Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Hutspot van nuwe leesstof

Die berg nuwe leesgoed op die boeke-redakteur se lessenaar het die afgelope weke nuwe hoogtes bereik. Hier is ’n allegaartjie.

‘Die Afrikaners’ – korter én op die kassie

’n Verkorte en aangevulde weergawe van die internasionaal gerekende historikus Hermann Giliomee se akademiese bakenwerk Die Afrikaners het pas verskyn om saam te val met die eerste episode van die TV-reeks Die Afrikaners in beeld wat van Sondag 8 April (om 20:00) op kykNET uitgesaai word. Giliomee is die aanbieder van dié reeks van 26 episodes wat op die boek gegrond is.

Die nuwe uitgawe bied die kern van Giliomee se omvangryke akademiese topverkoper in leesbare Afrikaans vir ’n moderne leserspubliek. Die joernalis en historikus Leopold Scholtz het in Die Burger oor Giliomee se boek geskryf: “Dit hoort op die rak van elkeen wat wil verstaan hoekom die Afrikaners gedoen het wat hulle gedoen het, en waarom hulle tans in die posisie is waarin hulle is. ’n Mylpaal in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing.”

  • Die boek is deur Tafelberg uitgegee en kos R290.

Raad om verhoudings beter te verstaan

Danksy hul program Wie is ek? is Louis Awerbuck, ’n kliniese sielkundige van Stellenbosch, en sy verloofde, die sanger en TV-aanbieder Lise Swart, geruime tyd al bekend as die radiostasie RSG se verhoudingskenners. Nou verskyn Ek & jy: Verhoudings wat werk, wat bemark word as ’n nugter “moue-oprolboek” wat jou sal help om jouself, jou geliefde(s), familie, kollegas én ander mense om jou beter te verstaan. Dit bevat onder meer praktiese raad om ’n verhoudingsmaat te kies, doeltreffend te kommunikeer oor verwagtinge en voorwaardes, en mekaar só sonder drama, konflik of stilstuipe beter te verstaan.

  • Ek & jy is uitgegee deur Human & Rousseau en kos R280.

Die Pretoriase sielkundige Ronel du Toit noem haar “kophouboek” oor dieselfde onderwerp Verhoudings onder druk: 13 beginsels wat maak dat verhoudings slaag of misluk. Dié gids van 237 bladsye bevat ’n magdom voorbeelde en praktiese riglyne wat beloof om bestaande verhoudings – of dit nou met ’n kollega, ouer, kind, huweliksmaat of vriend is – beter te verstaan en bestuur, verhoudingsproblematiek uit te ken en hanteer, en op ’n voorkomende grondslag geestesgesondheid en geluk te bevorder

  •  Verhoudings onder druk kos R200 en is uitgegee deur Christel Foord (cfoord@yebo.co.za). Bestel dit aanlyn by www.graffitiboeke.co.za.

Dramatekste was nog nooit kontantkoeie nie, en daarom moet iedereen wat lief is vir Afrikaans dankbaar wees vir uitgewers wat nog hul weg oopsien om dié “liefdestaak” te verrig. Tafelberg-uitgewers is verantwoordelik vir die publikasie van Liewer, die jongste toneelstuk uit die pen van Tertius Kapp, wat in 2015 vir sy toneeltekste Rooiland en Oorsee met die Hertzogprys vir drama bekroon is. Die vier karakters in Liewer moet midde-in ’n ironiese sameloop van omstandighede leer presies hoe onpeilbaar die liefde is; die resensent Laetitia Pople het die verhoogproduksie onder regie van Jaco Bouwer beskryf as ’n “emosionele maalkolk van wellus, misbruik en verraad”.

Ook die veelbekroonde dramaturg Nicola Hanekom se “teater-in-die-rondte”-produksie In glas is pas deur Protea Boekhuis uitgegee. Dié stuk het talle vername pryse gewen en handel oor ’n kinderlose egpaar wat in vitro-bevrugting ondergaan, en die uitwerking van hul versugting na ’n kind op hulle as individue, hul huwelik en hul verhoudings met ander.

  • Liewer en In glas kos R180 elk en is by goeie boekwinkels te koop.

Hoë voorkoms van ‘intieme vrouemoord’

Reeva Steenkamp, Jayde Panayiotou, Susan Rohde . . . dié voorbladstories is maar die oortjies van die seekoei, beweer die joernalis Schalk Schoombie in Tot die dood ons skei: Mans wat hul vroue vermoor, ’n ondersoek in 16 hoofstukke na ’n misdaad wat skokkend algemeen geword het: In Suid-Afrika sterf immers drie vroue elke dag aan die hand van ’n jaloerse, depressiewe of beheersiek man – ’n eggenoot, eks, minnaar, selfs ’n huurmoordenaar. Schoombie bespreek die komplekse oorsake van “intieme vrouemoord” en deel verskeie skokkende gevallestudies tesame met kennersraad en selfs ’n lys van hulporganisasies vir geweldenaars en slagoffers.

  • Die boek is deur Human & Rousseau uitgegee en kos R250.

Die Groot Griep ’n eeu later onthou

Baie min is nog in Afrikaans geskryf oor die Spaanse grieppandemie wat ’n eeu gelede – tussen September 1918 en Januarie 1919, lank voordat daar behoorlike mikroskope was – nagenoeg 50 miljoen menselewens oor die wêreld heen geëis het. Sowat ’n halfmiljoen Suid-Afrikaners het omgekom. Vir Swart Oktober van 1918-19: Ons mag nie vergeet nie!, ’n omvattende geskiedkundige studie wat hy self uitgegee het, het Chris Meyer van Mosselbaai verskeie bronne geraadpleeg, vernaam nuus- en doodsberigte in uitgawes van De Kerkbode wat in dié twee jare verskyn het. Interessante leesstof vir geskiedenisslawe en genealoë.

  • Bestel die boek teen R260 (plus R40 posgeld) van die skrywer: Stuur e-pos na chrismeyer6@telkomsa.net of bel 044 698 1154 of 076 427 1500.

Dokter se hoop oor vigs in Afrika

Dr. Daniel Baxter was werksaam by ’n New Yorkse gemeenskapsgesondheidsentrum en het nie ’n benul gehad waarvoor hy hom inlaat toe hy na Bo­tswana gekom het om met sy “Eerstewêreldkennis” met die implementering van Afrika se eerste MIV/vigsprogram te help nie. Baxter se goeie bedoelings en “onbesonne onbaatsugtigheid” is gou deur die harde werklikheid en onmeetlike nood verswelg, maar One Life at a Time is uiteindelik ’n storie van hoop te midde van die hartverskeurende verhale van mense wat met MIV/vigs lééf.

  • Die boek is uitgegee deur Picador Africa en kos R275.
Meer oor:  Nuut Op Die Rak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.