Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Debuut wat aardplate verskuif

Die 13 stories in Madré Marais se debuutbundel, ‘Luistervink’, is iedereen lewendig soos ’n kragdraad en wys watter uitstekende greep die skrywer op die draadwerk van ’n kortverhaal het, skryf Rachelle Greeff.

Madré Marais is ’n teksredakteur van Bloemfontein wat ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns onder leiding van Francois Smith en Henning Pieterse aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi het. Foto: Mlungisi Louw

Luistervink: 13 stories deur Madré Marais. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R220.

Toe hierdie nuwe bundel by my afgelewer is, was Corona nog ’n ligte Mexikaanse lager. En net mooi die dag toe ek die laaste storie, “Ek het jou nie vergeet nie”, klaarmaak, is die produksie van Corona in Mexiko weens die Covid-19-pandemie gestaak.

Reeds voor die interkontinentale krisis had verskeie van Luistervink se stories ’n dreigende terugspoeling (backwash, soos hulle in Engels sê), maar nadat ek al 13 gelees en beleef het, voel ek weer die krag van kontak met die kollektiewe onderbewuste. Uit ’n manuskrip wat moontlik uit meer stories bestaan het, was 13 waarskynlik die getal publiseerbares en dié dalk meer tydloos as die res. Maar aan die begin van 2020 klink die subtitel – 13 stories – sinister.

Ongewoon bygelowig blaai ek terug na die stories in die bundel wat ek pre-Covid-19 gelees het, spesifiek na “Jy loop na ’n drom en jy skep”: “Heeltyd die geluid van lywe wat soos pap vrugte teen die grond kneus. En, later, die skoonmakers wat . . . dit . . . in kruiwaens laai, in kleefplastiek probeer toerol, daarmee stoei en sukkel, die gemors wegry.”

Ongewoon bygelowig blaai ek terug na die stories in die bundel wat ek pre-Covid-19 gelees het...

In die openingsverhaal, “Waar die kweswerk gedoen is”, tob die verteller oor die skynheilige kamma-hulp van die dorpenaars. “Selfs die mense wat eerlikwaar wil help, is maar net te sigbaar verlig dat hulle ’n lewe leef waarin jou krisis nie bestaan nie.’’ Jy kan jou voorstel wat Marais met die verteller aan die woord sou maak as sy storie vandag sou afspeel, noudat een krisis almal s’n is.

Dit is ook vermelde storie wat herinner aan die mens se vermoë om teen alle wysheid en wanorde in lief te kry en lief te bly. Met onder meer die hulp van “boodskappers uit ’n ander wêreld” – ’n vernielde bokser(hond), ’n gekweste koedoebul en ’n enkele varkoor in ’n vaas – ontbloot die skrywer die psige van ’n vrou wat van kleins af gewoond gemaak is “om juis dié wat haar verniel te bly versorg en vertroetel”.

Emmie se bokser het onder die liefdevolle hand van die naamlose verteller, weg van Koen, Emmie se besope, sadistiese vorige lewensmaat, geleidelik gesond geword. En al is ons verteller ’n man van sorgsaamheid en insig, is die leser teen die slot van die verhaal steeds onseker of Emmie by hom sal genees. Die enkele varkblom wat Emmie in die pot op die gedekte eettafel sit, is ’n simbool van haarself. Sy het “nie die knak in die steel weggesny waar die groen vesels toegeknyp het nie”. Wanneer die verteller by die tafel kom aansit, gestort en skoon aangetrek, wanneer dit tyd is vir tee saam met sy geliefde Emmie, wat hou van kos maak en tafel dek, is sy afwesig. “Hy skep twee keer van die slaai in en eet die broodjies sonder dat dit ooit rooster toe gaan, terwyl hy kyk hoe die kole uitbrand en koud word.”

Marais weet hoe om beeldspraak in die guns van die narratief te laat werk.

In ’n ander verhaal is dit Desember en vakansie. ’n Pa en ma en hul twee jong seuns is, soos elke somervakansie, op pad see toe. Die 15-jarige Theo, die oudste van die broers, wil “nie meer hier wees nie”. Hy maak sy ma sag sodat sy sy pa kan oorreed dat hy maar agter in die bakkie, onder die kap tussen die bagasie, kan sit. Tussen sy pa se nuwe visgerei, waaronder “loodsinkers so groot soos hul rifrug, Spoed, se knaters”. Weg van sy gesin wil Theo alleen op die langpad wees, want hy is “tot in sy siel toe moeg vir dieselfde pad, vir die musiek wat die aandag daarvan moet aftrek dat sy ma en pa niks het om vir mekaar te sê nie’’. Sy jonger boetie, Bradley, is nog “blind vir die wêreld se gemors . . . nog dom genoeg om aan te neuk, maar hy was oor dit”.

Op pad hou hulle stil by ’n dam (onbenoem, maar dit klink na die Gariep) vir ’n gesinsfoto. Theo wil nie daarvan deel wees nie. Sy ma neul en dreig, maar hy weier. “Sy moet maar foto’s neem van die leë sonskyn om te hou vir later. Hy sal nie in die prentjie wees nie.” Die skrywer vertel ons nie waaroor spesifiek Theo ontnugter en bedruk is nie. ’n Mens sou dus dié kort, gestroopte verhaal, “Sinker”, as inleiding kon sien tot ’n lang en tragiese verhaal. Die leser weet nie, maar kan raai. Die naam van die storie is immers “Sinker”.

Die skrywer het ’n uitstekende greep op die draadwerk van ’n kortverhaal. Sy weet hoe om beeldspraak in die guns van die narratief te laat werk, en hoe om op ’n drafstap weg te trek met ’n vertelling. Jy kry onmiddellik die gevoel van aardplate wat óf reeds verskuif het óf aan die verskuif is. Sy ontbloot emosioneel swaargelaaide kwessies nie met ’n sigbaar skrikaanjaende slagtersmes nie. Want minder is meestal meer. Stilte op ’n welgekose plek, tussen die regte sinne, kan ten hemele skreeu.

Luistervink is ’n debuut waarin effense bloemrykheid te wagte is. Soos die ongemesselde muur bakstene wat oor Bea neertuimel en die asem uit haar pers. Dié storie, “Soengroet”, is vir my te uitgesponne, maar gryp jou in die slot met so ’n ongewone en beeldskone liefdesversugting dat jy die skrywer dit vergewe. “Bea loop reguit op die halfgerookte sigaret af waar dit op die teer lê, tel dit op sonder om stil te staan en trek diep daaraan terwyl sy aanstap, haar lippe op presies dieselfde plek waar syne nou net nog was.”

En in die storie “Driehonderd-vyf-en-sestig en ’n kwart’’ (waarin kitaarklanke “mens se siel in klein stukkies opkerf” en ek ewe studentikoos wil reageer met ’n “ag nee, Poplap”) ontmoet jy vir Breyten en die girl wat die storie vertel. Hulle drink quarts in die bad. En teen die einde van die storie weet jy hierdie Breyten-karakter, wat met die intrap sê “Ek fokof sommer Alaska toe”, kan – en sál – gaan net waar hy wil – en mag dit ’n toneelteks vir die verhoog insluit. Nie net oor die weerlig-dialoog nie. “Breyten se gesig is doodernstig, al lyk hy absoluut fokken belaglik met al die skuim rondom hom. Soos ’n seuntjie wie se pelle hom onder ’n hoop seesand begrawe het.” Wat ’n kleurryke karakter. “Dis soos om ’n suicide bomber vest aan te strap. Met Breyten kan jy imagine wat op die ou einde kom, maar ten minste weet jy op daardie oomblik hoe lewendig jy nog is.”

En dit – lewendig – is al die stories. Jy loop jou hier vas teen kragdrade. En jy wil nóg hê.

Daarom is die skrywer opgeneem in Die nuwe Afrikaanse prosaboek (2019), saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk. En dis hoekom Human & Rousseau haar aan boord geneem het, al is die uitgee van klassieke kortverhale nie net in Afrikaans nie, maar wydlopig in die wêreld, nie winsgewend nie. Die belegging wat die L.W. Hiemstra-trust met sy subsidie in hierdie bundel – en so ook dié jong Vrystaatse skrywer – gemaak het, sal dividende lewer. Kry vir jou, en weet waarom.

  • Rachelle Greeff is ’n skrywer en aanbieder van die skryfskool by die Breytenbachsentrum op Wellington.
Meer oor:  Madré Marais  |  Kortverhale  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.