Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kortverhaal-skrywer wen met ’n roman

Daar was ietwat van ’n beroering in die boekwêreld toe dit in 2015 bekend word dat die kortverhaalskrywer George Saunders ’n roman gaan publiseer.

Niks daarvan geweet nie? Nooit van hom gehoor totdat hy verlede week die Man Booker-prys verower het nie? Jy is nie alleen nie. Hier te lande was Saunders voorheen slegs bekend onder ’n klein groepie hardgebakte aanhangers van spekulatiewe fiksie.

Hy is ’n postmodernis wat skryf oor die verbruikerskultuur, die absurditeit van korporatiewe strukture, die massa-media.

Dit sê iets oor die genre-hiërargie in die letterkunde dat Saunders nie internasionaal reeds méér bekend was voor sy Booker-prys nie – hy is immers ’n bekroonde skrywer, wenner van ’n MacArthur Fellowship, die PEN/Malamud-toekenning, die Story-prys, die Folio-prys, die World Fantasy Award for Best Short Story en vier keer van die National Magazine Award for Fiction.

Maar hy is ’n kortverhaalskrywer en daarom tot dusver aansienlik minder beroemd as sy roman-skrywende tydgenote.

Saunders is in Texas gebore en het in Chicago grootgeword. Hy is opgelei as geofisiese ingenieur, en het ná sy wetenskaplike opleiding ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Syracuse-Universiteit in New York ontvang.

Hy het sy loopbaan begin as tegniese skrywer en ingenieur vir ’n omgewingsingenieurswesemaatskappy, terwyl hy stories geskryf het vir tydskrifte soos The New Yorker, Harper’s, McSweeney’s en GQ. In 1997 het hy kreatiewe skryfkuns aan sy alma mater begin doseer.

Saunders se eerste kortverhaalbundel, CivilWarLand in Bad Decline, het in 1996 verskyn. The New York Times het dit “quirky” en “accomplished” genoem – maar soos die meeste kortverhaalbundels, is dit eintlik maar stil-stil ontvang. Dieselfde kan gesê word van Pastoralia wat in 2000 gepubliseer is – die resensies was oorwegend positief, maar die verkope so-so. Blykbaar het hierdie onderreaksie Saunders net aangespoor om harder te probeer en beter stories te skryf. In Persuasion Nation (2006) was in 2007 ’n finalis vir die Story-prys.

Die kortverhale in al hierdie bundels het Saunders se styl en tematiek vasgelê. Hy is ’n postmodernis wat skryf oor die verbruikerskultuur, die absurditeit van korporatiewe strukture, die massa-media. Sy werk word dikwels vergelyk met dié van Kurt Vonnegut en Donald Barthelme, en hy lys onder sy invloede en inspirasie skrywers en kunstenaars in die absurde komiese tradisie, van Mark Twain tot Groucho Marx en Monty Python. Hy is egter ook ’n aanhanger van Amerikaanse minimalisme: Hemingway, Carver en Wolff, onder andere.

Die landskappe waarin Saunders-karakters hulself bevind is gewoonlik skraal en onherbergsaam, die toekoms wat hy hom verbeel (selfs al is dit op die oppervlak hoe vergesog) altyd stewig gegrond in ons huidige realiteit.

Die stories is dikwels satiries, in baie gevalle nogal prettig en humoristies en soms heel surrealisties.

Hy takel die politiek, ekonomie en ideologie, en daarom is daar ook tekens van droewigheid en wroeging – maar hy is onder sy lesers bekend as ’n skrywer met deernis en warmte teenoor sy karakters, ruimhartig en teer.

Die stories is dikwels satiries, in baie gevalle nogal prettig en humoristies en soms heel surrealisties.

Die verskyning van Tenth of December in 2013 het Saunders se loopbaan ’n aansienlike hupstoot gegee, en hom in ’n bietjie van ’n literêre celeb verander.

The New York Times Magazine het Tenth of December in ’n voorbladstorie beskryf as “ . . . die beste boek wat jy vanjaar sal lees” en Time het Saunders in 2013 as een van sy 100 invloedrykste mense aangewys.

Blykbaar het die lof en eerbetoon wat die boek ontvang het, Saunders aangemoedig om dapperder en meer onverskrokke te wees, en uiteindelik, nadat hy 20 jaar lank met die sentrale beeld in sy kop rondgeloop het, het hy die moed gehad om die roman wat uiteindelik Lincoln in the Bardo sou word, aan te pak. Hy skryf vroeër vanjaar in ’n essay in The Guardian dat hy nie daardie ou wou word wie se grafsteen sou sê “Afraid to Embark on Scary Artistic Project He Desperately ­Longed to Attempt” nie, en het nadat hy Tenth of December voltooi het, versigtig aan Lincoln begin skryf.

Ek het self eers van Saunders gehoor toe die gegons oor Lincoln in the Bardo vroeër vanjaar selfs in Suid-Afrika hoorbaar geraak het, en besluit om sy kortverhale te lees voordat ek die roman aanpak.

Hoewel niks jou kan voorberei op die formalistiese waaghalsigheid van Lincoln nie, het sy meesterlike kortkuns my reeds vóór die Booker-oorwinning in ’n
Saunders-bekeerling verander.

* Koop Lincoln in the Bardo hier by takealot.

  • Bibi Slippers is ’n digter en inhoudsregisseur van Flits op kyk-NET.
Meer oor:  Bibi Slippers  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.