Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Fyn genuanseerde roman

Fiksie

Die kind uit die wingerd

Helene de Kock

HUMAN & ROUSSEAU, R310

“Carijn onthou hoedat almal in die distrik en op die dorp bly praat het oor die kind wat so uit die wingerd die Erasmusse se lewe binnegekom het. Hulle het op die sypaadjies staan en fluister en na kerk in die skadu gepraat. Want die ding van ’n kind wat sommerso uit die lug val, bly ’n goeie storie.”

Helene de Kock weef die storie van Carijn den Hagen en Laurens Erasmus so vaardig dat ek binne die eerste paar hoofstukke tuis voel in 1918 tussen die Erasmusse van Houwhoek en die Den Hagens van Vredenhoek, “mense wat knus in die boonste lae van die samelewing inpas”.

Die enigste ding waarvan Laurens kan seker wees, is sy naam en geboortedatum op ’n flentertjie papier wat vasgespeld was aan sy baadjie. Van sy plek op Houwhoek kan hy nooit seker wees nie; Cecil en Roelien voel soos sy broer en suster, maar ook nie. Hy pas in by die Erasmusse, maar ook nie. Wanneer familiefoto’s geneem word, staan hy eenkant – totdat oom Janus eendag sy stem dik maak. Van toe af word daar altyd een foto saam met Laurens en een sonder hom geneem. Maar waar hy wel soms tuiskom, is in die wingerd en tussen die wynvate.

Ek lees in kleure: warm wynkleure tydens Laurens se kinderjare langs die Eersterivier; waterverf-grasskakerings in Betlehem in die Vrystaat; groene en bloue toe hy weggestuur word uit die wingerd Nederland toe om sy regstudies in Leiden voort te sit; en donkergrys in Engeland tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Die verhaaltempo en taalgebruik is seepglad. Soms loer ’n ouwêreldse woord of Nederlandse segswyse uit die blad, so subtiel dat dit glad nie hinder nie, maar bydra tot die outentieke gevoel van tyd en plek. “By nabaat weet mens altyd beter.” Woorde uit die mond van een van Laurens se professore, die kil Alma Mendels. “In retrospek” sou nie gewerk het in die vertelling nie.

Elke karakter ontwikkel bevredigend oor die tydsverloop van 1918 tot 1944. Groot veranderinge is dit nie altyd nie, eerder die fyn genuanseerde groei wat gaandeweg saam met lewensjare en omstandighede kom.

“Blijf met mij,” het Laurens daardie eerste dag vir Carijn gesê. Deur die jare spreek hul briewe en telegramme van verlange, veral te midde van die vrees en onsekerheid van oorlog. Maar op Betlehem is daar die boer Wim Daniels, met wie Carijn ’n spesiale vriendskap het, en in Leiden raak Laurens geheg aan sy medestudent Wilmien.

Dan kom die einde van die oorlog nader, en Carijn hoor nie meer van Laurens uit Europa nie.

Ek het lank na die pragtige omslag van hierdie boek gekyk nadat ek dit klaar gelees het . . .

Clari Niemand is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.