Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Fees van fuiflees vir jonges van dae

In menige huis met kinders word TV-reekse deesdae in marathonsessies verslind. Dié “fuifkykery” is ’n ou laai in die boekewêreld, waar die meeste reekslesers reikhalsend uitsien na die volgende aflewering.

Die eerste twee boeke in De Wet Hugo se nuwe het die woord grillerig in gemeen. Hugo vermeng in die eerste boek, Die vloek van Vreesbaai geskiedenis, wetenskap, grootword-tameletjies en ’n goeie dosis grillerige tonele om ’n boeiende storie te skryf wat moeilik neergesit sal word. Ná die eerste een sal jong lesers beslis ook die volgende een, Web van die mummie, nader trek.

Hierin ontmoet hulle ’n stel splinternuwe karakters, net soos in die derde boek, Kamp vir monsters, wat vandeesweek verskyn. (Hou Rapport se boekeblaaie dop vir ’n onderhoud met die skrywer.)

Anders as so ’n tematiese verband kan ’n boekreeks ook die storie(s) van een of meer karakters vertel. In Nina en die crazy klere (Tafelberg, R155), die laaste titel in Elizbè van der Colff se Nina-trilogie (met illustrasies deur Chris Venter), woon Nina en Jessie die Eksotiese Eksperimente-ekspo by.

Lesers klim saam met hulle met spesiale handskoene en sokkies teen mure uit, dra lyfkouse om onsigbaar te wees en doen slim speurwerk om raaisels op te los.

Die vierde boek in Sonja Kaiblinger se Harry Griesel-reeks, Die Zombie-ontvoerder (Human & Rousseau, R175 is deur Irma Badenhorst in Afrikaans vertaal.

Die avonture en ekspedisies van Otto en Vincent, sy troetelvlermuis, en hul onderonsies met huisspoke en grilgrypers is wel minder grillerig as Hugo se Grilgrypers, maar nietemin boeiend en dikwels baie snaaks.

Dit raak nooit makaber nie en sal eerder tot avontuurlike drome as nagmerries lei.

Vir liefhebbers van speurverhale met ’n kinkel is die laaste aflewering van M.G. Leonard se Kewertrilogie, vertaal deur Kobus Geldenhuys, nou beskikbaar. In Kewerwraak (Protea Boekhuis, R195), wat volg op Kewerknaap en Kewerkoningin, neem Darkus en sy renosterkewer, Baxter, lesers na die reënwoude van die Amasone om die wêreld van hongersnood te gaan red.

En vir diegene in wie daar ’n nuwe belangstelling in Coleoptera ontwaak, is daar ’n entomologie-woordelys en bykomende bronne en webwerwe ingesluit.

Geldenhuys het ook Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem-reeks vertaal, en vir ’n ultramarathonleessessie is al 12 titels nou op die rak waarin aanhangers van Hiccup van die How to Train Your Dragon-rolprente vir Harwarrus Horribalus Heldehelm die Derde ontmoet. In die tiende boek, is Harwarrus, die jong Viking, in ballingskap en op soek na die draak se juweel. Hy word deur ’n draak ingesluk en loop sy ou vriend Visbene daar binne raak.

Teen dié tyd ken die draak-leesbrigade hul gunsteling-karakters en is hulle goed vertroud met Cowell se narratiewe tegnieke, so daar word by elke nuwe titel ingeduik om uit te vind wat volgende gaan gebeur.

As ’n mens weet hoe ’n ou gunsteling smaak, proe jy immers nie versigtig nie, jy éét. ’n Goeie boekreeks verg toewyding, en in afwagting op die volgende goeie storie met gunsteling-karakters sal selfs die eens onwilligste leser die volgende en die volgende en die volgende boek kafdraf, net soos met enige ander gunsteling-lekkerny.

  • Magdel Vorster, ’n voormalige kinderbibliotekaresse en eienaar van ’n kinderboekwinkel, skryf vir oorsese publikasies oor plaaslike boeke in dié genre.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.