Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Kyk na die man agter die masker

Die waarde van die derde, bygewerkte uitgawe van Anthony Butler se biografie van pres. Cyril Ramaphosa lê in sy feitelike geloofwaardigheid, maar Jan de Lange sou graag meer oor die binnewerkinge van die Nasrec-konferensie wou weet.

Cyril Ramaphosa: The Road to Presidential Power deur Anthony Butler. Uitgewer: Jacana. Prys: R330.

Sestien jaar lank – van 1996, toe hy klaar was met die skryf van die Grondwet, tot 2012, toe hy uit die bloute adjunkpresident van die ANC geword het – het Cyril Ramaphosa ’n baie private loopbaan en lewe in die sakewêreld gelei. Selfs in die vier jaar wat hy adjunkpresident was, het hy ’n masker gedra wat bra min oor hom verklap het.

Gevolglik is daar ’n gaping in ons openbare geheue, veral onder die jonger geslag, oor wie en wat Ramaphosa is: sy deugde en swakhede, waar hy vandaan kom, en veral waarheen hy op pad is. Dit is wat ’n mens hoop om in Anthony Butler se biografie te kry, maar terselfdertyd is jy bang dit ontaard in ’n messiaanse lofsang wat onrealistiese verwagtinge skep oor die president van ’n land wat in diep moeilikheid is. Ramaphosa is immers ’n uitsonderlike mens wat jou asem wegslaan – beslis wanneer jy van aangesig tot aangesig met hom kennis maak, maar ook wanneer jy gewoon sy CV bekyk.

Butler het hierdie geheuegaping meer as 20 jaar gelede al raakgesien en destyds die grondwerk gedoen vir ’n deeglike biografie. Ramaphosa se presidensiële ambisie was immers nooit ’n geheim nie, al is dit ook nie van die dakke af uitbasuin nie. En soos baie ander mense wat besef het Ramaphosa het werklik die potensiaal om dié ambisie te verwesenlik, het Butler in dié uitgestote ANC-leier in die sakewêreld begin glo.

Butler is so ’n bedrewe en boeiende skrywer dat jy sonder moeite van blad tot blad, hoofstuk tot hoofstuk, en verrassing tot verrassing glip.

Die eerste weergawe van hierdie biografie het in 2008 verskyn. ’n Tweede uitgawe het in 2013 gevolg om die uitwerking van die Marikana-slagting en Ramaphosa se verkiesing in 2012 tot adjunkpresident van die ANC by te werk. Die jongste weergawe, met Ramaphosa nou in die oos-vleuel van die Uniegebou, het kort voor die verkiesing in Mei verskyn.

Dit is ’n lywige boek van 592 bladsye, maar Butler is so ’n bedrewe en boeiende skrywer dat jy sonder moeite van blad tot blad, hoofstuk tot hoofstuk, en verrassing tot verrassing glip.

Jy leer Ramaphosa ken as die trots van sy ma en polisieman-pa in Soweto, van kleindag af pligsgetrou met ’n sin vir netheid en sindelikheid te midde van die genadelose armoede en troostelose township-bestaan. Sy ouers speel albei ’n leiersrol in die gemeenskap en help met raad en daad waar hulle kan. Maar in sy tienerjare, terwyl hy stadigaan in die leierskapvoetspore van sy ouers volg en ’n liefde vir mooi klere en meisiekinders ontwikkel, maak hy met apartheid kennis. Soos in baie van sy tydgenote laat dit ’n onversetlike rebelsheid in hom ontwaak wat indruis teen die diep gelowige Lutherse opvoeding wat hy van sy ouers gekry het.

Dit lei tot militante swartbewussynspolitiek, wat weer uitloop op ’n skorsing uit die Universiteit van die Noorde by Turfloop (tans die Universiteit van Limpopo) waar hy in die regte gaan studeer het. In 1974 volg 11 maande van eensame aanhouding sonder verhoor – waarskynlik om kamerade te laat dink dat hy hulle verraai het omdat sy pa ’n polisieman was.

Butler het die verwoestende uitwerking op die psige van sulke aangehoudenes gaan navors. Die meeste het blywende skade. Baie word alkoholiste, ander ly vir altyd aan stilstuipe, nimmereindigende depressie en is nooit weer in staat om hul naaste vriende te vertrou nie. Dit was ook ’n keerpunt in Ramaphosa se lewe wat die futiliteit van die gewapende stryd by hom tuisgebring het. “Ons was eintlik net ’n klein groepie, soos Azapo vandag is,” het hy later gesê. Hy het ook tot die gevolgtrekking gekom dat swartbewussyn ’n sektariese beweging is wat daarop uit is om swart mense eenkant te hou.

Jy stap verder saam met Butler deur die gange van afgeleefde geboue in die swakker dele van die Johannesburgse middestad in die 1980’s – die leefplekke van klein eenman-struggle-regspraktisyns en kwasi-wettige vakbonde waar die talle slagoffers van apartheid se onstuimigste jare kom hulp soek. Dit is waar Ramaphosa die regsgraad voltooi wat hy op Turfloop begin het, sy tande as prokureursklerk slyp en in die nadraai van die Wiehahn-verslag in die laat 1970’s die gaping sien om ’n vakbond in die mynbedryf te stig, die National Union of Mineworkers (NUM), wat op werkerskwessies – lone en mynveiligheid – fokus.

Ons maak ook ’n paar draaie in die spoghuise van Johannesburg se liberale myn-elite – kapitaliste wat Rama­phosa se mensepotensiaal raaksien en sorg dat hy Harry Oppenheimer ontmoet. Hulle kruis swaarde – Rama­phosa is aggressief en emosioneel en Oppenheimer effe geamuseer.

Butler het nie net ’n aangrypende storie geskryf oor ’n man wat aanvanklik aan die kortste ent trek, maar bo uitkom nie, maar ook ’n biografie met ’n indrukwekkende bronnelys van boeke, akademiese navorsingstukke, koerantberigte en onderhoude met ooggetuies wat feitlik deur die bank geïdentifiseer word.

Die storie verskuif na die Kodesa-onderhandelings en die strategie wat Ramaphosa en sy mede-onderhandelaars soos Joe Slovo en Mac Maharaj gespeel het om die valke in die ANC te uitoorlê, terwyl dieselfde proses in die ou Nasionale Party gevolg word deur Roelf Meyer, Niel Barnard en andere.

Dié gedeelte is waarskynlik die verteerbaarste, akkuraatste en onpartydigste vertelling van die demokratiese Suid-Afrika se geboorteproses.

In die laaste, nuwe hoofstukke oor die Zuma-jare met Ramaphosa as adjunk en die aanloop tot die Nasrec-konferensie onthul Butler dat Rama­phosa se veldtog om by Nasrec president van die ANC te word sowat R500 miljoen gekos het. Die geld is gebruik om afgevaardigdes na die konferensie te vervoer en hulle te huisves in hotels waar hulle nie deur die teenkant beïnvloed of geïntimideer kon word nie.

Die ander kant – Nkosazana Dlamini-Zuma – het beslis meer as dít bestee, en die totale uitgawes vir die konferensie was volgens Butler maklik R2 miljard.

’n Mens het meer verwag van die binnewerkinge op die Nasrec-kongres en die nag van 18 Desember 2017 toe die sowat 5 500 afgevaardigdes dwarsdeur die nag gestem het en David Mabuza, premier van Mpumalanga, gesorg het dat Ramaphosa naelskraaps teen Dlamini-Zuma wen. Daar het immers dramas afgespeel waaroor ons tot vandag toe min weet.

Ja, dit was agter geslote deure, maar daar was meer as 5 000 mense agter daardie deure.

Soos baie ander mense is Butler duidelik ’n aanhanger van Ramaphosa, maar hy stippel tog van sy swak punte uit: Die president is byvoorbeeld nie goed met fyner detail nie – dit laat hy aan ander oor; dit vat ook lank voordat hy ’n besluit neem; niemand weet wat hy dink nie; en hy is gematig eerder as ’n ekstremis, maar dit kan teen hom tel.

Die waarde van dié boek lê in sy feitelike geloofwaardigheid. Butler het hard probeer om Ramaphosa se samewerking vir die biografie te kry, maar is soos talle ander joernaliste ’n ruk lank aan ’n lyntjie gehou en uiteindelik duidelik laat verstaan die president gaan nie ’n vinger verroer om hom te help nie, maar sal ook niks doen om hom te keer nie.

Vir vriende en kennisse wat wou weet of hulle Butler mag help, was die antwoord ’n bondige “besluit self”.

Die eindresultaat is ’n gedagteryke boek wat nie sonder leemtes is nie, maar wat baie help om te verstaan wat in ons ingewikkelde land aan die gang is, wat nodig is om ons weer op koers te kry en dat bekwame mense hard daaraan werk om die nodige koersaanpassing te maak.

  • Jan de Lange is Rapport  se spesialisverslaggewer in die parlement.
Meer oor:  Biografie  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.