Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Debuut met diepte

Toekie Oberholzer se uitstekende debuutroman, ‘Alfonzo’s Quest’, gaan oor ’n geestelike reis gevul met opwinding wat Alfonzo met verskillende vastelande en volke laat kennis maak, maar dis allesbehalwe esoteriese New Age, skryf Trisa Hugo.

Alfonzo’s Quest deur Toekie Oberholzer. Uitgewer: Penstock Publishing. Prys: R300.

Toekie Oberholzer se waagmoedige debuutroman, Alfonzo’s Quest, is ’n boek wat hom moeilik laat kategoriseer. Dit is ’n spirituele reis tydens ’n fisieke soektog met esoteriese elemente en ’n goeie skoot spanning daarby.

Die karakters is ’n mengelmoes van nasionaliteite. Die storie begin in Suid-Afrika en gaan draai in Nederland, Mumbai, Katmandoe en Boeddhistiese kloosters in Asië. Die skrywer is duidelik belese en haar ervarings van rugsaktoer deur meer as 50 lande kom nuttig te pas. Filosofie, musiek en veral sielkunde word vernuftig gebruik om die karakters se wedervarings diepte te gee; sonder dat dit na ’n sielkundige handleiding klink.

Veral transpersoonlike sielkunde word vir die stip leser baie goed geïntegreer in die verhaal.

“Why do we travel? Perhaps to meet up with old acquaintances? Who knows?”

Wanneer Alfonzo Vaughn se tweelingbroer, Stefano, ’n eksistensiële krisis beleef, pak Alfonzo die reusetaak aan om hul herkoms na te speur. Hy beleef sy verbintenis met sy identiese tweelingbroer baie intens, in so ’n mate dat hy die moontlikheid bedink dat hulle dalk een siel in twee liggame is.

“Whatever the explanation, it went beyond telepathy. It touched on his very identity.”

Die leser reis heerlik saam na verskillende vastelande.

Die verwikkeldheid van hoe ons lewens vervleg is, kom na vore soos die verhaal aangaan.

Toevallighede en sinkronisiteite vind deurentyd plaas; ons is net nie altyd bewus daarvan nie. ’n Hele reeks sulke toevallige ontmoetings kan vir ’n minder spiritueel ingestelde leser dalk te dik vir ’n daalder voorkom, tog is Alfonzo se speurtog na hul herkoms nie moontlik daarsonder nie.

Temas soos telepatie, déjà vu, kollektiewe bewustheid, reïnkarnasie, regressie en voorgeboortelike bewustheid wat nie dikwels in fiksie aangeraak word nie, word moeiteloos regdeur die verhaal gevleg. In Amy Tan se The Hundred Secret Senses (1995) is daar twee sustertjies van wie een besonderse vermoëns het. Hier is dit een van die tweelingbroers. Mense wat Cloud Atlas (2004) van David Mitchell en Life After Life (2013) van Kate Atkinson geniet het, behoort hiervan te hou.

Ons soeke na ’n eksistensiële anker, ons herkoms en ons wortels word hanteer met die rol van musiek en boeke in ons lewe wat deurgaans net onder die oppervlak huiwer.

Ons ontmoet almal daardie mense wat ons net herken, maar ons weet nie van waar en waarom nie. Ons doen almal soms dinge wat absoluut geen sin maak nie, en ons kan self ook nie sê waarom ons dit doen nie. Die karakters in Alfonzo’s Quest is dieselfde, maar gegewe die temas maak en gee dit sin.

Dit is baie interessant hoe die skrywer telkens daarin slaag om verskillende persone na dieselfde situasie te lei sodat dit sin maak om die verweefdheid en onderlinge verbondenheid van ons lewens te beklemtoon. Of die vervlegtheid van ons lewenspaaie soos baie fyn aartjies op ’n wit blad oopgesprei word.

Groter lewensare loop daardeur en kruis en verdeel en vloei soms vir ’n ruk saam voordat dit weer in ander rigtings vertak.

Alfonzo se besonderse telepatiese vermoëns help hom in verskeie situasies. Kennis van Afrika-kulture en -gebruike word intuïtief aangewend om ’n gevaarlike situasie te ontlont. Misverstande en wantroue tot situasies word dikwels met humor uitgebeeld.

Voorgeboortelike bewustheid tydens regressie speel ’n rol in die ontknoping van die verhaal wanneer Stefano onder hipnose ’n traumatiese gebeurtenis in die baarmoeder herleef om te besef waar sy nagmerries en vrese vandaan kom. Só kan hy met die verlede vrede maak.

Die soektog neem Alfonzo na verskillende vastelande, waar hy met verskillende nasionaliteite en vreemde name gekonfronteer word. Die leser reis heerlik saam na plekke waar die meeste mense waarskynlik nooit sal kom nie, maar name soos Minunÿa, Lozanov en Bregovic versteur telkens die ritme as Suid-Afrikaanse lesers hulle tong daarom moet knoop. Hierdie leser het vergeefs gewag vir leidrade dat dit funksioneel is en tot die verhaal sou bydra. Daar is ook heelwat newekarakters met onuitspreeklike name wat nie daarmee help nie.

Alfonzo’s Quest het diepte en is allesbehalwe esoteriese New Age.

Mense wat bekend is met die werk van Michael Newton en Brian Weiss sal die verhaal op ’n dieper vlak begryp. Dit is ’n uitstekende debuutroman. As jy ’n hippie, sigeuner, straatmusikant, smokkelaar of middernagfilosoof in rokerige jazzklubs is, gaan jy aanklank hierby vind.

  • Stuur ’n e-pos na stella@lavmoon.co.za indien jy sukkel om die boek by jou naaste boekhandelaar op te spoor.
  • Trisa Hugo is ’n skrywer en hipnoterapeut van Kleinmond en medestigter van die boekewebwerf Boekemakranka.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.