Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Griessel-dossier vir die fynproewers

Misdaadfiksie

Prooi

Deon Meyer

HUMAN & ROUSSEAU, R320

Was dit te veel gevra?

Destyds op die heuwels, in die valleie en die stofstrate van die townships. Nie ’n versugting na hedonisme nie. Die vryheidstryd moes waardigheid bring. Net dit. Met die daeraad van ’n demokrasie het hoop opgevlam, wat intussen grootliks beskaam het.

Vra vir Thobela Mpayipheli en baie ander wat nou wonder of dit alles die moeite werd was. Vra vir Vaughn Cupido wat langs ’n spoorlyn in die Groot-Karoo staan en wonder oor die toekoms van die polisie toe hy ’n nuwe generasie ondersoekbeampte betrag en takseer.

Van hier af moet kapteins Bennie Griessel en Vaughn Cupido dié tergende vraag probeer beantwoord: Waarom is ’n man in die middel van die Karoo uit die luuksste trein ter wêreld geslinger om na sy dood te val? Die raaisel verdiep toe die man ’n naam kry: die oudpolisieman Johnson Johnson.

Jukstaposisioneel ontvou die verhaal van Daniel Darret wat in die Franse stad Bordeaux só leef om geen aandag op hom te vestig nie. ’n Lewe gegiet in roetine en nederigheid. Sy verhaal staan in die teken van ’n elegie, ’n nuwe variant exile wat sy land van herkoms weer moes verlaat, maar om ander redes as tydens die vryheidstryd.

Want pleks van demokrasie is sy geboorteland vandag in die greep van ’n kleptokrasie wat weer sy landgenote se hoop en drome bedreig. ’n Verlange na die land wat hy lief het, is ’n eksistensiële las op sy skouers waarmee hy elke dag opnuut vrede moet maak. Sy eenvoudige leefwyse is ’n skans teen die moontlikheid dat dit omvergewerp kan word.

Die trajekte van die twee oënskynlik uiteenlopende verhaallyne hou die leser deurgaans aan die raai. Gaan dit kruis en onder watter omstandighede?

Die verskyning van Koors (2016), ’n futuristies eksperimentele werk wat resepmatigheid op sy kop gekeer het, en Die vrou in die blou mantel (2017), ’n Griessel-novelle, kon die honger van die Bennie Griessel-akoliete kwalik stil. Meyer se getroue leserspubliek kon nie langer wag vir ’n vollengte-Griessel-speurverhaal nie. Die goeie nuus is dat Prooi ’n lekker dikke boek is – net oor die 450 bladsye, met Griessel en Cupido getrou op hul pos.

Is al die Griessel-speurverhale nie maar almal dieselfde nie? Die antwoord is ’n klinkklare nee. Deon Meyer neem met Prooi misdaadfiksie, waarskynlik die gewildste genre in die letterkunde, tot ’n nuwe vlak. Dit sluit gemaklik aan by die tradisie van littérature engagée (betrokke letterkunde). Die roman lewer onbeskaamd kommentaar op die politieke omstandighede van ’n kontemporêre Suid-Afrika. Tematies kom die kwessie van swartbewussyn slim en roerend aan die bod. Die anekdote oor die portret van ’n swart man, Christophle le More (circa 1520), in die Rijksmu­seum, simboliseer hierdie bewussyn wat histories ver teruggevind kan word treffend.

Terug by die luuksste trein in die wêreld.

Omtrent net oorsese toeriste reis met Rovos Rail omdat dit nie ’n goedkoop treinrit is nie. Die waarskynlikheid van ’n moord op so ’n eksklusiewe trein is skraal. ’n Gewone misdaad kan dit daarom nie wees nie. Veral as ’n mens die gemiddelde profiel van die gaste op hierdie trein in ag neem. En nee, dis nie ’n geval van Murder on the Orient Express in die Karoo nie. Anders as met ’n Agatha Christie-storie word die misdaadtoneel nie ingeperk deur die trein se kompartemente nie. Dit strek wyer, hoog op in die staatsmasjinerie wat sistemies deur korrupsie verlam word.

Dit is veral inkleding, atmosfeer en karakterisering wat Meyer se verhale van bykans alle ander misdaadfiksie onderskei.

Jy sien en hoor vir Bennie en Vaughn. Bennie wat op die punt staan om die groot stap te neem – hy wil Alexa Barnard uiteindelik om haar hand vra. ’n “Nee” kan sy dag zero beteken.

Deon Meyer is weer meesterlik. Foto: ADRIAN DE KOCK

Selfs newekarakters gryp die verbeelding aan. Neem monsieur Lefèvre, die man vir wie Daniel Darret werk, as voorbeeld. ’n Kamee-karakter wat met soveel deernis geteken word. Jy sien die ou man in sy werkkamer en ruik die hout waarmee hy werk. Voeg hierby toneel en milieu. As leser bevind jy jou saam met die karakters op elke toneel.

Prooi het wat plek, afstand en die omvang van die storie betref ’n reik­wydte wat verras. Van ’n misdaadtoneel in die Karoo tot klandestiene aktiwiteite in Parys, Bordeaux, Amsterdam en Kaapstad.

Soos die gesegde lui – donkerwerk is konkelwerk. Van onbenullige skobbejakke wat mense voorlê om hulle te beroof tot internasionale wapensmokkelaars.

Selfs die hoogste regeringsgesag word betrek in ’n land wat van die kop af onder toe verrot. Van gewone polisievoetwerk tot operasies wat die mees gevorderde tegnologie gebruik. ’n Teiken wat geëlimineer moet word. Jagter en prooi wat kat-en-muis speel. Wie gaan vir wie uitoorlê?

Hierdie speurverhaal omspan feitlik al die aspekte van misdaad-ondersoek, ingegee deur voortreflike navorsing. Insiggewend, boeiend en oortuigend. Die storielyn ontvou nie noodwendig teen ’n frenetiese tempo nie. Dit is eerder ’n wydlopige verhaal waarin die momentum geleidelik opbou tot ’n skouspelagtige ontknoping.

Prooi is ’n monumentale Bennie Griessel-dossier wat die spanningsgenre op briljante wyse vernuwe en verruim.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Francois Bekker is ’n vryskut­resensent van Pretoria.
Meer oor:  Deon Meyer  |  Bennie Griessel  |  Boek  |  Misdaadfiksie  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.