Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Kaleidoskoop van aspekte van menswees

Fiksie

Die vyfde slag

Johann Grobbelaar

LAPA, R280

In ’n konteks waar erge (seksuele) geweld teen vroue ’n perverse nasionale sportsoort is en die skreiende miskenning van vroueregte kop uitsteek, is dit ook ’n berekende risiko vir ’n wit manskrywer om te debuteer met ’n omstrede roman.

Ander plaaslike letterkundige bakens wat seksuele geweld oopskryf – Anchien Troskie as Elbie Lotter se Dis ek, Anna, in Afrikaans, J.M. Coetzee se Disgrace in Engels, byvoorbeeld – staan paraat in jou agterkop met die lees van Die vyfde slag.

Die skrywer, Grobbelaar, ’n afgetrede prokureur wat ook as advokaat gepraktiseer het, se liefde vir die regte en klassieke musiek word in Die vyfde slag belig.

Die voorplat bied teen ’n ongebleikte wit agtergrond, ’n soort blank canvas, ’n afbeelding van die geblinddoekte Lady Justice (Justitia in Latyn) van net bo die skouer.

Die roman se titel word in ’n statige, stewige donkerblou bo-oor die gesig geplaas – met ’n tikkie verbeelding kan jy elkeen van die titel se drie woorde as eie “slag” hoor lewe kry – met die skrywer se naam onderaan geplaas. Die wit agtergrond, diepe “grys” van die bronsbeeld en die titel se dominante, groot letters roep assosiasies van ’n donkerte en geweld wat dreig om die skone te verswelg.

Musikaliteit, ritme, orde, totale oorgawe, skoonheid en die sublieme wat nagejaag word, gaan gepaard met die “geblinddoekte” leeservaring. Mettertyd word die sluier gelig.

Ek haal die volledige flapteks aan om in direkte gesprek daarmee te tree:

“Wanneer Helen Brodie die prokureur Karl Louw nader om haar in ’n regsgeding by te staan, word gebeure in werking gestel wat hulle en hul geliefdes onherroeplik plaas op ’n pad na selfontdekking, heling en troos. Die vyfde slag bied ’n ongenaakbare blik op die patriargie en die skade wat mense mekaar aanrig. Net soos die vyf tromslae waarmee Beethoven se bekende vioolkonsert open, sowel ’n einde as ’n begin is, is hierdie roman ’n soeke na die sublieme in ons menswees. Die verskrikking ten spyt. Want hoe vergewe ’n mens wanneer vergifnis nie gevra word nie?”

Die skrywer skep ’n roman wat tussen die hede en verskeie karakters se traumatiese verlede beweeg om soos ’n kaleidoskoop verskillende aspekte van menswees te verhelder.

Die skrywer skep ’n roman wat tussen die hede en verskeie karakters se traumatiese verlede beweeg om soos ’n kaleidoskoop verskillende aspekte van menswees te verhelder. Sowel Helen as Karl is sterk hoofkarakters, goed ontwikkel uit eie reg en elk met baie “werk” om in die roman se narratiewe ratwerk te verrig.

So skryf Louise du Toit in haar A Philosophical Investigation of Rape: The Making and Unmaking of the Feminine Self: [ . . .] “but my concern is with those instances of forgiveness where the crime or da­mage to be addressed through forgiveness is inherently, essentially and persistently disputed in a clash between symbolic systems, world views, and ‘truths’, as is often the case in rape or child sexual abuse. What makes forgiveness very problematic or virtually impossible in these cases, is that the clashing symbolic systems or ‘truths’ are of such unequal ontological weight or calibre, that the victim has the greatest struggle just to convince herself (most important) then her intimates and others, let alone the ‘public’, that there is something to forgive [ . . .]”

Dit is presies wat Die vyfde slag ondersoek. Benewens verkragting, die vroueself en subjektiwiteit wat oneindig geskaad word, kaats Grobbelaar ’n blik op begeerte, hoe dit gekultiveer en kanaliseer word. Owerspel en die wetenskap van die orgasme word ondersoek. Grobbelaar ondersoek die verhouding tussen gemeenskap en individu, en die stories wat individue vir hulself oor hulself en oor ander skep. Verontmenslikende geweld, in woord en daad.

Aldus Naomi Wolf kan die slagoffer van verkragting nooit weer volkome dieselfde persoon wees nie; die handeling van verkragting is veel meer as net ’n fisieke daad. In teenstelling met die verkragtingsdaad is daar sublimiteit, ’n soort spirituele dimensie wat alles herenig, wat oor kennis (ook selfkennis) en bemeestering gaan.

Hoewel die titel teoreties sin maak en daar tot oorlopens vol na die vyfde slag verwys word, voel dit of die beheptheid om te verduidelik en te intellektualiseer uiteindelik die ganse fiktiewe onderneming kniehalter.

Dit is nie te betwyfel dat Die vyfde slag verskillende generasies se trauma eerbaar ondersoek en dat die pad na selfontdekking, heling en troos oopgeskryf word nie. Daar is egter ’n regsgeding oor sagteware in die groter prentjie ingesluit wat hoegenaamd nie boei of die gemiddelde leser sal interesseer nie.

So ook ’n verhaallyn wat illustreer hoe slu en skelm mans kan wees.

Die konteks van die regte en die hof en die verstaanbare versugting om sodoende dinge so juis en feitelik korrek uit te stippel, is een ding, toegegee, maar dis hier waar my grootste beswaar uiteindelik sit: ’n roman, as ’n teks, kan indien reg benader steeds ’n filosofiese onderbou met die nodige narratiewe stukrag en momentum balanseer.

Intellektuele stimulasie en insigte hoef nie die dryfkrag van die storie self, en die leser se belangstelling en belegging in die lot van die karakters, te oordonder nie.

Intellektuele stimulasie en insigte hoef nie die dryfkrag van die storie self, en die leser se belangstelling en belegging in die lot van die karakters, te oordonder nie.

Dat daar etlike voorbeelde is van karakters wat feitlik woord vir woord uiting gee aan ’n verskeidenheid aanhalings wat in die erkennings verskaf word, is vir hierdie leser ’n tameletjie. Wanneer ’n karakter bloot as ’n spreekbuis vir die skrywer se eie idees, of selfs dié van ander denkers. gesien kan word, is die gort gaar.

Die vyfde slag het ongetwyfeld die nodige opregtheid. ’n Mens is dit eens met die geregverdigde woede wat ’n karakter soos Karl Louw voel. Dit is in die finale derde dat dit voel of die karakters veel meer ruimte het om asem te haal; wanneer ’n aandoenlike, roerende, oorwoë vertelling uiteindelik uit die verf kom. Dit bly egter ’n fundamentele tekortkoming in die mondering van ’n netjies versorgde, soms diep onderhoudende roman wanneer daar heeltemal te min aan die verbeelding oorgelaat word; ’n vertrouensbreuk in die skrywer-leser-verhouding waarvan ’n roman moeilik herstel.

“In my end is my beginning.” So verklaar T.S. Eliot. Met die sirkelgang wat Die vyfde slag uiteindelik bewerkstellig, wens ek tog so dat die skrywer meer gewys en veel minder vertel het.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en -resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.