Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Lewe wat goed geleef is

Outobiografie

Ai, Abraham

Abraham Lückhoff

PROTEA, R295

’n Kleurvolle loopbaan as predikant in drie verskillende kerke op drie verskillende vastelande, as joernalis by drie Afrikaanse koerante en as diplo­maat in die VSA.

Sit daarby die gawe om na uiteenlopende situasies te kyk en sowel die humor as die patos daaragter raak te sien; ’n fyn ontwikkelde talent om ’n storie te vertel. Dit alles klink sommer by voorbaat na die bestanddele van ’n heerlike leeservaring.

Dié herinneringsboek neem die vorm aan van ’n reeks kort vertellings en gee ’n oorsig oor al die fasette van ’n interessante lewe: van sy jeugjare in Clanwilliam en Graaff-Reinet, deur sy studentejare in Stellenbosch en aan Princeton, sy bediening as predikant in Pretoria, Brussel en Mexikostad, sy jare as koerantman, sy tyd as kerk-attaché in Washington, tot waar hy hom nou bevind tussen Florida in die VSA en Dewetsbaai by Bettysbaai in die Wes-Kaap.

Die verhale verraai die skrywer se (soms wrang) humorsin, sy vermoë om ook met homself te spot en sy liefde vir die plekke waar hy gelukkig was. Die anekdotes en staaltjies wat hy vertel, fokus weliswaar op die kleiner gebeure van sy lewe, maar gee op boeiende wyse ’n oorsigtelike blik op die groter wêreld en die veranderende tye waarin hy hom bevind het.

Met groot eerlikheid vertel hy ook van sy eie pogings as student om Suid-Afrika se apartheidsbeleid te verdedig.

Verskeie interessante figure wat hy teëgekom het, maak so half onverwags hul verskyning in die verhaal: die digter-dokter C. Louis Leipoldt, wat aan klein Abraham die onwelkome bynaam “Eierkoppie” besorg, kerkmanne soos dr. Koot Vorster en prof. Johan Heyns, wat met mekaar in die konsistorie van die Stellenbosch-moederkerk koppe stamp oor die legitimasie van die teologiese kandidaat Lückhoff se beurs om aan Princeton-Universiteit in die VSA te gaan studeer, die skilder Hugo Naudé, wat menige van sy landskaptonele in Lückhoff se geliefde Dewetsbaai geskilder het, en die destydse eerste minister D.F. Malan, wat saam met die skrywer se oupa by die see kom skaak speel het (en moontlik in die proses gekroek het).

Met groot eerlikheid vertel hy ook van sy eie pogings as student om Suid-Afrika se apartheidsbeleid te verdedig. Sy konfrontasie met Adam Volkwijn, ’n mede-Suid-Afrikaanse student, in ’n oproerige studentedebat op die Princeton-kampus lei tot die insig: “Ek kan nie meer apartheid verdedig nie. Ek is deur my eie klein Rubicon-stroompie. Ek sal nooit weer dieselfde wees nie.”

Die slotsom van hierdie oorsig oor ’n lewe wat goed geleef is, kry ’n mens (waarskynlik onbedoeld) in die slotparagrawe van die boek: “Daar is vrede in my hart. En ek voel veilig.”

André Bartlett is hoof van die Sentrum vir Bedieningsontwikkeling van die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Ai  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.