Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Manlike blik op #MeToo

Hans du Plessis se nuwe roman, ‘Die opstand van Poppie Nel’, is goeie, gewilde prosa wat in gesprek tree met al die vroueskrywers wat die afgelope paar jaar vrouemolestering en alles wat daarmee gepaard gaan, beskryf én oopgemaak het, meen Joan Hambidge.

Hans du Plessis

Die opstand van Poppie Nel deur Hans du Plessis. Uitgewer: Lapa. Prys: R300.

Hans du Plessis is ’n belangrike taalkundige wat bekend is as dramaturg en prosaïs en veral met sy herskrywing van die Griekwa-Psalms uitstaande werk gelewer het.

Sy jongste roman, Die opstand van Poppie Nel, is sy 19de fiksieteks en tree in gesprek met al die vroueskrywers wat die laaste paar jaar vrouemolestering en alles wat daarmee gepaard gaan, beskryf én oopgemaak het. Dit is belangrik dat ons hier ’n manlike perspektief kry op ’n delikate saak wat al deur onder andere Anchien Troskie in Dis ek, Anna (2004) en Christine Barkhuizen-Le Roux se My naam is Prins, ek slaap met die lig aan (2019) onder die loep geneem is.

Du Plessis se roman werk met die gegewe dat die karakter dood is en ná die sielkundige moord steeds moet bly lewe. Dit ondersoek eweneens die problematiek van geestelike depressie. Poppie se opstand word vergelyk met dié van Poppie Nongena.

Die skrywer gebruik Bybelname en verwysings na Lukas, Markus en Matteus en laai só die roman met belangrike kodes. Waarom moet dominee Lukas Lucas optree as die raadgewer en heler? Die heler hier is egter self verwond. Sy vrou het hom pas verlaat en die persoon voor hom is deur ’n pastoor mislei.

Poppie staan voor die dominee in haar kuise, lang romp en in die roman word die hele kwessie van grooming (seksuele voorbereiding of aanvoring) ondersoek. Hoe gebeur dit dat ’n jong meisie só mislei en oorrompel word deur die pastoor?

‘Praat is ’n mes met twee snykante.’

Du Plessis kyk hoe die kerk (godsdiens) misbruik word om ’n onskuldige slagoffer te mislei. Die leser kom onder die indruk van die vlot vertelling oor Poppie (die pastoor se begyn) se Hoogliedafspraak met die pastoor, haar leidsman.

Ons weet ook wat Lukas dink. Hy besef sy mag dalk uit die kerk uit wees, maar die kerk is nog nie uit haar nie. Binne die hele #MeToo-veldtog handel hierdie roman oor die mag van die kerk, van predikante of pastore. Du Plessis gebruik die belangrike kode van kleredrag om die innerlike stryd van sy karakter, Poppie, te beskryf. In háár kerk mag sy net manskoene dra en Alison Lurie se studie oor klere, The Language of Clothes (1981), is hier vir verdere speurwerk tersaaklik.

Het Poppie agentskap? Kon sy werklik só verblind word deur hierdie man? Elke roman belig ’n ander aspek van hierdie komplekse verhouding tussen gesagsfiguur én slagoffer waar aandadigheid en skuld verplaas word.

Hierdie leser het dit eweneens ’n boeiende vertelling gevind en nagedink oor die “sonde vir die gesondes”. In hierdie tydvak waar die slagoffer stemhebbend geraak het, het dit my teruggeneem na die belangrike dokumentêr oor die lewe van Linda Lovelace en in welke mate sý mislei is deur haar eggenoot met die vervaardiging van die pornofilm Deep Throat (1972). Kyk jy met ’n agterna-wete na dié rolprent, sien jy die vernielmerke op haar arms en besef jy haar suster het gelyk: Sy wás mislei deur haar man. In die dokumentêr Inside Deep Throat (2005) word daar vanuit alle hoeke gekyk na die problematiek van aandadigheid en die regisseur, Gerard Damiano, stel onder andere vir Erica Jong en Gore Vidal aan die woord.

Staan, Poppie, staan

en laat jou gedagtes gaan

dat jy vir my kan sê

hoe diep die liefde lê.

Só lui die rigting-teks waarmee die roman open met ’n storie wat nie aan die outeur behoort nie, maar aan die persoon oor wie dit handel. Die BBC-reeks Unforgotten ontleed in die tweede seisoen die impak van kindermolestering op drie uiteenlopende mense se lewe en hoe dit almal óm hulle ook verander.

Elke kyker of leser word dus gedwing om kant te kies. Sonde, belydenis en boetedoening mét skuldgevoelens is die merkers van hierdie soort verhaal. En die narratief by die slagoffer is deurgaans dieselfde: Alleen deur die oopmaak van die storie kan daar genesing plaasvind.

“Praat is ’n mes met twee snykante,” waarsku die implisiete outeur in Du Plessis se roman die leser op bl. 26. Die teks is vir ’n bepaalde lesersmark geskryf – kyk onder meer na die gebruik van die woord “meisiekind” en die verwysings na die kerk. Die opstand van Poppie Nel val duidelik binne die kategorie van goeie, gewilde prosa en binne hierdie lesersmark is dit inderdaad oortuigend en pakkend geskryf.

Hierdie roman van Hans du Plessis resoneer met die tyd waarin ons lewe en ondersoek terselfdertyd die impak van iets wat vér terug in die verlede gebeur het.

  • Prof. Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Hans Du Plessis  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.