Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Glasie op Koos Human
Koos Human in sy kantoor toe hy as uitgewer gewerk het.

Koos Human het vandeesweek 85 geword. Hy het die geleentheid aan huis saam met sy vrou, Trula gevier. Human, een van die heel groot geeste in die Suid-Afrikaanse uitgewersgeskiedenis, woon steeds in Kaapstad, sy geesdrif vir boeke en nuus ongeblus. Kerneels Breytenbach huldig hom.

Sy loopbaan word vir my beste saamgevat deur Hannes van Zyl, ’n oudkollega: “Koos was een wat in sy lewe druk gewerk, gepraat en gespot het om Afrikaans en die land oop te hou. Hy het dit gedoen my sy intieme en goeie verstaan van NP van Wyk Louw se manier van dink, die oop gesprek; die vele vorme van lokale dwang; en lojale verset daarteen; en met sy ewe goeie verstaan van en meelewing met Leroux, Brink, Rabie en ander skrywers van die tyd se sinisme oor ou omies en plaaslike pouse; hul verset teen staat en sensuur; en die belang dat Afrikaans minstens in hierdie land ’n oop en wye taal moet wees.”

Hoewel sy feesmaal vandeesweek in omvang meer beskeie is, uit behoefte, deel legio skrywers en uitgewers herinneringe van onvergeetlike etes saam met Koos Human.

Ek wil graag vertel van die een magiese oomblik wat ek met Koos Human beleef het. Peter Veldsman het daarna verwys by die bekendstelling van sy Wat die hart van vol is; ek vul die detail in.

Koos Human het kort voor sy aftrede in 1994 besluit om Wilma Stockenström en haar man, Ants Kirsipuu, vir ’n afval-ete by Emily’s (Veldsman se restaurant aan die Roodebloemweg in Woodstock) te neem. Daar gekom moes ons verneem dat ’n groep Gautengers die vorige aand vir Emily’s uit hul voorraad afval uit geëet het.

Maar Veldsman had ’n plan. Hy het geweet hoe Koos Human se smaak lê.

Hy het Koos met oesters ingelei; daarna drie soorte tuisgemaakte Boerewors op ’n coulis van songedroogde tamaties, plus ’n fondue van groentes. Wilma en Ants het oor ’n Kingklip Olive Schreiner en Kingklip Cederberg onderskeidelik toegekyk hoe die boerewors met toewyding en diepe respek deur Human benader word.

Terwyl ons asem skep ná die hoofgereg, bring Veldsman ’n bottel waarvan hy die etiket toehou. Ons moet raai wat dit is.

“Marsala,” sê Koos dadelik.

Ants Kirsipuu het ’n lang blik in die oë gekry.

“Ek was in die Tweede Wêreldoorlog in Italië. Ek en ’n klompie ander soldate was besig om te vlug, Noorde toe. Toe kom ons by Sagrado langs die Isonzerivier aan. Die monnike kon vir ons net brood en ’n enemmelbeker vol marsala gee.”

Hy het na die bottel in Veldsman se hand gekyk.

“Dit is ’n Vino Aromatizzato van Monticello d’Ongina af.”

Veldsman het sy hand van die etiket geneem. Hy het die etiket gelees. Ons was tjoepstil.

“Ek sal daardie reuk, daardie smaak nooit vergeet nie,” het Ants gesê. “Marsala wat op eier-dooier tot volheid ontwikkel het.”

Ek weer kan nie vergeet hoe stralend trots Koos na Ants gekyk het nie.

Daar was ander etes ook. Dit grootste kompliment wat jy ’n skrywer kan gee, het hy my voor sy aftrede vertel, is om ’n behoorlike ete saam met hulle te geniet. Elkeen van Koos se tafelgenote sal soortgelyke herinneringe met vreugde oproep.

Kom ons lig ’n glasie uit erkentlikheid teenoor Koos, en sy wonderlike humanisme.

(Aanhalings uit “In Emily’s kom eters en drinkers tot insigte” deur Braam Kleinhans, Die Burger 17 Junie 1994.)

Meer oor:  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.