Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
'n Ma met skisofrenie - Brent Meersman se memoir

Sy grootwordjare met sy ma wat aan skisofrenie gely het, vind neerslag in die skrywer en joernalis Brent Meersman se memoir, A Childhood Made Up. Hy het AJ Opperman vertel dat hierdie memoir, soos al sy skryfwerk, hom help om die wêreld te verstaan.

Meersman glo sy ma het nog meer gely weens die tydperk waarin sy geleef het.

Shirley Meersman het aan skisofrenie gely en sy was ’n belowende skilder, maar sy het nooit werklik tot haar reg gekom nie.

Shirley Meersman

Sy is in 2000 dood.

“Sy was nie ’n intellektuele denker nie, maar sy het vir seker die potensiaal gehad,” sê Meersman nadat sy boek A Childhood Made Up onlangs deur Tafelberg uitgereik is.

“Sy het baie in haarself getwyfel, hoewel sy ’n goeie opvoeding gehad het. Sy het alles van die Griekse letterkunde geweet en het baie boeke gelees, maar sy kon nooit haar intellektuele lewe voluit ontwikkel nie.”

Die wanbegrip oor haar siekte – sy was in die psigiatriese inrigtings Valkenberg en Stikland – het sake belemmer.

"Ek dink nie ‘terapeuties’ is die regte woord nie, maar die skryf daarvan was beslis ’n loutering."

“Dit stigma daaroor in die gemeenskap het nog nie heeltemal verdwyn nie. Sy is net deur manlike psigiaters behandel.”

Shirley wou ’n vlieënier word, maar sy is ingelig dat dit nie ’n loopbaan vir vroue is nie.

Haar skisofrenie was nie die enigste struikelblok in haar huwelik met Meersman se pa, Willy, nie. Hy was ’n alkoholis en die gesin het dit nie breed gehad nie.

Brent Meersman

Sy het ook as ’n skilder gesukkel. Sy het in ’n stadium vir die bekende Joodse skilder Irma Stern as sekretaresse gewerk. Stern het selfs een van haar skilderye aan haar present gegee.

Meersman glo as sy ma nie aan ’n geestestoestand gely het nie, sou sy groter hoogtes met die visuele kuns bereik het.

“Sy het baie kunstenaars ontmoet, maar as ’n kluisenaar het sy nooit werklik enige van hierdie verhoudings ontwikkel nie. Dit het nooit floreer nie.”

Sy ma het ook ’n aanvoeling vir skryf gehad. Sy het selfs ’n roman geskryf, maar sy het die manuskrip in die see gegooi toe sy en haar gesin aan boord van ’n skip na België gereis het.

Willy was van Vlaamse afkoms en sy ouers het in België gewoon. Die Meersman-gesin het ’n kort tydjie in België gewoon, maar later na Kaapstad teruggekeer.

Willy se ouers was nie ingenome met sy keuse vir ’n huweliksmaat nie.

Meersman, wat filosofie en Engelse letterkunde aan die Rhodes-Universiteit in Makhanda (toe Grahamstad) gestudeer het, het die skrywer in die familie geword. Hy het wel nie sy studies voltooi nie.

‘A Childhood Made Up’ deur Brent Meersman

Sy ouer broer, Paul, het eers regte en daarna joernalistiek aan Rhodes gestudeer.

Meersman is mede-redakteur van die nuuswebwerf GroundUp. Hy was voorheen onder meer ’n medewerker van Mail & Guardian en hy is bekend om romans soos Sunset Claws en Primary Coloured en sy reisboek, 80 Gays Around the World.

“Ek dink ’n tema wat in al my skryfwerk voorkom, is maatskaplike ongeregtigheid. Ongeregtigheid kry my werklik onder. Met die skryf van A Childhood Made Up was dit baie meer persoonlik. Ek dink nie ‘terapeuties’ is die regte woord nie, maar die skryf daarvan was beslis ’n loutering. Alles wat ek skryf, is ’n poging om my wêreld beter te verstaan. ’n Mens probeer dinge verwerk, en ek kon dit op hierdie boek toepas.”

"Ek hoop wel my pa kom simpatiek oor. Dit was maklik om hom as kind te haat. Ek moes deur ’n fase gaan om hom te verstaan."

Shirley het gedurende die laaste deel van haar lewe by hom op ’n plaas naby Piketberg gewoon.

“Ons het baie lang gesprekke gehad. Ek het toegang tot ma se kunsboeke en dagboeke gehad.”

Hy besit nog steeds sy ma se Bybel. Sy het as ’n ateïs grootgeword.

“Sy het ’n verhouding met God ontwikkel. Sy het geworstel met die teenstrydigheid. Sy het aan evolusie geglo. Daar is sekere verse in haar Bybel gemerk. Geloof het later vir haar al hoe belangriker geword.”

Hy gee gestalte aan baie kleintydse herinneringe.

“Elke keer wanneer ’n mens iets onthou, herskryf jy eintlik daaraan. Dit word herskep. Dit verander. Met die gesprekke wat ons gehad het, kon ek oor baie dinge duidelikheid kry. Ek was gelukkig om daardie gesprekke met haar te kon hê.”

‘Contemplation’, ’n selfportret deur Shirley Meersman, wat sy in die 1970’s geskilder het.

Meersman was altyd bang dat hy ook aan skisofrenie sou ly.

“En dit het ’n genetiese voetspoor, maar as jy teen 30 nog nie tekens daarvan getoon het nie, is dit glo onwaarskynlik dat jy daarin sal verval.”

Hoewel dit ’n memoir is, lees dit soos ’n familieroman.

“Ja, dit was beslis ’n buitengewone tyd. Ek hoop wel my pa kom simpatiek oor. Dit was maklik om hom as kind te haat. Ek moes deur ’n fase gaan om hom te verstaan. Hoewel hy met drankmisbruik gesukkel het, het hy ondanks alles by my ma gestaan. Hy was deur dik en dun aan haar sy. En dit is eintlik ongewoon.”

Shirley was voorheen getroud en die man het haar verlaat. Hulle het ’n kind gehad en hy het die kind saam met hom geneem.

“Dis Shirley wat Willy die rug toegekeer het. Ek het deur middel van my eie terapie ontdek watter skade sy aangerig het. Tog was niks daarvan doelbewus nie. Sy was inderwaarheid ’n interessante mens om mee te gesels en ’n goeie ma.”

Ná sy ma se dood het Meersman baie tyd met sy pa deurgebring. Hy kon verskeie dinge verwerk en daarmee vrede maak. Hy reken dis moontlik waar hierdie boek begin het.

Hy het as kind dikwels soos ’n buitestander gevoel. Hy skryf dat hy as rebels bestempel was terwyl hy eintlik net arm was.

“My ma het my baie bewus gemaak van arm en gemarginaliseerde mense. Kunstenaars is dikwels ook buitestanders. My ma kon haar moontlik daarmee vereenselwig. Ek skat al daardie dinge het ’n invloed op my as ’n skrywer gehad.”

* A Childhood Made Up kos R290.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.