Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
’n Meesterkok aan die werk in bundel vol inskaduwings

Soos ’n mens van ’n ‘meesterkok’ soos Johann de Lange verwag, lewer hy volwasse en deurdagte gedigte vol ryk geure en teksture in sy 13de bundel, ‘Die meeste sterre is lankal dood’, skryf Hein Viljoen.

Die meeste sterre is lankal dood deur Johann de Lange. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R250.

Die titel van Johann de Lange se jongste bundel suggereer verdriet oor die dood van groot mense, veral kunstenaars, en andersyds raak die sterre letterlik uitgedoof in gedigte wat die aanbreek van die dag of ’n nuwe begin vier.

Die eerste gedig, “In my kamer” (bl. 11), gee die toon aan, naamlik verwondering oor “hoe lyne op ’n vel / papier” deur “inskaduwings van die lig” “tot mens verdig, of dier”. Die kunstenaar teken eintlik net die skadu’s, en die skadu’s vul die lig in, gee reliëf daaraan, en vorm sodoende die figuur.

Die bundel werk ook met sulke inskaduwings, ofte wel fyn en ligte aanduidings van skadu en donkerte wat gestalte gee aan figure. Skadu en donkerte het hier verskillende betekenisse: letterlike donker maar ook die donker van die dood en verganklikheid.

Woorde is sulke fyn en ligte arserings waardeur beelde en figure tot stand kom. Die digter gaan fyn en presies te werk bo die afgronde van “die vryval van die vrees” soos in die “Koorddanser” (bl. 16). Hy werk “omsigtig”, “voetjie vir voetjie”, maar voel lateraan “elke vibrasie, die hoogspanning”.

Om so presies te werk te gaan, om sorgvuldig teenhangers van die emosie tot stand te bring, veral ook figure wat “ongekwets [is] deur tyd & lig”, is vir my die kern van die bundel. Die ampersand wat die digter deurgaans in plaas van “en” gebruik, is so ’n afskaduwing: ’n fyn en presiese teken in die lettertipe Classic Garamond wat veel meer daaragter omlyn.

Die bundel bewonder ’n uiteenlopende reeks kunstenaars vir wat hulle met lyne kon vermag. Dit is veral opvallend in afdeling IV, “ ’n Beiteltjie”. Die titel roep Van Wyk Louw ligweg op, maar die motto van Basil Bunting vooraan noem ’n pen te lig en vra ’n beitel – ’n instrument wat woorde dalk swaar en onverganklik in klip kan uitkap.

Die gedigte in hierdie afdeling is vergestaltings van skilderye of probeer iets wesenliks van kunstenaars soos Isherwood, Francis Bacon of Dora Maar (Picasso se wenende vrou) vasvang, maar steeds met ? ligte aanslag, “die lyne onseker, verteken” soos die horisontale mens op sy sterfbed beskryf word (bl. 70).

Tussen die elegiese verse is daar flitse van sensualiteit en ?.?.?. verlange .?.?. na ’n geliefde.

“Rembrandt se selfies” (bl. 77) beskryf hoe Rembrandt met verskillende instrumente verskillende mediums “aai” om “grief of grimlag” vas te vang, realisties maar “on/genadig”. “Francis Bacon” (bl. 71) roep die mens in sy liggaamlikheid op, as “sening & been”, maar ook die gees, aksie of die gestaltes wat “behoedsaam” in Bacon se doeke gestalte kry.

In “Dood begin” (bl. 73) teken die digter Breytenbach se ongedanste dans ligweg as “ ’n wuif van die hand na die mond” wat “elke woord” in ’n wond transformeer en die hand in “ ’n psalm, ’n rooiborsduif”.

Dat hy Breytenbach so ligweg in sy eie woorde karakteriseer, is tekenend van De Lange se subtiele omgaan met sy intertekste.

’n Skildery wat met enkele lyne en ’n blok kleur of wat ’n figuur oproep, is $he deur Richard Hamilton. Dit gee aanleiding tot ’n taamlik uitgesponne gedig oor vrouwees (bl. 13). Die buitelyne van die vrou word net deels geteken, in intieme verstrengeling met die yskas, wat eintlik meer substansie kry as die vrou, al word sy ’n koningin genoem en roep sy die model Vikki Dougan op wat bekend was vir haar sensuele kaalrugrokke.

Die gedig werk met tekenbeelde: lyne, kleure, kalklig, Cadillac-pienk. Dit lewer kommentaar oor die sensuele verhouding tussen vroue en toestelle as ’n mens die byskrif by die skildery daarby lees, “die streel van vlees teen chroomkurwes”.

Die digter maak, soos die skildery suggereer, van die broodrooster en van die vrou ’n begeertemasjien, gekruis met ’n ewe sensuele stofsuier. Maar die vrou is kwesbaar: “Daar is bloed op die vloer” en haar oog is “ ’n wit-&-swart wond”.

“Weerloos” is veral in afdeling V ’n kernbegrip. Dit bevat gedigte oor die heengaan of uitvaart van kunstenaars – dalk Opperman of G.A. Watermeyer, maar ook Hemingway, Judith Mason en die digter self.

In “Neerslag” (bl. 87) kry die weerloosheid ’n besonder treffende en intense gestalte as “ ’ n afgrondelike afwesigheid”; as ’n leegte wat ook snags “hurk . . . soos ’n sinkgat, ’n duikgrot of ’n graf”.

As teenvoeter vir uitvaart en die dood is daar ’n hele paar gedigte oor “Eerste dinge” (bl. 65) wat dagbreek en ’n nuwe begin uitbeeld. Die digter herdig “Hebban olla vogala” in ’n moderne idioom (bl. 54-55). In “Improvisasie” (bl. 42) “prik” die voëls se sang deur die donkerte. Die groeiende voëlsang loop uit op ’n pragtige musikale frase: “Die kele / begin kweel tussen die krulle / & ogies van die prieel”. Die hoogtepunt is die hadida wat met sy note “ ’n skel rooi reep / al met die horison langs / oopskeur”. Musiek is een van die inskaduwings van die lig, soos ook blyk uit die “oggendsuite” van “Oggendmusiek” (bl. 12) of uit die fyn klankorganisasie in “Voordag, Waterberg” (bl. 26).

Hierdie gedig kom ook uit afdeling II, “Sysies en die spreeue”, wat veral klein, onbenullige vorms van lewe, soos vlinders, ’n termietprinses, ’n seester, ’n stuk gemmer en selfs ’n huisvlieg, fyn waarneem en in fyn detail teken wat ’n sterk bewussyn van kwesbaarheid en verganklikheid onthul.

Voël het ook ’n sterk seksuele betekenis. Tussen die elegiese verse is daar flitse van sensualiteit en gedigte van verlange of uitreik na ’n geliefde. Hierdie tema van menslike erotiek en die pyn daarvan staan sentraal in afdeling III, “Vergete vuur”. Kortstondige maar intense seksuele ervarings word fyn beskryf in “soos kwartels in die langgras” (bl. 62) of in die gedig vir Kavafis (bl. 56). Blykens die motto wil die digter in hierdie afdeling vir Sappho na die kroon steek. “Ode aan die mielie” (bl. 38) uit afdeling II is een van die geslaagste erotiese gedigte. Dit vier en prys die mielie “gebed in geil melkbaard” en eindig met: “tussen die syige bene van die dag – staan hy, volryp, pittig & rég”.

Die bundel eindig met die afdeling “Gebedewiel” waarin die digter op merkwaardige wyse uit gewone maar wonderlike dinge soos ’n akker of sonsverduistering religieuse betekenis haal. Die kleure, geure en teksture van ’n verskeidenheid groente en die sny- en kookprosesse wat dit transformeer tot “spys”, roep in “Pleroma” (bl. 98) inderdaad die volheid van die Al op.

In hierdie bundel is ’n meesterkok aan die werk. Uit ’n ryk verskeidenheid bestanddele en emosies het die digter deur sy besonder fyn waarneming en die intense maar presiese manier waarop hy skryf, ’n bundel vol ryk en subtiele geure en teksture saamgestel.

Heel besonders is die treffende herhaling van klanke en die vindingryke rymwoorde – die hele klankorkestrasie – waarmee De Lange die elegiese grondtoon van die bundel uitgewerk het.

Meer oor:  Johann De Lange  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.