Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Hutspot van nuwe niefiksie

Die skrale sypeltjie nuwe niefiksieboeke van die afgelope maand of drie het plotseling ’n sleurstroom geword...

J.M. Coetzee: Photographs from Boyhood – ’n versameling foto’s wat dié Nobel- en Bookerpryswenner in sy eerste twee hoërskooljare geneem het en wat in 2014 in die solder van sy laaste huis in Kaapstad ontdek is – verskyn op sy 80ste verjaardag. Deur Coetzee se eie lens kry die leser insig in sy kinderjare en belangstellings – van sy vriende, onderwysers en krieketwedstryde tot sy ma, Vera, en die familieplaas in die Karoo. Ook die maatskaplike werklikhede van die 1950’s wys vlietend gesig. Die boek, wat saamgestel is met die hulp van Hermann Wittenberg, bevat ook ’n eksklusiewe onderhoud met Coetzee oor sy kinderjare en foto-eksperimente.

Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R350.

Die sesde boek in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Hertzogpryswenner-reeks, Reza de Wet: Die dramaturg as dromer’n huldiging onder redaksie van Temple Hauptfleisch en Marisa Keuris – bestaan uit twee dele.

Die eerste deel bestaan uit persoonlike herinneringe deur onder andere Marietjie Coetzee, haar Afrikaanse uitgewer, en die regisseur Marthinus Basson, terwyl die tweede deel altesame sewe nuwe akademiese artikels bevat oor een van Suid-Afrika se belangrikste en eiesoortigste dramaturge van die 21ste eeu.

Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R200.

Die skrywer en joernalis Brent Meersman se memoires A Childhood Made Up: Living with My Mother’s Madness word beskryf as ’n “delikate dog brutaal eerlike blik” op sy eksentrieke grootwordjare in die 1970’s en ’80’s in Milnerton in die Kaap.

Sy ma, ’n kunstenaar, was ’n skisofreen en sy dikwels werklose pa ’n alkoholis. En glo dit of nie, maar tussendeur al die trauma bly die humor nooit agterweë nie.

Uitgewer: Tafelberg. Prys: R280.

Wat dryf ’n skynbaar normale kind uit ’n “goeie” huis om moord te pleeg? Henri van Breda, Xander Bylsma en Marcel Steyn is maar ’n paar van die menigte berugte moordenaars wat ter sprake kom in André le Roux se Kinders wat moor: Wie se skuld is dit? Hy kyk na die kínd agter die opspraakwekkende moorde en soek na ’n antwoord aan die hand van gevallestudies en die jongste navorsing. Wat gaan aan in ’n kind se kop van geboorte tot adolessensie? Wat is die rol van gene, ouers, sosiale media, die internet, videogeweld, boelies, portuurdruk, stres en dagga? Hoe maak ’n mens ’n suksesvolle kind groot wat nie die spoor byster raak of moor nie?

Uitgewer: Tafelberg. Prys: R265.

Diverse Suid-Afrikaanse kwessies kom onder die vergrootglas in die versameling meningsartikels deur Michael le Cordeur wat byeengebring is in Halala Suid-Afrika: 25 jaar se groeipyne van ’n jong demokrasie. Die rubrieke, wat onder meer in Rapport, Die Burger en op LitNet verskyn het, word gerangskik om die onderwerpe onderwys, Afrikaans, sosiale geregtigheid, werkskepping, kultuur, Adam Small en die jeug. Ook ingesluit is ’n klompie huldeblyke en resensies.

Uitgewer: Naledi. Prys: R240.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.