Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Fees uit die pen en kwas van verbeeldingryke span

Dié boek was die topverkoper onder die kinder-en-jeugboeke by vanjaar se Woordfees – en Magdel Vorster is allermins verras.

Vandag is ek ’n windlawaai deur Philip de Vos met illustrasies deur Piet Grobler. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R150.

“Bo in my boom se takke waar voëltjies hoog rinkink, sal ek saam met hul wysies aan nuwe stories dink,” rym Philip de Vos in “Vreemde stories”, die tweede storievers in Vandag is ek ’n windlawaai. En dit is presies waaroor dié prenteboek gaan: De Vos se verse is geïnspireer deur Robert Schumann se Kinderszenen (Kindertonele), ’n klavierwerk van 13 musikale sketse wat eweneens briljant deur Piet Grobler in waterverf vasgevang word.

Elke vers kan individueel geniet word, maar De Vos en Grobler weef ’n storie met die dag- en nagdrome van ’n seuntjie wat die wêreld op sy houtperd deurkruis. Sy verjaardag, sy windlawaaidag, is ’n hoogtepunt en hy onderhandel tipies met sy ouers om sy grense verskuif te kry.

Wie kan rym soos Philip de Vos? Kyk hierna: “Baba Jaga, maraboe, Lorelei en kaketoe” of “Vanmiddag het ek nesgeskop, bo in my boom se hoogste top. En als was o so lekker hier, om saam met voëls te tierelier.”

Die 13de en slotvers maan op ernstiger noot die kind in oud en jonk moet lewend bly: “Gryp die sonlig. Gryp die dag. Die land van Slaap lê voor en wag.”

Vroeër in “Dromery”, De Vos se vers oor “Träumerei” (sekerlik die bekendste stuk in Kinderszenen), word reeds gewaarsku: “Maar voor ek nog ’n droom kan vang, is hy al klaar verby.”

De Vos het al in onderhoude verklaar hy het nog nooit grootgeword nie (en sal ook nie), net soos Clara, Schumann se vrou, wat gesê het haar man is soms soos ’n kind (dit het inderdaad gelei tot sy uiteindelike keuse van die 13 stukke in Kinderszenen).

Soos altyd sit Grobler se speelse en kostelike illustrasies die kersie op hierdie kindweeskoek. Uit De Vos se “sakvol stories” in “Haastig” laat peul Grobler bekende karakters en simbole uit sprokies, onder meer Sneeuwitjie se appel en spieël, ’n kroon wat op vele sprokieskarakters se kop kan pas, ’n fee en ’n swaard. Intussen pronk die drie varkies langs hul huisies terwyl die wolf op die voorgrond vir Rooikappie probeer oortuig om van roete te verander.

Vandag is ek ’n windlawaai is ’n fees uit die pen en kwas van dié verbeeldingryke span, wat ook ander musikale werke soos Moessorgski se Prente by ’n uitstalling en Karnaval van die diere van Saint-Saëns nuwe lewe gegee het. Dit sal lesers van agt tot 80 bekoor.

  • Magdel Vorster is ’n voormalige kinderbibliotekaresse en eienaar van ’n kinderboekwinkel wat vir oorsese publikasies oor plaaslike boeke in dié genre skryf.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.