Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Gids om trauma te troef

In ‘Katrienkie’ vertel die maatskaplike werker Cara Blake nie net die verhaal van ’n kinderprostituut nie – sy deel ook praktiese raad wat enige getraumatiseerde sal help, skryf Riette Rust.

Katrienkie: Van hawegirl tot lady deur Cara Blake. Uitgewer: Naledi. Prys: R145.

Katrienkie is ’n belangrike selfhelpgids – nie net oor die bydrae tot die bewusmaking van kindermolestering nie, maar ook oor die praktiese raad wat hierin opgeneem is. Wanneer jy seksueel misbruik is, moet jy leer hoe om met dié verskriklike letsel saam te leef, want heeltemal oorkom, dít kan jy klaarblyklik nie.

Dis ’n dun boekie (’n skrale 84 bladsye), maar een met durf waarby nie net slagoffers van seksuele misbruik kan baat vind nie, maar ook enige ander getraumatiseerde.

Wat Katrienkie laat uitstaan, is die insig in die gedagtewêreld van die seksueel mishandelde kind, en ook in die psige van dié kind as volwassene.

Katrienkie was maar nege jaar oud toe sy die slagoffer van ’n pedofiel geword het. Vakansies het hy haar as kinderprostituut in die hawe uitverhuur.

Met meer as 20 jaar ervaring as maatskaplike werker, ken Cara Blake haar onderwerp. Sy skryf nie in besonderhede oor wat met Katrienkie gebeur het nie, maar werp lig op hoe dié ernstige kwessie hanteer is. Heelword is die doelwit.

Die gids is in twee dele verdeel: Die eerste deel fokus op wie Katrienkie was – sy het intussen geleer dat daar lewe ná verkragting is – terwyl deel twee oor spesifieke kwessies soos die rouproses en vergifnis handel. Die rouproses? Ja, ’n seksueel misbruikte kind ervaar ’n verlies aan onder meer veiligheid, beheer en selfvertroue. Haar onskuld word van haar weggeneem. Dissosiasie kom algemeen voor: As oorlewingsmeganisme “skei” die kop van die liggaam. Die kind wil nie weet of voel wat met haar lyf gebeur nie.

Eweneens insiggewend is die reaksie van ander. Verbale seksuele teistering: Get over it! Verkragting: Baie erg. Maar vir ’n slagoffer is énige vorm van seksuele misbruik traumaties.

Katrienkie vertel van die “hulp” wat sy as senior leerling ontvang het. ’n Pastorale sielkundige, byvoorbeeld, het voor die hele skool gebid dat “die demone” die kind sal verlaat. Katrienkie het egter met God geworstel: ’n Man het haar misbruik en God is ’n man, het sy gereken.

Dit is vandag steeds ’n hartverskeurende feit dat baie ouers oë toeknyp: Dit gebeur nie met ons kind nie, want ons wil dit nie weet nie. Kort nadat Katrienkie se ouers van hul dogter se trauma uitgevind het, het hulle by die oortreder gaan braai! Ontkenning maak die trauma soveel erger.

Die doel, uitwerking en praktiese hantering van terugflitse en paniekaanvalle kom onder die loep en so ook twee van die belangrikste vrae waarmee slagoffers dikwels worstel: Hoe maak ek vrede met my lyf? En: Hoe pas ek seksueel in ’n normale verhouding aan?

Hoewel Katrienkie sê dat sy “nooit ooit kan aanvaar” wat met haar gebeur het nie, word die belangrikheid van traumaverwerking beklemtoon: Trauma is soos “ ’n mandjie met ongestrykte, dikwels vuil wasgoed wat net in ’n laai geprop word . . . naderhand kan die brein se laaie nie meer toegaan nie”. Maar deesdae dra Katrienkie haar letsel as bewys dat sy sterker was as dít wat haar wou onderkry. Raad oor die hóé van traumahantering kom ook voor.

Hoewel die samestelling van die selfhelpgids beslis sou kon baat vind by ’n strenger redigeerhand, moet die terapeutiese waarde wat Katrienkie: Van hawegirl tot lady inhou, beslis nie onderskat word nie.

  • Riette Rust is ’n vryskutresensent en skrywer.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.