Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Duiselingwekkende dosyn

Schalk Schoombie se eerste kortverhaalbundel, ‘Die nag ruik na spoed’, bevat ’n dosyn wetenskapsfiksie- en fantasie-kortverhale vir volwassenes oor die liefde, die lewe en die dood in ’n wêreld waar kunsmatige intelligensie en tegnologiese vooruitgang koning kraai, skryf Jonathan Amid.

Die nag ruik na spoed deur Schalk Schoombie. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R200.

Schalk Schoombie is ’n onderskatte skrywer wat betreklik laat eers as prosaïs gedebuteer het met die roman Boomkastele: ’n Sprokie vir ’n stadsmens (2015). Dit is in 2017 gevolg deur die speurroman Rooi haring. Albei boeke het spekulatiewe elemente en spanningslyne wat direk aan die opheffing van twyfel gekoppel is.

Miskien was die grensoorskrydende aard en eiesoortigheid van dié speelse metafiksie een te veel vir lesers en sommige kritici. Dalk het hierdie opsetlik “slim” verhale te opsetlik tussen verskillende vertelstyle en genres beweeg. Of was ’n vollengte roman, volgeprop met metafisiese vraagstukke oor identiteit, verganklikheid en verlies en onoplosbare raaisels oor die verhouding tussen mens en natuur – gewoon te oorweldigend vir ’n lesersmark wat ál meer resepmatige plaaslike spanningsromans begin verorber het?

Met die verskyning van Schoombie se eerste kortverhaalbundel, Die nag ruik na spoed, wat bemark word as “wetenskapsfiksie vir volwassenes”, is die skrywer se posisie in die Afrikaanse literêre wêreld dus nog betreklik oop en onseker. Maar so met die krul van ’n vraagteken agter sy naam bied die skrywer hier ’n dosyn duiselingwekkende skeppings aan wat wêrelde oopskryf en die leser emosioneel platslaan. Die nag ruik dalk na spoed, maar dié verhale lees amper soos ’n openbaring.

“A short story is a love affair; a novel is a marriage. A short story is a photograph; a novel is a film,” skryf die Amerikaanse skrywer Lorrie Moore, wat veral vir haar kortverhale bekend is. Die nag ruik na spoed is ’n versameling spekulatiewe verhale wat die toekoms in snel, ’n “love affair” van intense hoërgraad-intriges oor die liefde, die lewe en die dood namate die skepping ál meer plek inruim vir kunsmatige intelligensie en tegnologiese vooruitgang.

'A short story is a love affair; a novel is a marriage. A short story is a photograph; a novel is a film'

Schoombie is allermins ’n tradisionele liefdesverhaalskrywer, maar die bundel kan gelees word as ’n eiesoortige kroniek van die mens se liefde-haat-verhouding met die verlede, noodwendig meer troebel as vermoed, en die toekoms – altyd onstabieler en meer onvoorspelbaar as ’n projeksie as wat ons in die hede kan verstaan.

Die bundel kan, wat verhaallengte betref, ruweg in vier verdeel word: Die kortste verhaal is slegs twee bladsye lank, terwyl daar vier stories van sewe tot tien bladsye, vier tussen 13 en 20 bladsye en drie van ongeveer 30 bladsy elk is.

Elke storie boei van meet af aan met ’n goed nagevorste en ontwikkelde hooftema en herkenbare dog ragfyn gedetailleerde karaktereienskappe wat afstuur op ’n slot wat begogel, verras of ontredder. Die korter verhale is nie noodwendig opwindender as die langes nie, net soos die langer verhale ook nie meer diepte as die korteres het nie. Edgar Allen Poe se stelling “[a] short story must have a single mood and every sentence must build towards it” is een wat Schoombie intuïtief teen sy skrywershart vasklem.

Die bundel begin met die betowerende “Sinkronisityd” waarin die eienaar van ’n oudhedewinkel ’n “unieke” besoeker ontvang. Die verhaal ondersoek tyd, verganklikheid en verbeelding in ’n ryk teks wat eindig met ’n knal. Volgende is “Die stad fluister”, ’n ontstellend vreemde verkenning van die verhouding tussen stad en plaas, oppervlak en diepte, liggaam en siel, ervaring en besinning. Die titel gee wonderlik lewe aan die mens se obsessie om fisieke ruimtes te verken en te bemeester. Hier praat die stad terug, hees en honend.

Die derde verhaal, “ ’n Boer maak altyd ’n plan”, bevat die frase wat vir die titel van die bundel gebruik is, en hier wentel die intrige om twee uiteenlopende reaksies op die dood en een eiesoortige poging om hergeboorte te fingeer. Saul Bellow word aangehaal: “There isn’t one person in ten thousand that understands the first thing about death.” Hierdie “onkenbaarheid” en onverkenbaarheid beklemtoon die dood as immer tergend en ontwykend, ’n droom sonder sinne, ’n handeling en wandeling wat ons iewers tussen vraag en antwoord laat.

Verhaal vier, “Die geheim van vuur”, is ’n vurige vertelling wat hierdie leser laat terugdink het aan Ray Bradbury se Fahrenheit 451 en Chuck Palahniuk se Fight Club en Project Mayhem. Ook is daar kopknikke na Schoombie se eie Boomkastele. In “Simon se geheue”, die vyfde storie, kan lesers ontdek hoe die ironies gelade frase “vergeet van geheue” op die storiestrand uitspoel. Ek gebruik nie om dowe neute die beeld van die strand nie. Lesers sal ryklik beloon word deur die lydende karakter van Simon in William Golding se Lord of the Flies te herbesoek.

Die uitvinding van die wiel as ’n soort genesis-oomblik word met vrug in “Tussen die lyne”, die sesde verhaal, ontgin, terwyl die sewende, “Omwentelinge”, hierdie leser sprakeloos gelaat het. Ek vermoed die hele verhaal kan as metafiksionele besinning of allegorie oor die aard en rol van die skrywer as kunstenaar/openbare figuur gelees word.

Die enigste swak plek is die agste en negende verhaal: “Volle positiewe”, onegalig en heeltemal te lank, is ’n nature vs nur­ture-studie wat uitspeel as die skrywer se eie erkenning van literêre invloede; en “Hondevanger” is skaars twee bladsy lank en voel uit plek uit, afwisseling ten spyt.

Die tiende en 11de verhale is albei meesterstukke in die kleine. “Die beraad van dimensies” en “Die kop van Set Niemand” is gemoeid met die prosesse en uiteindes asook die spesifieke protokol van tegnologiese vooruitgang.

In albei vorm die gebrek aan “menslikheid” te midde van robotte en kunsmatige intelligensie die kern. Albei verhale sou uiters gepaste gevallestudies wees vir aspirantskrywers wat spekulatief te werk (wil) gaan.

Die finale verhaal, die “12de stap” in Schoombie se spekulatiewe verkenningstog, is die elegiese en elegante “Lotusblom” wat handel oor die skoonheid van verwoesting en die verwoesting van skoonheid.

Die nag ruik na spoed is ’n bundel vol waagmoed, weemoed en wonder. ’n Diorama van onuitwisbare verbeelding en verkenning wat gesaghebbend uiting gee aan die Franse kunstenaar Paul Cézanne se opsomming van die mens: “Ons is ’n reënboogkleurige chaos.”

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.