Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Manie vir Breyten op ’n Woensdag in Kaapstad
Die digter Breyten Breytenbach lees voor uit sy jongste bundel op weg na kû. Foto’s: Ena Jansen

Mense het opmekaar en op mekaar se tone gesit vir die bekendstelling in Kaapstad van die digter Breyten Breytenbach se jongste bundel op weg na kû in die boekwinkel The Book Lounge. Ena Jansen was daar.

Net voor halfses op Woensdagaand 3 April parkeer ek my kar in Roelandstraat – daar’s nog heelwat plek naby die Book Lounge op die hoek van Buitenkantstraat. In die boekwinkel is dit ’n ander storie. Die mense Uber mos deesdae almal. Die ruimte sit volgepak tot in die diepste uithoeke, glo van vyfuur af, ’n uur voor “die verrigtinge” begin. ’n Leeskring-lid van Bellville wat met haar gesin al vroeg kom uitkamp het op die bank naaste aan die ingang skuif vir my op – op voorwaarde dat ek vir haar ook ’n glas wyn in die kelder gaan haal. Later sit ons lekker hoog op die rug van die bank sodat mense op ons tone kan kom sit en nog ’n paar van die sypaadjie af ten minste met hul ore by die deur kan inkom.

’n Tevrede, byna gewyde gezoem heers onder dié met sitplekke. Die voormalige uitgewer Annari van der Merwe – sy het sekerlik die eerste proefskrif oor Breyten se werk geskryf en in die jare toe hy in die tronk was dikwels onderdak vir sy Paryse vrou verskaf – word deur die immerjong Yolande aan die arm geneem en kry plek op die voorste ry. Breyten se fotograafbroer, Cloete, sit al daar; later skuif Breyten se ou vriend Ampie Coetzee aan. Die uitgewers Eloïse Wessels, Nèlleke de Jager en Marga Stoffer sit ook voor, Kerneels Breytenbach staan tussen al die koppe teen die oorkantste muur. Riku Lätti stel die mikrofoon en toets die klank. Onder die ternouernood-inkommers is David Kramer en sy vrou, ook Caro Wiese. Ook Ebbe Dommisse wat jare gelede nuusredakteur by Die Burger was toe ek as groentjie ’n paar maande daar op die kunsredaksie gewerk het.

Kortom, dis duidelik dat die bekendstelling van Breyten se op weg na kû ’n halfjaar voor sy 80ste verjaardag ’n happening is. Die publiek is nou nog net so opgewonde en vol afwagting as tydens sy eerste openbare optrede in die Kaap byna 50 jaar gelede. Dit was in 1973 aan die einde van die beroemde Sestiger-week by die Universiteit Kaapstad se Somerskool.

Riku Lätti en Breyten Breytenbach.

Elke dag het ongeveer 500 mense na ’n groot lesingsaal gestroom om die Sestigers te sien en te beluister: André P Brink, Etienne Leroux, Jan Rabie, Adam Small, Chris Barnard, PG du Plessis, John Miles, Braam de Vries. Ook Ampie Coetzee, Johan Degenaar, Richard Rive, Jack Cope, Hennie Aucamp en W.E.G. Louw het aan die besprekings deelgeneem. Almal wat maar kon, was daar; tot ministersvroue en lede van die veiligheidspolisie en sensors. Saam met Rykie van Reenen en Coenie Slabber van Rapport het ek die hele week voor aan die spesiale perstafel gesit, 21 jaar oud en baie dankbaar dat die kunsredaksie my afgevaardig het om oor alles verslag te doen. En wat was ek trots op my eksemplaar van Kouevuur waarin Breyten vroeër die week geskryf het: ‘As Die Burger meer sulke mooi nooiens had dan was hy minder nasionaal.’

Meer as 800 mense het op 14 Februarie 1973 die saal volgepak toe Breyten sou praat, die man wat toe al jare nie sy voete in die land mag gesit het nie omdat hy en sy Viëtnamees-Franse vrou vervolgbaar was onder die Wet op Gemengde Huwelike. Vuurwerk is verwag. ’n Politieke joernalis met besige elmboë het aan die perstafel kom sit. Vroegaand al het ek vir Breyten gevra of hy ’n eksemplaar van sy toespraak vir my kon gee. ‘Ek gaan uit die vuis praat,’ het hy gesê. ‘Uit albei vuiste.’ Maar tog het hy die briljante ‘Blik van buite’-lesing van velle papier voorgelees en toe ek naderstaan nadat die bewonderende, verbysterde gehoor ophou klap, het Breyten sy toespraak oor die kop van die senior joernalis vir mý aangegee. Selde het ’n Burger-Volksie so vinnig om Tafelberg Keeromstraat 30 toe gewikkel om ’n storie voor saktyd getik te kry terwyl Piet Cillié op pantoffels oor my skouer loer. Die opskrif wat die nagredaksie goedgedink het was ‘Breyten Kyk van Buite en Sien Bastervolk’.

Stil en aandagtig luister almal; sommige met die oë toe; ander volg sy stem met die vinger langs die reëls in hulle pas-aangeskafte bundels. Wat ons almal betref kan Breyten maar aanhou lees; die aand is nog jonk, sy Afrikaans tegelyk so gewoon én subliem, pragtig.

’n Breyten-manie het posgevat. En steeds, nadat so baie water in die see geloop het, skryf Breyten 55 jaar ná Die ysterkoei moet sweet (1964) nog altyd die mooiste poësie, en beskryf hy homself as ’n soort ‘deurgeeluik’. Dis aan luisteraars en lesers van sy gedigte om te hoor, te verstaan en in hulle harte te bewaar. Altans, so voel en verstaan ek dit wanneer hy verduidelik wat sy plek in die ketting tussen skrywer en leser is.

Ná eers ’n paar kort dog fel kappe na die Universiteit van Stellenbosch se taalbeleid, begin Breyten lees uit op weg na kû. Stil en aandagtig luister almal; sommige met die oë toe; ander volg sy stem met die vinger langs die reëls in hulle pas-aangeskafte bundels. Wat ons almal betref kan Breyten maar aanhou lees; die aand is nog jonk, sy Afrikaans tegelyk so gewoon én subliem, pragtig.

elke keer as troureën uitsak oor die land van beskrywing

omdat ek ’n vars perske sou pluk

uit die tuin of optel in die gras

waar wespes en muise en maaiers

dit nog nie gestroop het van skyn

om niks oor te laat bly

vir jagter of jakkals of wildevark nie

moet ek onthou hoe my pa

se sakmeslem die wind sny

en vlees blootlê om die lewe

sigbaar te maak in skywe

offerhandskrywe

vir die verobering van innigheid

en so die tong te versoen

met woordslyt. o neem

hiermee my vrug

uit die droom

my aandgesig en my aangeepyn.

omring my met jou liefde

vir die dans

vir wanneer ons

jakkalskaal nog één maal

afdaal in die poel stilte

en dat daar altyd

altyd perskes mag wees

rooi in die oggendwind

om die boom vir jou bedelaarbruidegom

se besoek om te praat

en binne bereik van pluk te bring

Later sit Breyten sy bril op. En lees verder. Amper te gou hou hy op. Voldaanheid heers, alhoewel die aand vir ’n toegif vra. Die pragtige op weg na kû kan nou gekoop en gelees word. Stil en op jou eie. Die eerste vraag uit die publiek is of ’n mens die gedigte ook stádig kan lees, of moet jy dit vinnig lees soos wat die digter gedoen het. Breyten verduidelik ‘vinnig praat is ’n familiekwaal’ en glimlag na sy broer Cloete. Iemand vra wat Zen-Boeddhisme in hierdie fase van sy lewe beteken; sy kry ’n sorgvuldige antwoord. Eloïse Wessels wil dat Breyten die gedig op bladsy 118 lees.

wanneer jy die moedertong

in my mond laat verdor

neem jy die wêreld weg

verduister jy my geheue

maak jy dat ek as vreemdeling

en sonder ’n eie paar skoene

die toekoms moet ondergaan

wat ek nie meer moet fatsoeneer nie

nog net interpreteer

nie betree nie

wanneer jy die taal

van my wegneem

ruk jy die hart uit my drome

om dit te vervang

met die mondmaniere

van ’n tong wat nog net

die blinde werk van miere kan doen

wanneer jy my as massasyfer liasseer

om soos ’n gefuikte papegaai

te pik-pik na die nabootsing

maak jy dat ek ’n weesmens is

in die leë huis van my vaders

sonder taal om my afwesigheid weer te gee

Hoe lank daar nog gekuier is, weet ek nie. Ek het in my kar geklim, onrustig én rustig, en bergop huis toe gery voordat die Ubers sou begin toustaan.

*

• Breytenbach tree weer op by die Tuin van Digters, wat op 13 en 14 September by die Breytenbach-sentrum in Wellington plaasvind. ’n Heruitgawe van sy bundel Die ongedanste dans: Gevangenisgedigte 1975-1983 en ’n bundel liefdesgedigte van hom, Rooiborsduif, sal ook in daardie tyd verskyn. Breyten word op 16 September 80.

Meer oor:  Breyten Breytenbach  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.