Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Eeu van Eybers
Elisabeth Eybers

Die domineesdogter wat ons eerste gepubliseerde digteres sou word, is op 26 Februarie 1915 op Klerksdorp gebore.

Elisabeth Eybers se lewe is in ’n groot mate deur twee faktore bepaal. Die eerste is dat sy die geloof van haar pa afgesweer het, en die tweede dat sy in 1961 ná haar egskeiding van die sakeman Albert Wessels Nederland toe geïmmigreer het. Drie dogters en ’n seun is uit die huwelik gebore.

Toe sy in 1936 met Belydenis in die skemering gedebuteer het, is sy dadelik gereken tot die geledere van die vernuwende digters van die 1930’s. Haar tydgenote was N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw en Uys Krige. Reeds in haar eerste bundel staan ’n gedig wat klassieke status in die Afrikaanse letterkunde sou verwerf. Dit is “Maria”, wat sy drie jaar tevore geskryf het toe sy 18 jaar oud was. Om die moeder van Jesus ’n “nooi uit Nasaret” te noem, was ’n briljante vonds en destyds miskien selfs ’n bietjie gewaagd. Dit het D.J. Opperman moontlik die moed gegee om 20 jaar later in sy gedig “Kersliedjie” van Jesus as “God se klong” te praat.

Al kon Elisabeth Eybers nie soos haar vader glo nie, het sy groot waardering vir hom gehad. In die gedig “Oorsig” beskou sy haar vader se lewensfilosofie as ’n romantiese ideaal. En tog is sy dankbaar dat sy die “ontasbre droom” van hom geërf het. Hy was ’n dienaar van die Woord met ’n hoofletter, en sy van die woord met ’n kleinletter. En albei vereis ’n sekere “wêreldwarsheid” en argeloosheid.

In die bundels wat op haar debuut volg, skryf sy onvergeetlike verse oor swangerskap en moederskap. Haar uitspraak dat daar tussen moeder en kind altyd ’n “onsigbre naelstring” sal bestaan “wat nie kan breek”, het al ’n spreekwoord in Afrikaans geword. Sy skryf ook gedigte oor Johannesburg, die “minerale stad” waar sy gewoon het, en waarvan “Busrit in die aand” waarskynlik die bekendste is. Die volgende strofe funksioneer as ’n spookagtige refrein in die gedig:

Elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit

sit hulle suf, met monde moeg gesluit,

die werkers van die stad wat huis toe gaan.

Haar gedig oor die Johannesburgse begraafplaas Wespark is sekerlik die mees virtuose en volgehoue stuk ironie in die Afrikaanse digkuns. Maar sy skryf ook sensitiewe natuurgedigte soos “Wilgerbome”. In die aandskemer staan hulle “wasig en tinger, met ’n wasbleek maan / tussen hul ragwerk” in die “rookblou uur”.

Ná haar verhuising na Nederland skryf sy weer stadsgedigte, maar dan oor die sagte gragtestad Amsterdam.

In “Twee kleuters in die Vondelpark” beskryf sy die rustige park in die middel van Amsterdam, maar is terselfdertyd ook krities oor die tipies Nederlandse karaktertrekke van die “doktrinêre Hollandse meneer” en “slagvaardige mevrou” wat haar nie aanstaan nie. In Nederland vind sy nuwe manlike metgeselle en skryf sy liefdesgedigte wat dikwels openlik eroties van aard is, soos die volgende paradoksale reël uit “Omhelsing” bewys: “Mens moet gekoppel word om saam te swewe”. Sy kan egter nie haar vorige eggenoot sy ontrouheid en geldsug vergewe nie en gee uiting aan haar afkeer daarvan in een van die huiweringwekkendste haatgedigte in Afrikaans, naamlik “Midas”:

Wat is ’n vrou? / iets wat jy gryp vir die kort lekkerkry.

As ’n uitsonderlike edelsmid van die woord, het Elisabeth Eybers ook talle gedigte geskryf waarin sy oor haar ambag besin. In “Poësie” sê sy:

Van volgbare resep geen sweem,

tog word dit só – en nie anders

nie –

gestook: uit pyn en afstand

neem,

uit liefde en ironie.

Die slotreël eggo N.P. van Wyk Louw se uitspraak in sy “Groot ode”: “eintlik moet ons leer ironies lewe: / én: binne ironie nog liefde hou”.

In 1987 verskyn haar bundel Rymdwang. Die titel is ongetwyfeld ironies bedoel, want ’n mens betrap Eybers selde op ’n geforseerde rym of versvorm. Maar die rym het haar lewe lank ’n dryfveer gebly waaraan sy teen wil en dank moes gehoorsaam.

In haar bundel Respyt van 1993, toe sy 78 jaar oud was, sê sy in die gedig “Teëspraak”: “Mens dig noodgedwongener oor ondraaglike dinge”. En haar uiteindelike berusting in die noodwendige afloop van ’n mens se lewe spreek uit die volgende kernagtige formulering in “Uitsig op die kade”: “Ek mis myself steeds minder”. Teenoor haar vader se dogmaties Calvinistiese lewensbeskouing stel sy ’n Zen-gelatenheid.

Eybers het van die treffendste ouderdomsgedigte in Afrikaans geskryf voordat sy op 1 Desember 2007 op 92-jarige ouderdom oorlede is.

Sy beskryf die dood vernuftig as “die nulvolle dividend / met dieselfde d vir begin en end”. Tot op die einde het sy die dood bestry met ’n helder verstand en trefseker woordgebruik. Haar laaste bundel, Valreep / Stirrup-cup, het op haar 90ste verjaardag verskyn. Die bundel is tweetalig omdat sy in later jare al hoe meer aangetrokke gevoel het tot die taal van haar moeder.

Eybers kon oor uiters persoonlike dinge skryf sonder om die leser in ’n verleentheid te stel.

Elisabeth Eybers kon oor uiters persoonlike dinge skryf (liefde, seks, huweliksonmin, jaloesie, liggaamlike ongemakke) sonder om die leser in ’n verleent-heid te stel. Die geheim is om die gepaste metafoor en versvorm vir elke onderwerp te vind. Haar aforistiese stelwyse gee dikwels aan haar gedigte die allure van ’n besweringsformule of van ’n klinkende spreuk wat ’n universele waarheid verwoord. My gunsteling is: “Besitloosheid verlos mens van verlies.”

Eybers het die Afrikaanse digkuns verryk deur Nederlandse woorde en idiome ongeforseer deel van haar taalarsenaal te maak. Sy het dit reggekry om dié twee tale wat oor ’n tydperk van 300 jaar ver uitmekaargegroei het, in so ’n mate te versoen dat Nederlanders haar onvertaald kan waardeer en inderdaad drie literêre pryse aan haar toegeken het, insluitende die hoogste eerbewys, die P.C. Hooftprys.

In Suid-Afrika is sy twee keer met die Hertzogprys bekroon – in 1945 vir haar eerste twee bundels en in 1971 vir haar bundel Onderdak. Elisabeth Eybers se Versamelde gedigte is nie net ’n monument vir ’n groot digter nie, maar ook vir dit waartoe ’n jong, bedreigde taal in staat is.

  • Daniel Hugo is ’n digter en vertaler.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.