Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
'n Lewe aan die buiterand

Zirk van den Berg noem sy sewende boek, die voorstedelike sprokiesnovelle ‘Ek wens, ek wens’, ’n ‘lekker ligte snuistery’, amper soos sy lewe onder die radar in Nieu-Seeland, het hy in Kaapstad aan Johan van Zyl gesê.

Zirk van den Berg in die Kompanjiestuin in Kaapstad. Foto: Peter van Noord

Dieselfde puur maar plesierige Afrikaans wat ’n mens raaklees in Zirk van den Berg se boeke, kabbel op ’n Dinsdagmôre in die Kompanjiestuin in Kaapstad ewe moeiteloos uit sy mond. Dié Afrikaans murmel so suiwer, so onbesmet deur Engels en ander invloede wat die taal in Suid-Afrika binnegesypel het, dat jy oorweeg om dit ouderwets of ouwêrelds te noem.

Zirk gee ’n wát-het-jy-gerook?-grinnik, onseker of hy dit as ’n skramse kompliment of kritiek moet opneem: “Regtig? Mmm. Nou toe nou.” Sedert hy en sy gesin 21 jaar gelede na Nieu-Seeland geëmigreer het, leef en werk hulle immers in Engels, al praat hy en sy vrou, die pottebakker Elsabé Pretorius, by die huis in Auckland steeds Afrikaans met mekaar en met hulle twee kinders, Bernard en Anna.

“Die kinders is nou volwassenes en volslae Kiwi’s,” sê Zirk. “Hulle was tien jaar laas in Suid-Afrika en het die laaste keer wat hulle hier was, klaar gesukkel met die tongvalle. Hoewel my dogter wel Afrikaans verstaan, antwoord sy in Engels omdat sy verleë is oor haar aksent.

‘Ek sit ver, ver van hier, te dankbaar om te kan doen wat ek van 12-jarige ouderdom al wou doen: skryf.’

“Miskien het dít wat jy ‘suiwer’ noem, gewoon te doen met die feit dat ek as joernalis by Die Burger geleer het ’n mens gebruik Engelse woorde slegs in dialoog. Of miskien gaan dit daaroor dat ek die afgelope ses jaar meer as ’n miljoen woorde in Afrikaans vertaal het – my eie boeke, drie Wilbur Smiths, A.B. de Villiers se biografie, twee Philip Kerrs, onder meer Doodsbleek (lees die resensie op bl. 14) – en só eintlik opnuut vertroue in my Afrikaans gekry het.

“Die taal vlóéi weer behoorlik: As ek skryf, kom die woorde wel meestal in Engels, maar deesdae weer ál meer in Afrikaans, en dan vertaal ek dit eenvoudig heen en weer. Wanneer ek vertaal, werk ek soos ’n masjien, soos ’n wurm wat Engels vreet en Afrikaans uitskyt.”

Dis die opbloei in misdaadfiksie wat sy skryfloopbaan in ’n ander rigting (en taal) gestuur het, vertel Zirk, wat erken dat sy Afrikaanse boeke minstens dubbel soveel as die Engelse weergawes verkoop.

G’n Suid-Afrikaanse uitgewer het destyds daarin belang gestel om sy derde boek, die roman Nobody Dies, wat reeds in 2004 in Nieu-Seeland verskyn het, uit te gee nie. Maar ’n klompie jare later het James Woodhouse, destyds ’n uitgewer by Kwela, hom genader met die versoek om dit vir die snelgroeiende Afrikaanse misdaadfiksiemark te vertaal.

Zirk was skepties oor sy verroeste Afrikaans en sy “onvermoë om anglisismes raak te sien”, maar het ingestem om vir ’n proeflopie een hoofstuk in Afrikaans te vertaal . . . ’n Ander mens het in 2013 verskyn en is die jaar daarna met die kykNET-Rapport-fliekprys bekroon. Dié roman is pas herdruk om saam te val met die gelyknamige “aksiekomedierolprent” onder regie van Quentin Krog wat op 31 Mei plaaslik begin wys.

Zirk het nog net die lokprent en omtrent vyf minute van die fliek gesien, maar sê “dis iets totaal en al anders as die roman, totaal nuut . . . soos ’n baba wat jy vir aanneming opgee en by ander mense laat grootword en waarvoor jy uiteindelik op geen manier kan pa staan nie”.

Tussen die twee koffiekoppies-en-pierings op die tafel pryk die eintlike rede vir die gesprek: Zirk se sewende boek, Ek wens, ek wens, wat as ’n voorstedelike sprokiesnovelle bemark word en wat hy eers “ ’n dun ou boekie van skaars 35 000 woorde” noem en later ’n “ligte, lekker snuistery wat niemand aanstoot sal gee nie”.

Zirk het die boek opgedra aan sy “beste vriend in Nieu-Seeland”, wyle Ryk Hattingh. “Ryk was ’n literêre skrywer – ek is nie naastenby in sy liga nie – en daarom is ek so dankbaar dat hy voor sy dood die boek gelees én baie daarvan gehou het. Hy het dit ’n ‘eksistensiële boek’ genoem.”

Die storie het “baie organies” ontwikkel rondom die kerntoneel wat Zirk amper tien jaar gelede al neergeskryf het: ’n Sterwende seuntjie, Gawie, en sy ma besoek die lykbesorger Seb omdat Gawie wil weet wat met hom gaan gebeur as hy doodgaan. Maar dan wil hy ook by Seb weet “wat sal oom doen as oom drie wense kry en oom weet hulle gaan waar word?”

’n Skrale agt maande het verloop vandat hy daadwerklik begin skryf het aan Ek wens, ek wens tot die boek vir publikasie aanvaar is, sê Zirk.

“Al my ander boeke het jare van herskryf geverg en boonop dink ek dié ou kleintjie het van almal ook die mooiste voorblad. Nie dat ek onder enige illusie verkeer om hiermee of met enigiets anders die Hertzog- of ’n ander prys te wen nie. Ek is nie literêr óf kommersieel genoeg nie, en soos jy seker kan agterkom, pla dit my glad nie. Ek sit ver, ver van hier, te dankbaar om te kan doen wat ek van 12-jarige ouderdom al wou doen: skryf.”

BEDEES, BESKEIE, STIL, rustig, en ja, selfs saai, só is hulle lewe in Nieu-Seeland, sê Zirk, wat in Augustus aanstaande jaar sy 60ste verjaardag vier.

“Elke keer as ek hier kom, is ek opnuut bewus van hoe lékker die mense – mense van my portuurgroep – in Suid-Afrika leef, die gawe wat hulle het om de laaste druppel sap uit die lewe te suig. Dit is werklik ’n vreemde, warm, opwindende en gevaarlike plek.

“Maar dalk raak ek nou oud, want die keersy raak vir my ál belangriker: In die 21 jaar in Nieu-Seeland het ons nog nooit ’n besluit geneem waar sekerheid enige rol gespeel het nie, en dis werklik gerusstellend om in ’n land te woon waar jy die politiek vir alle praktiese doeleindes kan ignoreer omdat geen van die politieke partye die land gaan ruïneer nie. Ook die nuus is geweldig saai: Ja, daar is natuurrampe en karongelukke, maar meestal is die opskrifte iets belagliks soos ‘Disaster almost struck’ omdat absoluut niks gebeur het nie.” (Die onderhoud het plaasgevind kort voor die onlangse terreuraanval in ’n moskee in Christchurch.)

“As ek in Suid-Afrika kom, is dit nie net die misdaad en politiek en korrupsie wat my ongemaklik maak nie, maar ook kleinighede . . . hoewel ek die welsynsaspek verstaan, irriteer dit my om vir onnodige dienste te betaal, soos parkeerwagte of wanneer jy moet petrol ingooi. Ons het nie destyds ’n huiswerker in Suid-Afrika gehad nie en het ook nie een in Nieu-Seeland nie. Ek stryk my eie klere en hóú daarvan om dit te doen omdat vreemde mense in my huis my ongemaklik maak.

“En weet jy, hoe wonderlik dit ook al is om hier te kuier, voel dit nie meer soos my plek nie. Ek ervaar wel ’n soort emosionele band met my geboorteland, Namibië, maar Suid-Afrika . . . dit is asof ek lank genoeg hier gewoon het.

“As ek heeltemal eerlik moet wees, voel ek eintlik nie besonder verknog aan of deel van Nieu-Seeland, Namibië of Suid-Afrika nie. Ek is oral ewe ongemaklik. Sê maar soos ’n randeier. Ek verkies ’n lewe onder die radar.”

  • Ek wens, ek wens en Die vertes in word uitgegee deur Kwela en kos onderskeidelik R220 en R295 by goeie boekwinkels landwyd.

Snelvuur met Zirk

    Jy het al telkens in onderhoude gesê die skryfproses fassineer jou. Hoe lyk of werk joune?

    Ek is aansienlik meer pligsgetrou en produktief namate my pligte as ouer afgeneem het, maar glo nie in nonsens soos skrywersblok of “te moeg” of “te besig” nie. As jy vashaak, is daar iets fout, gewoonlik iets wat jy nie behoorlik deurdink het nie.

    Die geloofwaardigheid van jou skryfwerk en karakters het verbasend baie te doen met gewone probleemoplossing, met die skep van logiese motiverings . . . ’n storie kan byvoorbeeld maklik met toeval begin, maar in die ontknoping van ’n verhaal ervaar die leser toeval as uiters verdag.

    Voor ek wegtrek met ’n boek, skryf ek dus vir myself ’n brief – wat is dit nou weer in Afrikaans . . . ’n opdrag? – soos dié wat ek destyds in die advertensiewese by kliënte gekry het. Hierin sit ek die kern van die verhaal uiteen, wat dit wil bereik en wie dit vertel . . . en dan probeer ek daardie ou word! Terwyl ek skryf, keer ek gereeld terug na die opdrag om te sien of ek nog op koers is.

    Wat is die heel belangrikste besluit wat ’n skrywer moet neem?

    Wie vertel die storie? Ryk Hattingh het altyd gepraat van “die toon” van ’n boek, hoe afstandelik of betrokke of ironies die stem is wat die leser in sy of haar vertroue neem. Die verteller – en verál die verteller se geïmpliseerde wêreldbeskouing – maak of breek ’n boek.

    En wat meen jy is die grootste les wat beginnerskrywers moet leer?

    Moenie gaan sit en perfek probeer “skryf” nie – dis ’n ope uitnodiging aan jou innerlike redakteur om jou gedurig te betig en te vertel hoe vrot dit is. Kry eerder die storie so gou as moontlik uit jou gestel en beskou die “skryfproses” as die skep van materiaal wat jy later kan verbeter.

    Wat lees jy en wat lees jy nie?

    Ek is ’n nuuskierige leser wat regtig rond en bont lees – ook hope kommersiële goed, maar min Afrikaans. Ek ignoreer baiekeer die flapteks en het selde ’n idee watter boeke topverkopers of pryswenners is. My enigste kriteria is dat die prosa dapper en eiesoortig moet wees en my sin vir sin, paragraaf vir paragraaf, hoofstuk vir hoofstuk moet interesseer. Romain Gary se King Solomon lees ek oor en oor. Massimo Carlotto se Death’s Dark Abyss en The Following Story deur Cees Nooteboom is ander gunstelinge.

    Waaraan werk jy tans?

    Ek skaaf aan twee – ’n opvolg op Die vertes in wat reeds by die uitgewers is, en ’n humoristiese wetenskapsfiksie-gruwelboek vir kinders – en skryf tans ’n derde Hochnamib-boek wat fokus op ’n randkarakter in die eerste boek en waarin elemente van die eerste twee hopelik interessant bymekaarkom.

    Meer oor:  Zirk Van Den Berg  |  Resensie
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.