Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Hart-soetra wat leegheid, vorm versoen

Poësie

Op weg na kû

Breyten Breytenbach

HUMAN & ROUSSEAU, R250

Hoe begin ’n mens skryf oor ’n bundel so omvangryk en so diepgrawend soos Breyten Breytenbach se Op weg na kû?

Miskien deur te sê dat dié bundel, gepubliseer in die jaar wat die digter 80 word, ’n verdere bevestiging is van die uitbarsting van digterlike kreatiwiteit in sy werk sedert 2007, met nie minder nie as ses bundels wat in die laaste 12 jaar verskyn het.

Op weg na kû bou voort op die ryk verskeidenheid temas wat kenmerkend is van Breytenbach se oeuvre. In sy geval is daar nie soseer sprake van radikale vormlike en inhoudelike verskuiwings in opeenvolgende bundels nie, maar eerder van ’n steeds grondiger ontginning van dit wat hom reeds sedert sy debuut interesseer.

Vanaf die verskyning van Die beginsel van stof in 2011 word die woordteks in sy bundels ook aangevul met afdrukke van skilderye, tekeninge, foto’s en ander visuele beelde. Sy bundels word dus steeds meer verteenwoordigend van sy verbale én visuele kunstenaarskap, soveel so dat daar al gepraat word van “kunstenaarsboeke” eerder as bundels. In Op weg na kû word dit ook aangevul met ’n versameling notas aan die einde van die bundel sodat ’n mens ook die stem van die essayis en denker in die bundel hoor.

Die bundeltitel is ’n duidelike aanduiding dat hierdie bundel sterk ingebed is in die meditatiewe tradisie van die Boeddhisme. Op die tweede mottoblad verskyn daar ’n aanhaling uit die hart-soetra, ’n versameling spreuke wat daagliks in Zen-kloosters geresiteer word. Dit verskaf ’n duidelike leidraad tot die titel: “die vorm (shiki) is nie verskillend van die leeg (kû) / en léég is nie verskillend van vorm nie / shiki is kû, kû is shiki”.

Die bundel gee dus ’n aanduiding van die digter se tog op pad na begrip van die leegte wat ook vorm is en hoe hierdie tradisie ’n mens help om om te gaan met jou pyn, verlange en vrees. Hierdie aanloop tot die bundel suggereer trouens dat ’n mens Breytenbach se ganse oeuvre sou kon lees as ’n soort inkantasie van die hart-soetra waarin leegheid met vorm versoen word.

Die leser word by herhaling aangespreek en eksplisiet mede-verantwoordelik gemaak vir wat tydens die lees van die bundel gebeur.

Dit is egter nie die enigste invalshoek tot interpretasie wat die bundel bied nie. Die leser word by herhaling aangespreek en eksplisiet mede-verantwoordelik gemaak vir wat tydens die lees van die bundel gebeur. Juis daarom kan die leser ook die inisiatief neem om te besluit waar om die fokus te rig en wattter aksente om te lê tydens die lees.

Een van die roetes wat ’n mens deur die bundel kan volg, is om te fokus op die gedigte wat klem lê op die tegemoet-tree van die dood. Die dood is ’n tematiese gegewe in Breytenbach se werk vanaf sy eerste bundel, maar die belewenis daarvan word steeds meer konkreet in sy latere bundels. Wat ’n mens hier tref, is die intense gevoel van droefheid dat die aarde se sintuiglike heerlikheid hom ontneem sal word wanneer hy sterf. In gedig 4.8 getitel “ekstasie” word daar met weemoed gepraat van die aarde as ’n lieflike “bestaanspsalm” wat die spreker sal moet agterlaat: “kyk hoe wyd val die some / van polsende geluidloosheid,” skryf hy oor ’n somersdag.

’n Ander dwingende gegewe is die digter se bekommernis oor sy “moedertong” Afrikaans. Wanneer jy dit van hom wegneem, skryf hy in gedig 6.9, “neem jy die wêreld weg / verduister jy my geheue”, “ruk jy die hart uit my drome” en “maak jy dat ek ’n weesmens is”.

Dit is veelseggend dat hierdie verknogtheid aan die moedertaal gepaard gaan met ’n uitsonderlike oopgesteldheid vir dit wat ander tale kan bied: daar word verwys na ’n duisternis ander tale, vanaf groot wêreldtale soos Engels en Duits tot ’n klein taal soos Al-Pulaar uit Wes-Afrika. Die koestering van die moedertaal word dus nie gesien as ’n manier om vas te klou aan ’n onveranderlike self nie, maar juis om deur interaksie te verander. Gedig 9.3.2 verwys trouens na ’n proses van “saam-mekaar-anders-maak”.

Die leser kan ook een van die beelde wat herhaaldelik in Breytenbach se oeuvre voorkom, volg om te sien hoe dit nuwe betekenisse kry in dié bundel. Daar is veel om uit te kies: voël, hond, hand, maan, vis, likkewaan, water, klip, wind, vuur, spieël, pampoen. Die voël wat so dikwels in sy oeuvre vlug, vryheid, kreatiwiteit en seksualiteit verteenwoordig, word hier herhaalde male met die vlugtigheid van die lewe verbind. Daaraan herinner die beeld van die dooie voëltjie omraam met stukke teks op die agterplat ’n mens. “Jy wou ween oor hoe selfs die geringste gekom en gegaan het om volledig te vergaan omdat ons enigste bestaan in die verganklikheid is,” lui een van die uitsprake op die agterplat.

Ook die hond word meermale in Breytenbach se oeuvre gebruik as beeld van die self.

Ook die hond word meermale in Breytenbach se oeuvre gebruik as beeld van die self (dink maar aan selfbenamings soos Bittergesig Buiteblaf) en via die klankooreenkoms met die woord “hand” ook gesien as beeld van die digter se kreatiewe vermoë. In gedig 7.10.1 verwys die spreker na sy hond met die naam Zen en herinner hy jong digters daaraan dat hulle moet volhou met hulle werk en hulle nie moet steur aan “die publiek” wat die hond wegjaag met klippe nie.

Ook die maan, so veelseggend in die konteks van die Zen-poësie, bly wentel deur hierdie gedigte, onder meer as ’n fokus vir meditasie en herinnering aan vervlugtiging. Die pampoen wat vanaf die verskyning van die verhaal “die fascistiese pampoen” (waarin ’n man vir hom ’n pampoen koop om te eet op sy verjaardag op 16 September) in 1964 bly terugkeer in Breytenbach se gedigte, word hier verbind met onder andere boet Boeddha, vir wie jy moet doodmaak en opeet soos soetpampoen indien jy hom “teenkom op die weg na Kû” (gedig. 7.7). Dit skakel op sy beurt met die voorbladskildery, wat ’n selfportret is van Breytenbach as ’n Boeddha-figuur, genaamd “Boetatjie van die Kaap”. Dit is maar een van die voorbeelde van die vindingrykheid en speelsheid gepaard met ernstige besinning waarin ’n mens jou kan verheug in dié bundel.

Daar is al meermale gesê dat poësie die ideale teenmiddel is vir die koorsagtige verbruikerskultuur (die bundel verwys ook na “profytisme”) waarin ons vasgevang is. Dit word in oormaat bewys deur hierdie bundel, wat nog een van die merkwaardige boustene in Breytenbach se oeuvre is: Dit is elegies, vreugdevol, kompleks, intens en formidabel. Die aandagtige lees daarvan sal die leser ryklik beloon.

Louise Viljoen is professor in Afrikaans & Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Breyten Breytenbach  |  Resensies  |  Gedigte  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.