Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n ‘Meermin’ wat die leser omellie

Meg Vandermerwe se ‘Die vrou van die klipsee’, voortreflik vertaal deur Kirby van der Merwe, is ’n magies-realistiese antwoord op die Weskus-idille wat jy beslis vanjaar móét lees, skryf Kobus Burger.

Die vrou van die klipsee deur Meg Vandermerwe. Uitgewer: Umuzi. Prys: R185.

In die Suid-Afrikaanse volksmond is daar dikwels visse op droë grond te vind, vernaam in die Karoo. Gaan kuier maar op Nieu-Bethesda of google anekdotes oor die meermin van Meiringspoort.

Dié volksverhale het onder meer gelei tot die dokumentêr Searching for Mermaids in the Karoo (2007) en verlede jaar was die dramaturg Aimee Lekas se Die dans van die watermeid op die planke.

In Meg Vandermerwe se roman Die vrou van die klipsee ontdek die hoofkarakter, Hendrik, ’n visserman en kreefsmous op ’n Weskusdorpie, ’n meermin (of is dit ’n watermeid?) op ’n verlate strand in ’n Weskusreservaat.

Hendrik is depressief en rou oor die verdwyning van sy vrou, Rebekkah. Hy probeer sy sorge vergeet deur die een kraantjie (dooswyn) na die ander oop te draai. Dit lei een nag tot ’n selfmoordpoging, maar ’n glibberige figuur red hom net voordat hy verdrink.

Hy besluit om die donker vrou met die visstert in sy bad met kreef aan die lewe te hou, al uiter sy nie ’n enkele woord nie en bly haar verskyning ’n raaisel.

Vertaling hier ’n kunsvorm in eie reg.

Terwyl hy die mitiese wese nat en aan die lewe probeer hou, dryf die herinneringe aan Rebekkah en sy liefde vir haar terug tesame met ’n paar skokontdekkings.

Hy begin wonder: Het Rebekkah nie dalk die visvrou na hom toe gestuur nie?

Of is dit dalk die visvrou en haar mense wat Rebekkah weggeneem het?

Die vrou van die klipsee is ’n magies-realistiese antwoord op die Weskus-idille wat al in soveel Afrikaanse verhale en romans verken is.

Vandermerwe bring die Karoo-watermeid, die mamlambo-figuur in Xhosa-kultuur en die sprokiesmeermin op ’n vissersdorpie byeen waar die “inkommers se moerse huise” troon en “irriterende toeriste met BMW-4x4’s” die paaie versper en kreef wil koop.

Dit is in skrille kontras met Hendrik se sukkelbestaan. Hy mymer selfs “as hy weer trou, trou hy met Miss Klipdrift Brandy” – wat hy nie kan bekostig nie!

Waar die Karoo se watermeid deur Hendrik as “ouvroustories” afgemaak word, het die stom visvrou sy lewe gered. En is sy nie later die rede vir sy skielike rykdom en rekord-kreefvangste nie?

Wanneer Hendrik van die kraantjies kan begin vergeet en uiteindelik hardehout kan bekostig, is dit ook die onverwerkte dood van sy broer Anton wat by hom kom spook.

Met die visvrou in sy huis, moet hy homself al hoe meer van die mense om hom afsny en seker maak besoekers steek nie die drumpel van sy huis oor en ontdek sy slymerige geheim nie. Op die koop toe moet hy keer dat die kelnerin Sara by hom vlerksleep.

Vrou van die klipsee is deur die digter-joernalis Kirby van der Merwe uit die Engels vertaal. Hierdie pragwerk met woorde soos “platogie” en “knuffelkombersie” wat reeds vroeg in die roman die leser begogel, is ’n bewys dat vertaling ’n kunsvorm in eie reg is.

Die medeskeppendheid van die vertaler laat hierdie roman buite taalgrense bruis.

Van der Merwe se vertaling is so knap dat jy jou nie kan indink die roman is oorspronklik in Engels geskryf en het gelyktydig onder die titel The Woman of the Stone Sea die lig gesien nie.

’n Mens lees van “Rooikappie wat kom kuier” (vir menstruasie), die maan se “weduweestrale” en die “mossels was walvisspoeg wat uitgespoel en op die rotse hard geword het”.

Een van die boek se hooftemas word op bl. 66 beskryf wanneer Rebekkah (wat van die Karoo afkomstig is) haar tuin natgooi: “Op die plaas, sê sy, kon sy dit nie verdra wanneer water gemors word nie. ‘ ’n Boer weet water is lewe.’ Ja, water is lewe. Maar dis ook die dood, wou Hendrik byvoeg, wanneer hy dink aan al die vissermanne en seemanne wat die wêreld oor hul dood in die diepsee gekry het.”

Die mitologiese watermeid van die Karoo moes keer dat kinders in ’n put of boorgat val en verdrink.

Maar wat skuil regtig in die Weskuswaters en waarom moes die watermens nou juis in Hendrik se huis beland?

Hendrik se poging om die visvrou aan die lewe te hou, word ’n manier om Rebekkah se verdwyning (en vermoedelike dood) te verwerk. Dit vuur sy soeke na antwoorde aan en laat hom weldra die goeie in ander raaksien.

Vandermerwe bring ook die Suid-Afrikaanse ooskus met die Kaapse Weskus in verbinding wanneer Hendrik met sy boot daarheen wil reis om sy nuutgevonde vriend Xolani asook die visvrou en haar familie te help.

Vrou van die klipsee is ’n tragiese verhaal wat die leser aanhou meevoer, maar terselfdertyd diep ontstem.

Net soos Hendrik kom die leser agter daar is mense wat misgekyk en misken word.

Dit is juis die Sara-karakter wat ’n soort wekroep word en ’n uitwyser van die mense en dinge wat eintlik raakgesien en waardeer moet word.

Die noodlot besoek Hendrik ’n paar keer, maar hy besef dalk nie alslag dat hy oor die vermoë besit om verby die alledaagse werklikheid te kyk nie. Spoke was byvoorbeeld nog nooit vir hom ’n vreemde verskynsel nie, maar luister hy? Sy dors na antwoorde dwing hom om aan te hou soek en vra.

Die boek se meesterlike ontknoping lei tot ’n slotsin wat ’n mens tussen die oë tref. En dis hier waar die magiese in die alledaagse werklikheid van Suid-Afrika en sy mense geanker word. En dit word meer as net Hendrik se storie.

Vandermerwe is ook die skrywer van die kortverhaalbundel This Place I Call Home (2010) en Zebra Crossing (2013), wat deur die Cape Times as een van die toptien Suid-Afrikaanse boeke van daardie jaar benoem is. Sy is tans ’n dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), waar sy deel is van die eerste veeltalige program in die kreatiewe skryfkuns in Suid-Afrika.

Nes Hendrik se watervrou en die seespoke gaan hierdie roman die leser omellie lank nadat die laaste bladsy omgeblaai is. Al kan ’n mens nie die twee romans vergelyk nie, is Die vrou van die klipsee ’n soortgelyke baanbrekerswerk as Rachel Zadok se Gem Squash Tokoloshe.

Dit is een van daardie romans wat jy beslis vanjaar móét lees.

  • Kobus Burger is die uitvoerende regisseur van drama by RSG.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.