Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Bundel waarin die woordrose geil rank

Poësie

Disteltyd

Marlise Joubert

PROTEA, R250

In sy essay “On the Disadvantages and Advantages of Death” meen Umberto Eco die enigste manier om jou voor te berei op die dood is om jouself te oortuig almal om jou is volslae idiote.

Maar, maan hy, dit moet jy nie te vroeg in jou lewe doen nie.

Trouens, tot kort voor jou dood moet jy nog dink iemand wat jou liefhet en jou bewonder, is nié ’n idioot nie. “Wysheid lê daarin om op die juisste oomblik te besef (en nie voor dit nie) dat hy ook ’n idioot­ is. Net dan kan jy doodgaan,” soos ek Eco verstaan.

Die kuns lê duidelik daarin om rekening te hou met tyd (die essay verskyn immers in Eco se Turning­ Back the Clock).

Trouens, tot kort voor jou dood moet jy nog dink iemand wat jou liefhet en jou bewonder, is nié ’n idioot nie.

In die voorbereiding op die onvermydelike dood is die groot kuns om bietjie vir bietjie deur alles te sien. Mettertyd. Om bietjie vir bietjie te laat gaan. Om terug te hou. Om pas te hou. Want dis teltyd.

Disteltyd is ’n bundel waarin Marlise Joubert dié kuns skitterend beoefen, ’n bundel waarin sy met wysheid rekening hou met tyd, tyd registreer en tyd uitkoop.

Dit is ’n bundel waarmee sy haar helder stem in Grondwater (2019) helderder laat opklink, ’n bundel waarmee sy “ ’n plek waar ek beleë weet” (“woordhuis”) bereik, en noukeurig, “uur ná uur” en “asem vir asem” (“grendelvrees”) bewus is van die lewe.

Haar “beleë weet” setel in die kollektiewe bewus wees, “teen tyd is ons nie bestand nie” (“wanneer die lig doof”) en “as ons nie meer daar is nie / wie sal die tyd verder dra” (“wete”), maar kry eweso gestalte in die persoonlike “eendag is ek nie meer / hier of daar nie” (“eendagvers”).

’n Mens hoef net die titels van gedigte, veral in die middel van die bundel, te lys om ’n besef van tyd en dié se sentrale plek in die bundel te snap: “17 desember 2019, devon valley”; “40 winks, groenpunt, 24 desember 2019”; “nuwejaar”; “laat in die nag”; “eendagwens”; en “23:55”.

Die bundel open trouens met “1955”, ’n gedig as aanduiding van die jaar waarin Joubert tien geword het.

Aan die een kant bring dié aanvangsgedig die leser direk onder die indruk van ’n ervaring in die lewe van die digter as vroeë tiener, maar in die klein narratief wat volg, bring die verloop van tyd ’n verstaan, ’n wete van lewe en dood, maar ook van “daai kaal erf” waar “bosse en brandnetels” groei. “(J)y mag nie soontoe gaan nie, sê ma” – nie om dowe neute nie.

Want soos brandnetels (in die gedig “laat in die nag” ook “netelbosse” genoem) is distels plante wat meestal opduik waar hulle nie gewens is nie.

Nietemin het “daai kaal erf” met sy bosse en brandnetels, net soos die slang waarvoor die digter “gru” (“slangbrief, februarie 2020”), ’n bekoring wat metafories op die proses van gedigte maak dui.

In heelwat verse in dié bundel kry ’n mens ’n aanduiding van die oorsprong van verse, van plek wat aanleiding gee tot verse, van omstandighede waarin geskryf word (soos in ’n staat van inperking) en van die proses van gedigte maak.

Benewens verse as plante (“laat in die nag / het ’n gedig aangemeld / oor my bed wat tuin word / en ’n roos klankwit laat val” in die gedig “laat in die nag”), is die digter self ook plantend aan die werk. As dit nie is om in die gedig “bome” “ ’n erf kaal soos ’n sandput of woestyn” te beplant nie, is dit om foto’s soos bome te plant (“woordhuis”).

Daar is immer lewe en ook nuwe­ lewe. ’n Mens moet net bedag wees, luister en à la Eco wys­heid hê.

Teen woesteny en verval in plant ’n mens voort. Vandaar die opdrag in “instandhouding” aan die kind: “as die roos / sy kleur verloor / as die boom sy vrug verloor / verf dit terug, kind / verf dit terug.”

Dat skryf en taal (“wilde, oeroue / seningtaai taal”) en verf lewenskragtig is, blyk uit “dit is my tuin”: “luister / tussen verknotte ruigtes / skommel nuwe saad.”

Nie alles is aan die afrem nie.

Daar is immer lewe en ook nuwe­ lewe. ’n Mens moet net bedag wees, luister en à la Eco wys­heid hê.

Die sekuur en sterk stem wat Joubert in die letterkunde geword het in tien bundels, sedert haar debuut in 1970 met ’n Boot in die woestyn, klink in dié jongste bundel allermins “klepelklein” (“stem”).

Dit is juis haar woordgebruik wat sulke duidelike visuele beelde oproep, haar aanvoeling vir ’n gedrae metrum en hier en daar fyn gekose rym wat hierdie verse kenmerk.

Haar tegniese vaardigheid blyk so heerlik in “pergola, rustenberg”, waarin die gedig die raamwerk word waaroor en waardeur woordrose rank.

Selfs in dié gedig met sy malse sintuiglikheid stroop Joubert haar werk van oordaad. Dalk juis omdat die oog in donker tye begin sién, soos sy Theodore Roethke as motto voor in die bundel aanhaal.

Daarby blyk dit uit Disteltyd dat Marlise Joubert die laaste idioot nog lank nie in sig het nie.

Johan Myburg is ’n digter van Johannesburg. Hy is verlede jaar se Hertzogpryswenner vir poësie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.