Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Knap en relevante gekonkel

Bo en behalwe onneersitbare intrige is die vyfde riller in Peet Venter se Thys Krige-reeks ook ontstellend relevant, skryf Deborah Steinmair.

Brand deur Peet Venter. Uitgewer: Lapa. Prys: R270.

Die voormalige speurkaptein Thys Krige is nie die stereotipiese suiplap-speurder met huweliksprobleme nie, maar ’n enigmatiese alleenloper wat ryk geërf het, ontgogel is deur die polisiediens en vir ’n geheime eenheid werk.

Hy loop met spyt rond, maar dis te laat vir omdraai: Hy maak mense dood en gevolglik is daar heelparty wat hóm wil seermaak. Hy het ’n komplekse verhouding met drie vroue: sy halfsuster wat hy eers onlangs ontmoet het, ’n IT-spesialis met ’n gestremdheid, en ’n gebroke genie.

Hierdie vyfde roman in Venter se Thys Krige-reeks is amper onheilspellend relevant: In ons huidige situasie lees niefiksie soos The President’s Keepers soos misdaadrillers terwyl misdaadrillers soos Brand eerder feitelik op die oor val.

Ons is almal behep met staatskaping en hier pryk ook ’n rampokkerpresident en amptenare wat soos dikgesuipte bosluise deurtrek is van korrupsie en gierigheid, maar Venter het dit oor iets selfs meer sinister: sogenaamde “sagte kolonisering” – buitelandse moondhede (in hierdie geval China) wat imperialisties uitbrei deur Derdewêreldlande se ekonomieë oor te neem.

Die doelbewuste opstook van skares herinner ongemaklik aan pres. Jacob Zuma se roekelose belofte van gratis tersiêre onderrig, wat volgens sekere kenners daarop gemik is om onrus en onregeerbaarheid te skep sodat ’n noodtoestand afgekondig kan word en hy ’n stewiger greep op die polisie en weermag kan kry. (Hierdie aankondiging het gekom nadat Venter se boek al op die rakke was. Skrywers is immer ontleders en profete.) Wetenskaplikes woeker in hierdie roman met metodes om betogende skares sodanig aggressief te maak dat hulle mekaar begin uitroei.

Skrywers is immer ontleders en profete.

Die roman spog met verskeie sterk vrouekarakters, veral die gefolterde rooikop Delaré Brand – ’n mens wonder of die titel ewe veel ’n verwysing na haar van is as na ’n land waar mense dinge afbrand wanneer hulle kwaad is. Delaré is ’n gebroke mens wie se tweelingbroer op die Roodeplaatdam deur ’n motorbootskroef opgekerf word – dít nadat sy hom oortuig het dat hulle dié dag binnebande eerder as kajakke neem. Haar veld is toegepaste wiskunde, sy vroetel in die donker web rond en glo sy kan met die toepassing van psigowiskunde bewys mense kan daarmee kommunikeer – dat kunsmatige intelligensie ’n bewussyn ontwikkel en rekenaars uiteindelik in staat sal wees om self kennis uit die donker bewussyn te versamel.

Delaré glo verder daar is ’n verband tussen haar en Krige, dat hy, ondanks die prys op sy kop, nog leef omdat sy die bootongeluk oorleef het. Omdat haar akademiese loopbaan ontspoor het, doen sy nou vryskutwerk: Sy spoor mense in die donker web op. Sy werk vir Jack Skinner, ook ’n werkgewer van Krige. Skinner is by gevaarlike mense betrokke en hy is besig om die kluts kwyt te raak; hy raak onvoorspelbaar en emosioneel afwesig. Delaré skaats op dun ys wanneer sy die omvang van Skinner se opdrag oorspeel: Sy begin Chinese wat met ’n sekere Jade Star Chemicals te doen het, agtervolg, selfs tot midde-in bloedige, brandende betogings.

Dan is daar nog die raaiselagtige menere White en Bruyns van staatsveiligheid. Wat is hul agenda? En die gewelddadige Sibaya. Selfs die adjunkdirekteur van die CIA betree die speelveld. Dis ’n moorddadige, gierige gekonkel. Meer wil ’n mens nie verklap nie.

Die boek lees soos ’n brand wat gestig is. Te midde van politieke en ekonomiese intriges is daar ook heelwat verlies, skuld, hunkering en persoonlike bagasie wat saamgesleep word, en selfs ’n liefdesvierhoek. Alles stuur op bloedige vernietiging af en die leser is ’n hulpelose toeskouer, presies soos met die situasie in ons land.

Die verskil tussen misdaadfiksie en die nare werklikheid is dat daar in fiksie wel ’n ontknoping en voltrekking is. Uit die pen van ’n meesterverteller soos Venter vloei daar egter nie netjiese en klinkklare oplossings nie – gesofistikeerde misdaadfiksie is soos die lewe: ambivalent, gekompromitteer en met ’n dralende mineurtoon.

Dis ’n besonder knap riller wat die werklikheid, die kwantum, die psigiese en die hart betrek – en onneersitbare intrige bied.

  • Deborah Steinmair is ’n skrywer en taalpraktisyn.
Meer oor:  Brand  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.