Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Insny op alles van hierdie verwonde land

Fiksie

Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Etienne van Heerden

TAFELBERG, R360

In die laat 1960’s verklaar die Franse filosowe Foucault en Derrida die skrywer “dood” en eis ’n lees van tekste sonder verwysing na die lewens van hul skrywers.

Dit word ’n geloofsartikel van die postmodernisme, wat die Afrikaanse wêreld teen die laat 1980’s tref. Etienne van Heerden was een van die eerste Afrikaanse romansiers en letterkundiges om dit aan te gryp.

Hy ontgin die postmodernisme skitterend in sy vroeë romans, en voer dit tot ’n hoogtepunt met Die swye van Mario Salviati (2000). Deur postmoderne ironie toe te pas op die politiek en die geskiedenis van die land, apartheid en die Afrikaners, slag hy heilige koeie en roep sy lesers tot ’n morele bewussyn op.

Dan, helaas, doen hy vanaf In stede van die liefde (2005) ’n postmoderne kwaal op – as alles bloot teks en spel is, bly slegs stories oor, neem ons afskeid van die werklikheid (en die politiek), en wink ’n dekadente privaat wêreld. Sy stilistiese voorliefde vir oordaad, wat in sy vroeë romans as baldadige rebellie deurgegaan het, verword in hierdie latere romans tot moeilik verteerbare oorbeklemtoning en selfs dekadensie.

Dog, in 2015-’16, tref eers #RhodesMustFall en toe #FeesMustFall die Universiteit van Kaapstad (UK). In dié stadium beklee Van Heerden haas 20 jaar die UK se Hofmeyr-leerstoel in Afrikaans, wat skielik so goed was as om die laaste springbok in ’n nuwe jagseisoen te wees.

Uit dié en ander ervaringe, vermeld in die “Erkennings” in Die biblioteek aan die einde van die wêreld, word dié kragtoer van ’n roman gebore, wat onder meer die verskille in die post-apartheidbelewenisse van noordelike en suidelike Afrikaners hanteer. As suidelike Afrikaner getuig Van Heerden hier van wat noordelike Afrikaners al kort ná apartheid ontdek het — ’n onverwerkte verlede en variasies van vervreemding maak korte mette met postmoderne speletjies en liberale neutraliteit.

Ondanks die 634 bladsye van die roman, is hier geen vet en bitter min van die sentimentaliteit wat Van Heerden se laaste vier romans vir my moeilik verteerbaar gemaak het.

So gesien, sluit Van Heerden met dié roman eerder aan by die romanteorie van René Girard, wat Foucault en Derrida ver oortref. Pleks van om die skrywer dood te verklaar, betoog Girard reeds in 1961 dat die gróót moderne romans geskryf is deur skrywers wat sélf deur ’n ingrypende ommekeer is. Dít stel hulle in staat om romans te skryf waarin die hoofkarakters se ingrypende ommekeer lesers aangryp en verhef, soos ook hier gebeur.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld, wat afspeel teen die agtergrond van bogemelde gebeure by die UK en daarna, reken meedoënloos af met die postmodernisme, liberalisme en hul nakomeling, “dekoloniale” identiteitsteorie. Postmodernisme word ontmasker as die voorloper van fopnuus, asook van die historiese onverskilligheid en die slagofferkultus van die Valliste. Liberalisme word ontmasker vir die vyeblaar van Engelse privaat belange wat dit merendeels in Suid-Afrika was.

Wat bly oor?

Van Heerden antwoord deur in te boor op hoof- en belangrike newekarakters. Prokureur Ian Brand, eertydse Afrikaner-leftie, rebel teen apartheid en veteraan van die Grensoorlog, herontdek sy Afrikaner-identiteit en Afrikaans as sy band met die land, dog met ál die gepaardgaande historiese skuld, hardegatgeit, ironie en weemoed.

Thuli Khumalo, Valliste-leier en enigste kind van twee struggle-veterane en ANC-swaargewigte, wat weens haar Londense jeug desperaat is om net iewers in te pas, moet China toe om te besef hoe onlosmaaklik sy aan hierdie land en selfs aan die deur haar gehate Ian verbind is.

Jerome Maarman, wat saam met Ian en Thuli vertaalkunde aan die UK studeer, probeer ewe hard by die Valliste inpas weens sy onverwerkte woede oor hoe die nuwe bedeling nie sy en sy familie se lot verbeter het nie, maar ook hy moet uiteindelik verwese ontdek dat ons niemand anders as mekaar in hierdie land het nie.

Onder die newekarakters is die plastiese snydokter, Piekenier Leqluerck, besonder interessant – nie net in soverre hy die siel van sy Afrikaner-identiteit lankal aan die duiwels van die staat en groot geld verkoop het nie, maar veral omdat hy die versinnebeelding is van die hipermoderne droom van ’n wêreld waarin álles plasties, vormbaar en beheerbaar is, oftewel die uiteinde van die postmodernisme.

Ons het hier eerder te doen met die literêre ekwivalent van die topfikse, lenige Bruce Springsteen.

Ondanks die 634 bladsye van die roman, is hier geen vet en bitter min van die sentimentaliteit wat Van Heerden se laaste vier romans vir my moeilik verteerbaar gemaak het. Ons het hier eerder te doen met die literêre ekwivalent van die topfikse, lenige Bruce Springsteen, wie se Johannesburgse konsert in 2014 net onder vier ure gedraai en jou enduit vurig gerock het.

In Die biblioteek, oorheers deur ’n apokaliptiese stemming – “die einde van die wêreld” – sny Van Heerden in op álles wat hierdie geskende, verwonde land vandag onderskei; en op hoe dit saamhang met die sinistere nuwe wêreld van “sigbewaking” (surveillance). In ’n wêreld waarin van alle mense studénte biblioteke wil afbrand, word ons almal bedreig deur ’n nuwe soort biblioteek waarin elke krieseltjie inligting oor ons elkeen versamel en gebruik word om ons te manipuleer.

Sommige mense reageer hierop deur te probeer onttrek, en Ian Brand flankeer self tydelik hiermee deur op radikale wyse ’n ander identiteit aan te neem en hom in sy ideale Biblioteek aan die Einde van die Grondpad terug te trek.

Dog, as eietydse Bart Nel, besef hy die beperkinge hiervan en sluit hy hom aan by die nuwe, multinasionale guerrillabeweging teen sigbewaking en die nagmerriebiblioteek waar onsigbaarheid en privaatheid taboe is.

Van Heerden het die roman van sy lewe geskryf. As jy hierdie land en die nuwe wêreld met al haar bedreigings en moontlikhede wil verstaan, is dit dié boek om te lees.

Johann Rossouw is ’n romansier en professor in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.