Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Komplot uit die bloedjong republiek

Fiksie

’n Redelike hoeveelheid moeilikheid

André Krüger

WENKBROU, R285

Meestal breek ’n spanningsroman hard soos ’n niekerbol tussen jou kake, maar hierdie derde roman van André Krüger smelt eerder soos ’n sjokoladeblokkie in jou mond; iets wat nogal ongewoon is vir spanningsfiksie.

Reeds met sy bekroonde debuutroman Die twee lewens van Dieter Ondracek in 2012 (Human & Rousseau) het André Krüger hom aangemeld as ’n skrywer van spanningsverhale wat nie die gebruiklike, resepmatige patroon volg wat normaalweg met hierdie genre geassosieer word nie.

Ook Komplot (2015, Human & Rousseau) is soos Krüger se debuut gesitueer as historiese fiksie teen die agtergrond van internasionale spioenasie en politieke intrige en met ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid, wat pas by Wenkbrou verskyn het, bou hy voort op dié nou reeds bekende prosodie.

Die tydsmilieu is die 1960’s en die bloedjonge Suid-Afrikaanse republiek sukkel om sy voet in die deur van staatsinligting en -teeninligting gevestig te kry. Uitgelewer aan die inligtingsnetwerke van groter moondhede word haar Departement Staatsveiligheid betrek by ’n komplot om bepaalde sleuteldokumente aan boord van die gekaapte Portugese passasierskip Santa Maria te bekom. Die aangewese persoon is majoor Robert Ferreira, ’n Portugeessprekende offisier wat ná militêre diens in drie oorloë en ’n loopbaan in die Suid-Afrikaanse Veiligheidspolisie ’n ontnugterde, dog hoogs manipuleerbare persoon is.

Onder dwang aanvaar hy die opdrag om in meewerking met ander moondhede se sekerheidsagentskappe en ’n Portugese taakspan dié dokumente wat van kritieke belang vir Suid-Afrika se kernkragontwikkelingsprogram is, te herwin; in hoofsaak om homself vry te koop van die doodloopstraat waarin hy hom bevind, maak hy hom wys. Want dit het tyd geword om sy uniform uit te trek en volgens eie reëls te leef.

Hiermee word ’n reeks gebeure egter ontketen wat majoor Robert Ferreira in diens van ander sinistere en onbekende magte vir die volgende sewe jaar sal neem na eksotiese bestemmings soos o.a. Lissabon, Ciprus en Beiroet. Algaande besef hy dat mense se idees van reg en verkeerd gruwelik gemanipuleer word deur diegene in magsbeheer, en staan hy daarom in siniese vertwyfeling tussen eie demone wat besig is om sy inherente idealisme en lojaliteit jeens dit wat as van volksbelang geag word, te ondergrawe.

Die skrywer se hantering van die verteltempo is nie net funksioneel nie, maar indrukwekkend: By tye versnel die tempo treffend, spanning en aksie ter wille, en dan verstadig dit weer ten gunste van ruimtelike inkleding en/of introspeksie. Boonop word die teks in ooreenstemming gebring met ’n verstelstyl wat as noir beskryf kan word; ’n skaduryke narratief vol sinisme, fatalisme en teenstrydige moraliteit.

Voeg daarby die hoofpersonasie se obsessie met Humphrey Bogart (die titel is byvoorbeeld ontleen aan een van Bogart se films) en Raka, NP van Wyk Louw se bekende epiese gedig wat in 1941 verskyn het, en die leser besef dat ons inderdaad hier met ’n meerkantige verhaal te make het. Veral is dit die hoofpersonasie se stryd met godsdiens (hy is Rooms-Katoliek, synde Portugeessprekend, binne ’n konserwatiewe, Gereformeerde samelewing) en sy worsteling met beide die Raka- en Koki-elemente in sy persoonlikheid, wat die morele ambivalensie in die verhaal na vore bring.

As leser was dit dan veral die stadiger, meer beskrywende passasies wat ek as besonder bevredigend, en ongewoon, ervaar het. By tye het dit gevoel asof die storie met sy gepaardgaande spanningslyn eintlik sekondêr staan teenoor ’n spesifieke moment, soos dit vasgevang word in ’n beskrywende waarneming of gedagtegang. Die wins is lieflike passasies soos:

“ ’n Mishoring kla van die oseaan se kant af. Die geluid is soos van ’n groot seedier, die laaste van sy soort, op soek na ’n verlore maat. Hy skud die dou van sy keps af en vee oor sy reënjas se moue. Alles is druipnat, die lug self, en ’n onaangename reuk draal, iets soos verderwing en bederf.” (bl. 154)

’n Verdere voordeel wat hierdie stadige, introspektiewe vertelstyl bied, is dat die leser ten volle betrokke raak by die onwillige en ietwat versukkelde majoor Ferreira wat te midde van politieke intrige en magsbeheptheid sy bes probeer om sy weg deur die doolhof van intrige te vind. En wanneer die einde van die verhaal bereik word, en die boek toegemaak word, is dit soos om afskeid te neem van ’n goeie vriend.

Inderdaad het André Krüger hom binne die bestek van drie prosawerke gevestig as een van ons vernaamste skrywers van spanningsromans. Boonop weet hy hoe om ’n storie met sjarme en panache te vertel, soos ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid van getuig.

Die leser kan met reg uitsien na die volgende werke uit hierdie skrywer se pen.

Louis Esterhuizen is ’n vryskut-tekspraktisyn van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.