Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Kosbare versameling

’n Bek vol Strandveld

Piet van As

STRANDVELD BOEKE, R250

Fiksie

Op die voorblad van hierdie boek is ’n belangrike foto. Dit is ’n inleiding tot ’n sagter wêreld uit diederdae, voor die koms van kil kitsnuus en sosiale media se skynsamesyn.

Visueel skep dit ’n atmosfeer deurdrenk van ’n mineurtoonsoort wat soos ’n seebries regdeur elke blad weerklink en wapper. Dié foto is ’n sielvolle wit-swart een van ’n jong man. Op die agtergrond staan ’n Peugeot 404, wat die tydsgees vasvang.

Hy sit ingedagte, teug aan ’n koppie, sigaret in die linkerhand. Daar is ’n braairooster met ’n rokie wat trek. Dit is die skrywer Piet van As, kaal voete en bolyf, ’n bos swart hare, onpretensieus.

Hy nooi jou om langs hom te kom plek inneem. Die stem van die storieverteller is nou reg langs jou.

Die klankbaan vir dié foto kan maklik Johannes Kerkorrel se lied “Somer” wees, wat só begin: “Hier kom die somer, die son/Hier kom die somer, die son/ Dae is soos heuning/Warm en lou.”

Hierdie boek van 176 bladsye, met vele knap en vermaaklike illustrasies deur die skrywer self, is ’n kosbare versameling kultuurhistoriese streekgeskiedenisse oorvertel deur die legendariese Strandveld-kenner ook bekend as Piet Prentjies.

Tussendeur die braaivleisstories, briewe, essays en oorvertellings wat soos kortverhale lees, is daar gedigte. Die titels van die verskillende genres gee ’n mens ’n idee wat om te verwag.

Verder het Van As vertelstrategieë wat verfrissend anders is as outeurs wat soms eenders klink omdat hulle dieselfde vitterige en pedantiese stylboek gelees het. Sy eiesoortige taalbewussyn is vars, fors en ’n kleurvolle bydrae tot Afrikaans.

Hy gebruik ook heerlike kontreiwoorde soos poelakke en nadroe. Gaan soek self op. Agter in die boek is ’n woordelys asook ’n interessante gids van skeepswrakke.

Van As se stories het Dalene Matthee geïnspireer om Die uitgespoeldes te skryf. 30 jaar terug het sy hom in ’n brief gevra om sy verhale neer te pen.

Dit is passend om met haar woorde af te sluit: “Nietemin, ’n Piet van As-brief is altyd soos ’n vlagie reën wat onverwags kom uitsak en ’n oomblik se lafenis bring. Dankie vir die skryf. As jy wel op ’n dag besluit om die Strandveld se dinge neer te skryf, het ek kwaai kompetisie, dit verseker ek jou, al weet ek jy gaan my nie glo nie.

“Vaal taalgebruik, sê jy? Dit woel van die kleur, mens, en ons het dit nodig. Graaf uit daardie gebeentes, ons sal jou in die tronk besoek, ons sal keer dat die hoge tante jou nie bykom nie, ons sal saam met die Strandveld juig.”

  • Herman Lategan is ’n vryskutjoernalis en rubriekskrywer van Groenpunt, Kaapstad.
Meer oor:  Boekresensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.