Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Egte afgeronde kunswerk

Kortverhale

Luistervink

Madré Marais

HUMAN & ROUSSEAU, R220

Madré Marais wys met haar debuutbundel hoe kán dit gedoen word wanneer ’n skrywer die kortverhaalgenre met deeglikheid en sonder ooglopende haas aanpak.

In 2013 is een van haar verhale opgeneem in die saamgestelde bundel Nuwe stories 2. In ’n onderhoud op LitNet het sy toe gesê dit was een van haar doelwitte om eendag ’n bundel kortverhale te publiseer. Haar eendag het nou – ’n hele paar jaar later – aangebreek met die uitreiking van Luistervink, en dis ’n kragtoer.

In elk van die 13 verhale kry ons te make met ’n ander leefwêreld; totaal uiteenlopend. In “Waar die kweswerk gedoen is” sny ons spoor agter ’n gekweste koedoebul aan; in “Wat Bok nie weet nie” sit ons aan saam met Nita en Bok vir ’n dagwood en tjips; in “Elke lugspieëling het twee kante” spits ons ons kinders-moet-gesien-en-nie-gehoor-word ore terwyl Pa vertel van ’n plaaswerf vol skrootyster en misterie; en in “Hadeda” loer ons met ’n afgetredene se oë agter ’n kantgordyn uit, in ’n meenthuisie vol laastes.

Ook die konstruksie en ritme van die stories verskil van verhaal tot verhaal.

Ook die konstruksie en ritme van die stories verskil van verhaal tot verhaal. In “Brandoffer” is dit byna wegholprosa, met punktuasie wat soms agter raak in die opbou van angs, en dan – wanneer die hart stadiger probeer klop – vang die punte, kommas en hoofletters weer momenteel op met die narratief wat afspeel in ’n droë wêreld van verwyt en vuur.

Daarenteen in “Grond” dwaal karakter en leser in ’n byna beswyming deur ’n konservatorium, ’n glashuis vol blare, water en stilte, met gedagtes wat proe aan mond-volmaak botaniese name. Veral in hierdie vertelling kommandeer die skrywer elke enkele sintuig op as deel van die ervaring.

Al het elke storie sy eie stem en ritme kry Marais dit reg om deurlopend gewaarwording en emosie so oor te dra dat die leser kan sê: “Ja, ek weet.” Dit maak nie saak deur watter karakter se mond sy praat nie, ons kan duidelik hoor.

Vir hierdie leser was die 13 stories elkeen ’n afgeronde kunswerk wat ek telkens ná die lees vir ’n oomblik wou vashou en bewonder. Van die langstes, soos my persoonlike gunsteling, “Elke lugspieëling het twee kante”, wat trap vir trap, laag vir laag opbou tot ’n pragtige slot, tot die prosajuweeltjie “Jy loop na ’n drom en skep” van skaars twee bladsye. Selfs my (persoonlike) mins-gunsteling, “Drie-honderd-vyf-en-sestig en ’n kwart”, gaan my heel moontlik bybly nes Bea se opduik-gedagtes oor Niel in “Soengroet”. Ek vermoed ek gaan onwillekeurig daaraan dink elke keer as ek in ’n skuimbad sit. ’n Mens hoef nie van al die karakters te hou om te waardeer hoe slim die skrywer hulle op papier gesit het nie.

Clari Niemand is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Madré Marais  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.