Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Eeu se stories boeiend verpak

‘Die Burger 100’ vertel hoe ’n koerant treffend oor gebeure die afgelope eeu berig het, skryf Dolf Els.

Die Burger 100: Sy mense en hul stories, saamgestel deur Bun Booyens en Aldi Schoeman. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R340.

Nie almal kan ’n kentering in die wêreldgeskiedenis met hul eie oë aanskou nie, skryf Leopold Scholtz in sy stuk oor die val van die Berlynse Muur. Maar vir Die Burger se lesers is die koerant al langer as ’n eeu hul blik op groot nuus. Hierdie boek laat van daardie stories herleef.

Die Burger 100 vertel hoe ’n koerant boeiend en treffend oor gebeure die afgelope eeu berig het, dikwels op ’n eiesoortige, onortodokse wyse. In elkeen van die tien hoofstukke word ’n dekade se hoogtepunte aan die hand van nuusberigte, vertellings, foto’s en spotprente uitgelig. Dit word in ’n tydlyn met kort nuusbrokkies aangevul. Die samestellers het die net wyd gegooi – politiek, misdaad, rampe, skandale, sport en nog meer.

Die boek is ’n toonkas van uitstekende joernalistiek deur talentvolle verslaggewers. Sommige vertellings is humoristies, ander laat jou met ’n knop in die keel.

Van die vroegste uitgawes af is soepel en vindingryk met die taal omgegaan, nie net in die groot, opspraakwekkende verslae nie, maar ook in die alledaagse nuus.

Die boek is ’n toonkas van uitstekende joernalistiek deur talentvolle verslaggewers.

So skryf Izak van Tonder in 1925 – skaars drie jaar nadat De Burger na Afrikaans oorgeslaan het – oor ’n polisieklopjag in Distrik Ses: “Die straatliggies is so ver van mekaar dat hulle ’n wanhopige stryd voer om die see van duisternis te verlig. Half-afgebreekte stoepe kleef hier en daar teen die huisies vas.”

In haar verslag oor hoe die Gamkas­klowers hul beloofde pad gevier het, vertel Rykie van Reenen: “Dit was ’n papnat dag . . . Kole is gemaak onder twee skuins staangemaakte sinkplate waarop die reent amper heelaand tst-tst bly spoeg het.” En later toe die voete jeuk: “Die konsertina het so vat-vat verder Kloof-af gekla.”

Verslae oor groot gebeure is dikwels aangrypend verwoord. J.J.J. Scholtz, assistentredakteur, vertel in boeiende detail hoe H.F. Verwoerd in sy eersteministersbank in die parlement vermoor is.

Jack Viviers se verslae oor die eerste maanlanding was seker soos ruimtefiksie vir 1969 se lesers: “Skielik bars die vlamme onder die vuurpyl uit. Stadig, baie, baie stadig begin die magtige voertuig van sy basis en van die aarde oplig . . . dan hoor jy die geluid. Dit is die krag van 190 miljoen perde wat uit die vyf enjins bars. Jy word hoendervleis terwyl ’n miljoen mense soek in die hemelruim na die tuig wat maan toe snel.” Viviers laat die lesers saam met die landingstuig na die maan neerdaal: “Dan druk Armstrong die knoppie. Twee plofbare vloeistowwe vloei na die ontbrandingskamer . . . en ontplof in die geskiedkundigste reis van ons tyd. Ons harte was ’n koue bol vrees. Voet vir voet het ons saam met hulle neergedaal. En toe . . . ‘Die Arend het geland’.”

Die opspraakwekkende eerste hartoorplanting in 1967 word onder meer in herinnering geroep, ook die skêrmoord in 1974 wat lesers oor die hele land aangegryp het en die Laingsburg-vloedramp van 1981. “Laingsburg in daglig was ’n modderskok. Sondag se gulsige rivier koggel Maandagmiddag smal onderdeur die verwoeste padbrug,” skryf Sarie Marais-Nell.

Die leser word agter die skerms geneem, hoor die storie agter die storie. So vertel Hubert Coetzee, destyds nuusredakteur, hoe ’n hoofberig soms uit stukkies en brokkies vorm kry – skrapse inligting wat deur ’n ervare joernalis na waarde geskat word. Toe die eerste atoombom in 1945 bo Hirosjima ontplof, het hulle ’n “vae berig” uit Amerika “met visie en verbeelding” in ’n pakkende hoofberig verwerk. En dit in ’n era waarin die woord “atoombom” nog onbekend vir die meeste lesers was.

Soms het politieke dienstigheid oor gesonde nuusoordeel geseëvier. Leon Rousseau, latere boekuitgewer, vertel hoe die hoofberig een aand – oor die kwaaiste brand in menseheugenis – plek moes maak vir ’n toespraak deur die eerste minister, D.F. Malan. Dit moet die hoofberig wees, “al brand die hele stad ook af”, was die “opdrag, nee, dekreet”, skryf Rousseau.

Die boek gee ook ’n interessante blik op ’n era voor moderne tegnologie, toe ná “twee maande se studie” daarin geslaag is om toneelfoto’s sonder ’n flitslig te neem, toe teleksmasjiene en tikmasjiene in nuuskantore geknetter en ’n bode snags met die blaaie na die fabriek in Paardeneiland gejaag het. In die 1990’s het rekenaars, digitale redigering en elektroniese versending oorgeneem. Maar dit het ook ’n “inligtingsgolf losgelaat waarteen min koerante in hul papiergewaad waarskynlik bestand sal wees”.

’n Boek soos dié kan maar ’n handvol hoogtepunte uit elke dekade dek, tog is dit jammer dat daar oor die Grensoorlog net enkele kort verwysings is. Dit was 23 jaar lank deel van die Suid-Afrikaanse nuustoneel en het die lewe van baie Burger-lesers ingrypend beïnvloed. Ook die Springbokke se Wêreldbeker-sege in 1995 verdien meer as net ’n brokkie in die tydlyn.

Die Burger 100 is ’n lekkerlees-bundel van tien dekades se uitstekende joernalistiek. Mag die koerant daarmee voortgaan, al is dit nie langer in papiergewaad nie.

  • Dolf Els is ’n vryskutjoernalis en teksredakteur.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.