI, ’n bonsaiboom in ’n pratende plantbak, en Pris, ’n virtuele assistent wat in Rebecca se oorlede argitekma, Barbara, se stem praat.

Die tweede relaas word in die derde persoon vertel uit Rebecca Maas se perspektief. Wanneer sy op 29 November 2019 verneem dat haar pa, Henk, ’n skatryk ontwikkelaar van “gated communities”, al ses maande maagkanker het, sluit sy haar vanuit Nederland by hom aan waar hy in ’n slimhuis op sy nuwe maar onvoltooide eko-landgoed teen die Weskus woon.

Sy huisgenote is onder andere BuddhAI, ’n bonsaiboom in ’n pratende plantbak, en Pris, ’n virtuele assistent wat in Rebecca se oorlede argitekma, Barbara, se stem praat. Die besoek konfronteer Rebecca met die onafgehandelde proses van rou oor die dood van haar ma toe sy 13 was, terwyl sy ook moet afskeid neem van haar pa. Tussendeur kom haar verlede in Suid-Afrika ook aan bod.

Die derde storie is ’n eerstepersoonsvertelling deur die naamlose kollega van die Suid-Afrikaanse argeoloog prof. Howard Hansen, met wie sy ook ’n affair het. Ná die ontdekking van raaiselagtige, spierwit objekte wat lyk soos die beendere van ’n reusedier op die Svalbard-argipel in die Noordpoolsirkel, vertrek Howard daarheen, en sy vergesel hom as sy assistent.

Ses dae ná hul aankoms by die opgrawingsterrein vroeg in November 2019 verdwyn Howard in die niet. Dit word ’n tergende soektog na sowel Howard as die oorsprong van die beendere, terwyl sy hul liefdesgeskiedenis in heroënskou neem.

Soos die miseliumdrade van die sampioentuin in die kelder van Henk se huis, kruis die verhaallyne op verrassende wyses, terwyl gemeenskaplike temas en herhalende motiewe wat soos spore deur die teks verstrooi lê, binding tussen die verhaaldrade en betekenisverdigting bewerkstellig.

Die posthumanisme is ’n belangrike sleutel tot die lees van die teks. Hiervolgens is die mens nié die sentrum van die heelal nie en op gelyke vlak en in aktiewe wisselwerking en selfs hibridisering met ander spesies en materie.

In Skepsel is daar enersyds die fokus op moderne tegnologie wat die grense tussen die menslike en niemenslike laat vervaag. Sulla plant onder meer elektromagnetiese skyfies onder die vingers in en kry ’n bioniese linkerarm en videokamera as linkeroog. Pris is ’n manifestasie van kunsmatige intelligensie – sy is aan die internet gekoppel en versamel data oor die inwoners van die huis wat haar ál “slimmer” maak in haar gesprekke met hulle. Rebecca is op haar hoede oor sy deur Pris afgeloer en afgeluister word, maar is in tye van eensaamheid ook emosioneel op Pris aangewese.

Die naderende einde van die mensdom weens besoedeling en aardverwarming is ’n leitmotief in die roman.

Andersyds is die roman ook gemoeid met die oergeskiedenis. Pris vertel stories wat sy uit inligting op die internet weef: oor die geboorte van die aarde 4,5 miljard jaar gelede en die ontstaan van lewe; ook oor die Permiese uitsterwing van 250 miljoen jaar gelede waarin 96% van alle seelewe en 70% van alle lewe op land uitgewis is. Sy kondig aan dat die aarde sigself in die vroeë stadiums van die sesde massa-uitsterwing bevind.

Die naderende einde van die mensdom weens besoedeling en aardverwarming is trouens ’n leitmotief in die roman.

Henk en Rebecca geniet dit om ’n speletjie te speel waarin hulle (soms in net ses woorde) bespiegel oor vrae soos: hoe gaan die wêreld eindig, hoe gaan mense van aardverwarming ontsnap, wie is die laaste mens op aarde, en wat sal die nuwe alfa-lewensvorms ná die einde van die mensdom wees?

’n Mens lees hoe die ysgrond van Svalbard besig is om te smelt en hoe aardverwarming die huise laat wegsak en waterskade aan die internasionale saadbank aanrig.

Wanneer Rebecca en Henk op sy private strand gaan stap, sien sy wat van ver af soos skulpe lyk, maar inderwaarheid botteldoppies is.

Nog selde is in Afrikaans so liries en beeldend geskryf oor iets so “nietigs” soos ’n ligeen.

Opvallend is hoedat karakters hulle dikwels deur die verbeelding in ander lewende en nielewende dinge probeer indink en dan ook soms menslike eienskappe daaraan toedig. Soos Rebecca se gewaarwording dat die sampioene in haar pa se kelder asemhaal, en selfs sug.

Wanneer sy die miljoene jare oue gefossileerde eksoskelet van ’n trilobiet in die badkamer in haar pa se huis aantref, probeer sy haar verbeel hoe dit is om ’n trilobiet te gewees het.

Pris beskryf op haar beurt korsmos in terme van ’n liefdesverhouding tussen ’n swam en alg. Nog selde is in Afrikaans so liries en beeldend geskryf oor iets so “nietigs” soos ’n ligeen.

In Sulla se verbeelding is olie ’n lewende organisme wat eers verpulpte diere en plante gevreet het en ondergronds aangeteel het, toe miljoene jare lê en wag het vir menslike evolusie om olietenkers te vervaardig, en nou die lewensbloed is van die moderne industriële wêreld.

Die roman laat ’n mens veral onder die indruk van die vlietendheid van Homo sapiens se bestaan in die konteks van ander lewe en die heelal.

Om soveel uiteenlopende trivia saam te snoer tot ’n sinvolle geheel sit nie in enige skrywer se broek nie. Skepsel is ’n seismograaf wat nie net die trillings van die huidige tydsgewrig registreer nie, maar dit bowenal in verruklike kuns omskep.

Rudolf Stehle is ’n vryskutresensent van Johannesburg.

Meer oor:  Willem Anker  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.